Cheralee: Gebore vir die verhoog
Die sanger, liedjieskrywer, musikant en sakevrou van Centurion het oor die jare verskillende fasette van haar loopbaan ontwikkel en bewys dat haar dinamiese en energieke persoonlikheid op meer as een terrein uitgeleef kan word.
Cheralee Lubbe is veel meer as ’n dinamiese en gewilde sanger met talle bewonderaars en liedjies wat jou voete laat jeuk om op die dansvloer te kom.
Dié innemende Centurion entrepreneur, liedjieskrywer, musikant en ma, bou ook verbeeldingryk aan ’n suksesvolle loopbaan in die sakewêreld.
Met haar nuwe Afrikaanse enkelsnit, Ons Dansvloer, begin ’n opwindende nuwe hoofstuk nou ook in haar sangloopbaan.
Vir Lubbe beteken ’n vervullende lewe ’n kombinasie van musiek maak en koestertyd saam met haar geliefdes.
Die skryf van musiek is vir haar ’n proses waarin persoonlike ervarings ’n belangrike rol speel.
Haar jongste Afrikaanse enkelsnit, Ons Dansvloer, is juis uit ’n betekenisvolle lewensoomblik gebore.
“Die inspirasie rondom Ons Dansvloer kom uit een van my lewe se skaars oomblikke wanneer die wêreld stil raak en dit voel asof tyd vir ’n oomblik stilstaan,” vertel sy.
Sy wou ’n spesifieke gevoel met hierdie liedjie vasvang en die emosies uitbeeld van twee mense wat ten spyte van die alledaagse rotresies, vir mekaar tyd inruim.
“Die liedjie vier hoe dit voel om ten volle teenwoordig te wees by die persoon met wie jy jou lewe deel. “Die ritme van die lewe kan soms so oorweldigend raak, en ek het besef ons het almal ruimte nodig om ons eie stukkie dansvloer te skep, waar ons net kan asemhaal, lag en onsself kan oorgee aan musiek en mekaar.”
Sy hoop dat die liedjie luisteraars sal herinner om die mooi oomblikke saam met hul geliefdes te waardeer. “Die lewe is te kort om nie liefde en goeie tye te vier nie!”
Ná ’n tydperk waarin sy meer introspektiewe temas verken het, bring die nuwe liedjie ’n meer uitbundige klank na Cherelee se musiek.
“Ons dansvloer bring ’n vars energie na vore. Dit leun sterk op ’n moderne country-rock-klank met ’n lekker ritmiese klank. Dit wil jou dadelik laat beweeg.”

Lubbe se liefde vir akoestiese kitaarklanke met ’n stewige ritmeseksie kom duidelik in die liedjie na vore.
Die vervaardiger Arrie Opperman, het gehelp om die produksie van die liedjie af te rond. “Dit was ’n ongelooflik lekker reis om die liedjie op te neem. Elke instrument is gebruik om ’n country-rock-lied met ’n aansteeklike dansritme te maak.”
Die koorgedeelte is vir haar een van die besonderse dele van die liedjie. Sy geniet veral die oomblik wanneer al die instrumente saamspeel.
Die uitreiking daarvan is ook vir haar ’n persoonlike mylpaal, aangesien dit haar eerste Afrikaanse enkelsnit in drie jaar is.
Sy hoop die liedjie sal by luisteraars aanklank vind en deel word van hul spesiale geleenthede. Troues, dansgeleenthede, kuier om die braaivleisvuur en lewendige optredes is oral plekke waar sy graag die snit sou wou hoor.
“Daar is vir my niks lekkerder as om te dans, musiek te maak en tyd saam met my geliefdes te spandeer nie.”
Sy voel met die bekendstelling van die amptelike musiekvideo vir Ons Dansvloer is die volgende fase van haar Afrikaanse musiekreis nou onderweg. “Ek hoop Ons Dansvloer kan tot ’n volwaardige Afrikaanse album lei.”
Haar liefde vir musiek het reeds op ’n jong ouderdom ontwikkel. Sy was maar 11 jaar oud toe sy begin sing het. Eers was die vertolking en maak van musiek net ’n belangstelling maar met verloop van tyd het die voorkeurstokperdjie in ’n volwaardige musiekloopbaan ontwikkel.
Sy het begin om haarself as musikant en liedjieskrywer te vestig en onder meer as hoofsanger vir groepe soos Failsafe, Spitfire en Guess Who Band opgetree.
Hierdie ervaring het haar die geleentheid gebied om op verskillende verhoë op te tree en haar eie identiteit as musikant te ontwikkel.
Haar kenmerkende klank is ¹n mengsel van musiekstyle soos country, pop, blues en rock, met Afrikaanse en Engelse musiek – elk het ’n besonderse plek in haar repertoire.
In 2022 het Cheralee haar debuut-Afrikaanse album, Plekkie onder die son, uitgereik. Die album bevat onder meer die liedjies As môre kom en Groei.
Die uitreiking daarvan was ’n belangrike mylpaal in haar Afrikaanse musiekloopbaan. Sy voel die verskyning daarvan het haar vermoë om persoonlike ervarings in liedjies te verwerk, verder ontwikkel.

Haar Engelse musiek het weer ’n sterk kontemporêre rock-inslag. Dit is onder meer te hoor op haar enkelsnit Elements, wat in 2024 uitgereik is.
Haar samewerking met veelsydige musikant en deelnemer aan South African Idols, Daniel Baron, op die liedjie Out of My Hands het internasionale erkenning ontvang toe die snit die halfeindronde van die Internasionale Liedjieskryfkompetisie in Nashville gehaal het.
Nou tel die hede egter vir Lubbe en bou sy op wat sy reeds bereik het.
“Aanhangers gaan ’n meer vrygees- en sonnige kant van my musiek sien. Die gees van iemand wat nie bang is om die opgewondenheid van die lewe en die plesier van ’n lekker kuier te omhels nie, met die egtheid waaraan hulle gewoond is.”
– Kliek hier om na Cheralee te luister:
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
