Local elections newsNews

Verkiesing 2026: Straatligte, waterlekke en slaggate die brandpunte

Die kwessie van instandhouding in die Moot van die metro se infrastruktuur strek vir die inwoners verder as enkele herstelwerk. Vir inwoners is die brndende vraag ná die verkiesing of die metro probleme betyds kan identifiseer, herstelwerk kan uitvoer en verantwoordelikheid kan aanvaar wanneer dienste nie gelewer word nie.

Inwoners van die Moot wil hê die nuwe politieke prioriteite moet ná die verkiesing terugkeer na basiese dienslewering.

Betroubare krag- en watervoorsiening, werkende straatligte, die herstel van waterlekkasies, herstel van slaggate en beter instandhouding van die kragnetwerk word as dringende prioriteite uitgelig.

Vir inwoners en sake-eienaars in gebiede soos Waverley, Gezina, Rietfontein, Deerness, Riviera en Villieria gaan die probleme nie bloot oor ongemak nie.

Kragonderbrekings, waterlekkasies, donker strate, slaggate en verouderde infrastruktuur beïnvloed veiligheid, sakebedrywighede in hul die daaglikse lewe.

Sakeman Marius Adams sê betroubare elektrisiteitsvoorsiening, deurlopende watervoorsiening en behoorlike instandhouding van munisipale infrastruktuur, is die drie sake wat hy die graagste aangespreek wil sien.

“Dit voel dikwels of ’n reënbui of ’n fout iewers op die netwerk buite die Moot weer tot ’n onderbreking lei,” sê Adams.

Die Moot Projek se geskiedenis wys hoe inwoners reeds self ingryp wanneer openbare areas verwaarloos word. Hennie Mostert en Johan Oberholster het die projek ‘n paar jaar gelede begin, waarna inwoners en ander rolspelers betrokke geraak het by die skoonmaak, herstel en opknapping van dele van die Moot. Foto: Facebook/Die Moot Projek

Volgens hom is die gevolge vir inwoners ontwrigtend, terwyl ondernemings tyd en inkomste verloor wanneer dienste nie beskikbaar is nie.

Adams sê die stadsraad moet instandhouding vooruit beplan, foute vinniger herstel en inwoners duidelik inlig oor wat verkeerd is en wanneer ’n diens herstel sal word.

“Uiteindelik kom dit op verantwoordbaarheid neer,” sê hy. “Dit is wat mense as maatstaf moet gebruik wanneer hulle stem.”

Hy voer aan dat bekwame mense as amptenare aangestel moet word deur die nuwe stadsraad, belastingbetalerfondse gebruik moet word soos begroot en amptenare aan hul werksverrigting gemeet moet word.

“Ons vra nie luukshede nie. Ons vra dat basiese dienste werk,” sê Adams.

Vir Hennie Mostert, sakeman en medestigter van Die Moot Projek, is daar min verskil in dienslewering tussen die vorige en huidige bedeling.

Die Moot Projek werk sedert 2022 saam met inwoners en ander rolspelers aan die verbetering van openbare ruimtes en munisipale infrastruktuur.

Mostert sê inwoners en die projek kry steeds talle versoeke om hulp waar die plaaslike owerheid eintlik verantwoordelikheid moet neem, terwyl probleme ook met straatligte en ander infrastruktuur voortduur.

Volgens hom word inwoners dikwels met verskonings gekonfronteer deur die metro wanneer hulle vir hulp vra. “Dit is iets wat met leierskap moet verander.”

Straatligte is ook ’n veiligheidskwessie vir talle inwoners van die Moot.

Susan Andrews van die Villieria Gemeenskappolisiëringsforum sê donker strate skep wegkruipplekke vir misdadigers en verhoog inwoners se kommer oor veiligheid.

Sy identifiseer verder slaggate as ’n groot probleem omdat dit ongelukke kan veroorsaak en tot beserings van voetgangers kan lei.

Waterlekkasies wat vir dae voortduur, is volgens haar nog ’n bron van frustrasie vir talle Moot-inwoners. “Suid-Afrika se waterprobleme nie geïgnoreer kan word nie en Pretoria dra hiertoe by as ons nie aksie neem nie.”

Sy sê inwoners moet waterdiefstal en lekkasies rapporteer. Diefstal van elektrisiteitskabels is volgens haar steeds ’n ernstige probleem.

Kabeldiefstal word ook deur Mari Joubert, VF Plus-proporsionele raadslid, as ’n belangrike oorsaak van kragonderbrekings uitgelig.

Joubert sê vinniger reaksietye wanneer foutiewe kabels en transformators breek, beter beveiliging van substasies en nouer samewerking tussen die metropolisie, buurtwagte en gemeenskapspolisiëringsforums kan help om herhalende probleme aan te spreek.

Waterinfrastruktuur is volgens haar eweneens ’n langtermynkwessie. Ouer woonbuurte het verouderde pypnetwerke wat volgens haar eerder deur beplande vervanging as voortdurende noodherstelwerk aangespreek moet word.

“Raadslede kan deur formele navrae druk plaas op die metro oor begrotings, herstelwerk en die tydraamwerke vir spesifieke infrastruktuurprojekte en moet dit doen,” glo Joubert.

Meer tegniese spanne en voertuie vir die gebied word ook as ’n moontlike manier deur haar genoem om wagtye vir herstelwerk te verkort.

Kobus Scheltema, DA-kandidaat vir Wyk 53, fokus sterk op straatligte as ‘n verkiesingskwessie.

Hy sê herstelwerk het die afgelope jaar in dele van Les Marais, Riviera en Rietfontein plaasgevind, maar dat groot dele van Rietfontein steeds sonder voldoende straatbeligting is.

Volgens Scheltema is 33 straatligte in Rietfontein onlangs herstel, onder meer in Paulsenstraat en rondom Magalieskool, asook in ’n blok wat 10de-, 11de-, 19de- en Jacobsstraat insluit. Hy sê die fokus moet voortgaan op strate waar swak beligting tot verkeers- en veiligheidsrisiko’s bydra.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button