Aanlyn dobbel nou 'n casino in jou sak
Suid-Afrika se aanlyn dobbelbedryf het tussen 2021 en 2025 met 390% gegroei, terwyl huishoudings miljarde rande verwed. Solidariteit waarsku oor finansiële verliese, roekelose skuld, selfdoodrisiko’s en advertensies wat kwesbare verbruikers bereik.

Die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) waarsku dat die groeiende toeganklikheid van aanlyn dobbel, aggressiewe bemarking en onvoldoende toepassing van bestaande wetgewing ernstige gevolge vir individue, gesinne en gemeenskappe inhou.
Volgens die SNI se verslag is sowat R1.5 biljoen in die 2024/25-boekjaar in die totale dobbelbedryf verwed, waarvan byna driekwart aanlyn was.
Hoewel dié bedrag volgens die verslag herhaalde weddenskappe met dieselfde geld insluit, het dobbeloperateurs ná uitbetaling van winste steeds R74.5 miljard in bruto dobbelinkomste oorgehou.
Theuns du Buisson, ekonomiese navorser by die SNI en opsteller van die verslag, sê die omvang van die bedryf moet teen die finansiële omstandighede van gewone Suid-Afrikaners beoordeel word.

Suid-Afrika se aanlyn dobbelbedryf het tussen 2021 en 2025 met 390% gegroei, terwyl huishoudings miljarde rande verwed.
“Die dobbelbedryf wen al die pad, ten koste van Suid-Afrikaanse gesinne. Dit is die werklikheid wat hierdie verslag blootlê en waarvoor ons dadelik antwoorde moet kry,” sê Du Buisson.
Hy wys op die rol wat advertensies en die toenemende beskikbaarheid van dobbelplatforms op selfone in die groei van die bedryf speel.
Aanlyn dobbelbemarking verskyn volgens hom op groot advertensieborde by lughawens, naby skole en by ingange na informele nedersettings. Advertensies word ook tydens groot sportgeleenthede op TV uitgesaai en onderbreek sepies.
Du Buisson sê die omvang van hierdie bemarking wek kommer omdat dit dobbel as ’n alledaagse aktiwiteit en moontlike bron van ekstra inkomste kan voorstel.
“Die casino is nie meer êrens in ’n gebou waarheen jy moet ry nie; dit is in jou sak. Jy kan enige tyd, enige plek en met enkele drukke op jou selfoon geld verwed,” sê hy.
Volgens Du Buisson word die bestaande verbod op vorme van onwettige aanlyn dobbel soos casino-stylspeletjies, nie voldoende toegepas om te verseker dat oortreders aanspreeklik gehou word nie.
Die toename in aanlyn dobbel, glo hy, wek ook kommer oor geld wat deur dobbel na ondernemings buite die land vloei.
Die verslag meld dat Suid-Afrikaanse huishoudings in 2023 R191.4 miljard aan dobbel bestee het.
Die verslag verwys ook na internasionale navorsing wat aandui dat aanlyn dobbel met ’n twee- tot vier keer groter waarskynlikheid van probleemdobbel verbind word as ander vorme van dobbel.

Nicolien Welthagen, senior navorsingsielkundige by die SNI, vestig die aandag op die sielkundige skade wat met probleemdobbel gepaardgaan.
Sy sê die beloningstelsel van die brein speel ’n belangrike rol in die manier waarop mense na dobbel terugkeer, selfs wanneer hulle reeds geld verloor het.
Die verwagting dat ’n volgende weddenskap ’n wen kan oplewer, kan volgens haar die gedrag versterk.
“Die onvoorspelbaarheid van moontlike winste maak dit moeilik vir sommige mense om op te hou, terwyl gewone alledaagse aktiwiteite mettertyd minder bevredigend kan voel,” verduidelik sy.
Welthagen waarsku ook oor die geestesgesondheidsgevolge wat mense met ernstige dobbelprobleme ervaar.
Volgens die syfers wat sy aanhaal, het 31% van mense wat die dobbelhulplyn geskakel het, al selfdoodgedagtes gehad, terwyl 13% al ’n poging aangewend het om hul lewe te neem.
Sy wys terselfdertyd bekommerd oor die toename in aanlyn dobbel onder jong volwassenes, veral mense tussen 18 en 35 jaar. Tegnologie wat deur platforms gebruik word, kan volgens haar die gebruiker se betrokkenheid verleng en herhaalde deelname aanmoedig.

Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, sê die gevolge van dobbelprobleme strek dikwels veel verder as die persoon wat die weddenskappe plaas.
“Wanneer geld wat vir kos, skoolgeld, huur of elektrisiteit bedoel is, weggedobbel word, is dit nie net die persoon wat die weddenskap geplaas het wat verloor nie,” sê Noëth. “Dit raak ook die kinders wat sonder noodsaaklikhede moet klaarkom en die gesin wat die finansiële en emosionele skade moet probeer herstel. Dit raak huwelike, kinders, gesinsverhoudings en uiteindelik hele gemeenskappe.”
Noëth beskryf dobbel as ’n bedreiging vir die stabiliteit van gemeenskappe, veral waar huishoudings reeds beperkte finansiële hulpbronne het. “Wanneer noodsaaklike huishoudelike uitgawes deur dobbelverliese geraak word, kan die gevolge onder meer skuld, spanning binne gesinne en ’n groter behoefte aan maatskaplike ondersteuning insluit.
“Dobbel tref die kwesbares soos ’n storm en laat gesinne verbrokkel,” voeg hy by.
Solidariteit en Solidariteit Helpende Hand vra vir strenger regulering van aanlyn dobbel en die bemarking daarvan. Die organisasies wil hê dat bestaande wetgewing doeltreffender toegepas word en dat nuwe wetgewing ontwikkel word om tred te hou met tegnologiese veranderinge.
Die organisasies vra ook dat dobbeladvertensies strenger beperk word, veral waar sporthelde gebruik word om platforms te bemark. Volgens Noëth moet kinders en ander kwesbare groepe teen sulke bemarking beskerm word.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
