Spelwoorde laat 30 leerders kopkrap by Unisa-finaal
Vir die deelnemers was die finaal van die Afrispel-kompetisie veel meer as ’n speltoets. Dit was ’n geleentheid om hul kennis en selfvertroue te toets. En vir almal wat ná die aand weer ’n woord soos aarbeikonfyt raakgesien het, was daar waarskynlik net een verstandige plan: spel dit stadig, letter vir letter.
Dertig laerskoolleerders het op 9 Oktober by Unisa in die Afrispel-kompetisie se eindronde gewys dat Afrikaanse spelling ’n mens behoorlik op jou tone kan hou.
Woorde soos aarbeikonfyt, fasiliteit, onberispelik en noedels het deelnemers laat nadink, terwyl onderwysers in die gehoor hul duime styf vasgehou het dat leerders die voorgeskrewe lyste goed ingestudeer het.
Die kompetisie het leerders van laerskole in Pretoria-oos, die Moot en Centurion byeengebring. Die uitdunrondes het reeds in April begin, met streng spelreëls wat die deelnemers moes bemeester voordat hulle hul plek in die finaal kon verseker.
Die uiteindelike wenner was Ciara Kryshaar van Laerskool Elarduspark. Cari Durow van Laerskool Garsfontein het die tweede plek behaal, terwyl Veandri Sinden van Laerskool Swartkop in Centurion derde geëindig het. Laerskool Elarduspark het met die algemene trofee weggestap.
Die organiseerder, dr. Theo Rodrigues van Unisa se Departement Afrikaans en Algemene Literatuurteorie, het die deelnemers deur verskeie uitdagende rondes sien vorder.
Volgens Rodrigues se verduideliking aan die gespanne deelnemers vooraf, is daar nie verkeerde spelling nie, net ‘minder regte spelling’.
“Julle moet ontspan en kophou. Neem dit letter vir letter,” was sy raad aan die deelnemers
Die deelnemers kon ook klank en talle het maklik van ’n ‘vissie-v’ en ’n ‘kierietjies-f’ gepraat.
Hierdie gerustelling het die 30 deelnemers op die verhoog voor ’n aanmoedigende en bemoedigende gehoor van sowat 100 meer op hul gemak geplaas.

Die finale rondes het vereis dat die deelnemers nie net die woorde ken nie, maar ook die klanke duidelik onderskei.
Die uitspraak van die ‘i’ en die ‘u’ tydens die optrede van deelnemers het besondere aandag geniet sodat daar geen verwarring is en dalk ’n moontlike verbeurde kans nie. Die ‘i’ moes hoog uitgespreek word, terwyl die ‘u’ se klank veel laer uitgespreek moes word.
Vir die deelnemers het dit tot ’n paar vermaaklike oomblikke gelei want selfs ’n eenvoudige woord kan skielik ingewikkeld raak wanneer elke klank onder die vergrootglas beland.
Dertig kandidate het aanvanklik op die verhoog verskyn. In die uitvalrondes het elkeen na vore gekom om woorde te spel, beginnende met tweelettergrepige woorde en daarna moeiliker woorde met drie en vier lettergrepe.
Met elke ronde het die groep kleiner geword totdat net drie deelnemers oorgebly het.

Hulle moes daarna dieselfde woorde spel, voordat die onvoorbereide spelronde die finale toets gebied het.
Deelnemers het gou besef in so ’n kompetisie is dit nie genoeg om selfversekerd te lyk nie; die woord moet letter vir letter korrek uit die mond kom en die prosedure tydens optrede moet streng nagekom word.
Die beoordelaars, dr. Marlize Leyden, dr. Fiona Ferris en dr. Theo Rodrigues, almal verbonde aan die departement, het met behulp van ’n moderator en die spelreëls van die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal toegesien dat alles volgens voorskrif verloop.
Ouers en onderwysers moes intussen ook volgens die reëls optree, want enige wenke uit die gehoor was nie toelaatbaar nie.
Wanneer die spanning hoog geloop het, was ’n paar trooswoorde soms nodig. Trane het hier en daar gedreig, maar die beoordelaars het deelnemers aangemoedig en getroos. Die onderwysers en ouers se ondersteuning was duidelik sigbaar vir diegene wat mettertyd uitgeval het.
Elke deelnemer het ’n sertifikaat en medalje ontvang. Die wenner het ’n kontantprys van R500 gewen, met R300 vir die tweede plek en R200 vir die derde plek. Laerskool Elarduspark het ook die wisseltrofee en ’n kontantbedrag van R10 000 ontvang. Die geld kan vir die bevordering van geletterdheid by die skool aangewend word.
Efficient Wealth het die kompetisie geborg. Willem Basson van die maatskappy het die pryse oorhandig en gesê dit is vir die onderneming ’n voorreg om reeds vir talle jare die onderwys en die bevordering van Afrikaans te ondersteun.
Basson het ook sy trots uitgespreek oor die maatskappy se betrokkenheid by die kompetisie.
Die deelnemende skole was laerskole Fred Magardie, Garsfontein, Lynnwood, Nantes, PS Fourie, Pretoria-Oos, Constantia Park, Anton van Wouw, Elarduspark en Swartkop.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
