Vroue in onderwys as ‘eilande van hoop’ vereer
Tydens ’n spesiale Vrouemaand-bederfdag in Pretoria, is vroulike opvoeders vereer vir hul belangrike rol in skole, gesinne en gemeenskappe. Sprekers het die krag, toewyding en uitdagings van vroue beklemtoon, asook die onmisbare bydrae wat onderwyseresse elke dag lewer.
Vroulike opvoeders is op 12 Augustus tydens die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) se Vrouemaand-bederfdag vir onderwyseresse in Pretoria vereer vir hul bydrae tot skole, gesinne en die breër gemeenskap.
Die geleentheid is by Hoërskool Oos-Moot aangebied en het gefokus op die belangrike rol wat vroue in die onderwys en in die samelewing speel.
Susan Theron, skoolhoof van Hoërskool Oos-Moot, het tydens die geleentheid oor genade en die ware betekenis van ’n sterk vrou gepraat. Volgens haar het ’n sterk vrou nie noodwendig nooit hulp nodig nie. “Sy het wel baie genade nodig!”

Theron het die beeld van kosmosblomme gebruik om haar boodskap oor genade te verduidelik. Sy het gesê kosmosplante met hul pienk en wit blomme is veldplante wat ’n mens nie self saai of plant nie, maar wat jy soms onverwags en skielik langs die pad sien. “Só werk genade ook,” het Theron gesê. “Dit kom meestal onverwags in jou lewe.”
Adele van der Merwe, voorsitter van die Gautengstreek van die SAOU, het die uitdagings wat onderwysers tans in die gesig staar, uitgelig.
“Onderwys is ’n uitdagende beroep tans,” het sy gesê en verwys na die verskille tussen die onderwys van vandag en die tyd toe sy die beroep betree het.
Sy het ook gesê daar is oor die jare heen groot ongelykhede tussen mans en vroue in die onderwys deur vakbonde se werk uitgewis.
Van der Merwe het gevra hoe die onderwys daar sou uitsien indien vroue daaruit verwyder sou word.
Sy het beklemtoon dat die werk wat alle onderwysers doen, belangrik is vir gemeenskappe en die samelewing.

Volgens haar word die toewyding van onderwysers ook deur mense buite die onderwys raakgesien.
Sy het vertel van ’n groot opleidingsmaatskappy wat onlangs kursusse vir onderwysers aangebied het en nie uitgepraat kon raak oor die vlak van toewyding onder opvoeders nie.
Die maatskappy het onderwysers volgens haar as ‘eilande van hoop’ beskryf.
Van der Merwe het gesê die SAOU se ondersteunende rol word daarom besonder waardeer deur lede, veral omdat onderwysdepartemente volgens haar dikwels nie meer die nodige ondersteuning bied nie.

TV-aanbieder en akteur Hannes van Wyk het tydens die geleentheid oor die belangrike rol van vroue in sy lewe gesels.
Hy het spesifiek oor sy ma, haar liefdevolle en veelsydige aard en die invloed wat sy op hom gehad het, gepraat.
Van Wyk het vertel hoe hy as kind in Aliwal-Noord grootgeword het met ma, Mariet, wat vir meer as vier dekades as ’n skoolsekretaresse gewerk het.
Haar loopbaan het volgens hom bygedra tot die respek wat hy vir onderwysers ontwikkel het.
Hy het vroue as die sterker geslag en die gom wat gesinne bymekaar hou, beskryf.
“Vrouens doen ’n dagwerk, kom by die huis en versorg gesinne en doen nog huiswerk saam met die kinders. Ek het geen idee hoe hulle dit regkry nie,” het Van Wyk gesê.

Hy het ook vanuit ’n kind se oogpunt oor die belangrikheid van ’n ma gepraat.
Volgens hom voel kinders ’n ma mag nooit weggaan nie. Hy het verder gesê ma’s is soms die beste aktrises op aarde. “Hulle moet wees want hulle moet soms hul lag kan wegsteek!”
Hy het verskeie skrywers, onder andere Jennifer Joseph en Nataniël, aangehaal en ook oor sy eie ma se gesegdes gepraat. Sy is op die ouderdom van 88 oorlede.
Van Wyk het vroue en ma’s aangemoedig om op te hou om hulself te blameer wanneer dinge verkeerd loop.
“Bedaar. Ontspan. Laat los. Laat God oorneem,” het hy gesê.
Hy het vroue ook aangemoedig om tyd vir hulself te maak en erkenning gegee aan die harde werk en vele verantwoordelikhede wat met vrouwees gepaardgaan.
Die Vrouemaand-bederfdag het uiteindelik gedien as ’n geleentheid om vroulike opvoeders te waardeer en te herinner aan die belangrike rol wat hulle in skole, gesinne, gemeenskappe en die samelewing vervul.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
