ANC-DA-gesprekke sonder deurbraak terwyl koalisiestryd verskerp
Die eerste ernstige koalisiegesprekke tussen die ANC en DA het Sondag sonder ’n deurbraak geëindig. Terwyl Herman Mashaba ActionSA se onafhanklikheid verdedig, stel die DA sy bestuursvoorstelle bekend en waarsku die VF Plus teen ANC-vennootskappe.
Die ANC en die DA het Sondag, 15 November, hul eerste ernstige koalisiegesprekke gevoer sonder om ’n ooreenkoms te bereik, terwyl die politieke stryd om beheer oor Johannesburg, Tshwane en ander groot metro’s verskerp.
Die gesprekke, wat plaasgevind het te midde van voortgesette onderhandelinge ná die munisipale verkiesing van 4 November, het geëindig sonder formele besluite of bindende reëlings.
Hoewel verdere gesprekke verwag word, bemoeilik interne weerstand binne die ANC teen samewerking met die DA die vooruitsigte van ’n groter politieke ooreenkoms.
Die DA het voorgestel dat hy die leiding neem in koalisieregerings in belangrike Gauteng-metro’s, waaronder Johannesburg en Tshwane, as deel van ’n breër politieke reëling waarin die ANC elders die leiding kan behou. Die ANC het egter nie tydens Sondag se gesprek ’n teenvoorstel op die tafel geplaas nie.
Die ANC het ’n moratorium op verdere besonderhede oor die koalisieonderhandelinge ingestel en aangedui dat hy Dinsdagoggend, 17 November, verdere terugvoer oor sy onderhandelinge sal gee.
Die moratorium beteken volgens die ANC nie dat alle openbare kommunikasie of onderhandelings opgeskort is nie, maar beperk die bekendmaking van besonderhede oor die onderhandelingsproses.
Teen hierdie agtergrond het die DA sy eie onderhandelingsbenadering bekend gemaak deur ’n dokument oor beginsels en programme vir koalisieregerings te publiseer.
Die dokument, getiteld Principles and Programmes for Coalition Governments, stel die party se kernbeginsels en beleidsprioriteite vir samewerking met ander politieke partye uiteen.
Die DA beklemtoon egter dat die dokument nie ’n bindende koalisie-ooreenkoms of konsepraamwerkooreenkoms is nie, maar bloot ’n grondslag vir gesprekke met moontlike vennote ná die verkiesing.
In sy verklaring het partyleier Geordin Hill-Lewis gesê die voorstelle word aangebied met die doel om dorpe en stede weer behoorlik te laat funksioneer en inwoners se lewensomstandighede te verbeter. “Ernstige onderhandelinge vereis dat partye met respek en in goeie trou gesprek voer.”
Hy sê die publiek het die reg om te weet waarvoor die party in koalisiegesprekke staan en watter verbintenisse hy van toekomstige stadsbesture verwag, maar het geen verwysing na enige spesifieke gesprekke gemaak nie.
Hy het verduidelik waar die DA koalisie-ooreenkomste landwyd met ander partye sluit, sal die wedersydse verbintenisse volgens die verklaring in ondertekende ooreenkomste vervat word wat gepubliseer sal word sodat inwoners die partye aanspreeklik kan hou.
Die voorgestelde beginsels sluit ’n geen-verdraagsaamheidsbenadering teen korrupsie, merietegebaseerde aanstellings, ’n duidelike skeiding tussen party en staat, finansiële verantwoordbaarheid en deursigtigheid in.
Op diensleweringsvlak prioritiseer die DA betroubare water- en elektrisiteitsvoorsiening, infrastruktuurinstandhouding, veiligheid, behuising en ekonomiese groei.
Die party sê hy sal nie lopende koalisieonderhandelinge deur die media of sosiale media bespreek nie, maar wel deursigtig wees oor sy algemene benadering en die besluite wat uiteindelik geneem word.

Geen aankondiging is rondom metro’s soos Tshwane deur hom gemaak nie.
ActionSA-leier Herman Mashaba het intussen sterk standpunt ingeneem oor sy party se onafhanklikheid en die druk wat volgens hom op die organisasie geplaas word om bepaalde koalisievennote te kies.
In ’n verklaring op 14 November het Mashaba gewaarsku dat ActionSA nie deur ander politieke partye of kommentators voorgeskryf sal word oor sy koalisiebesluite nie.
“ActionSA is ’n onafhanklike politieke party. Ons is nie ’n verlengstuk van die DA, die ANC, die EFF of enige ander politieke organisasie nie,” het hy gesê.
Mashaba het aangevoer dat sy party se besluite op die belange van sy kiesers en die behoeftes van gewone Suid-Afrikaners gegrond moet wees, eerder as op die politieke verwagtinge van ander partye.
Hy het verder verwys na die DA se besluit om ná die 2024-verkiesing met die ANC te onderhandel en uiteindelik by die Regering van Nasionale Eenheid aan te sluit.
“Waarom is politieke pragmatisme aanvaarbaar wanneer die DA dit toepas, maar skielik onaanvaarbaar wanneer ActionSA ’n onafhanklike besluit neem?” het Mashaba gevra.
Hy het Tshwane as voorbeeld aangehaal waar ActionSA se burgemeester, dr. Nasiphi Moya, in Oktober 2024 deur ’n veelpartykoalisie met onder meer die ANC en EFF verkies is.
Volgens Mashaba toon die stad se finansiële vordering dat samewerking tussen partye met uiteenlopende politieke standpunte praktiese resultate kan oplewer.
Mashaba het ook aangedui ActionSA is naby daaraan om ‘n ooreenkoms met ANC in die Gauteng metro’s te bereik.
Die landwye koalisiegesprekke tussen talle partye het reeds op Donderdag, 12 November momentum gekry toe Hill-Lewis en Mashaba ontmoet het. Die gesprek is as konstruktief beskryf, hoewel ActionSA sy besware teen die DA se voorgestelde burgemeesterskandidate vir Johannesburg en Tshwane, Helen Zille en Cilliers Brink, gehandhaaf het.
Die ANC het Vrydag, 13 November, ook met die EFF vergader. Die gesprekke het onder meer gefokus op die samestelling van stadsrade en die voortsetting van munisipale administrasie. Verdere gesprekke is ooreengekom.
Saterdag het die ANC afsonderlik met ActionSA, Build One South Africa (BOSA), die MK-party en die IVP vergader. Die DA het ook met die MK-party onderhandel, terwyl die IVP afsonderlike gesprekke met verskeie partye gevoer het, waaronder die ANC, DA, EFF, ActionSA en die VF Plus.
Die VF Plus het intussen sy voorkeur duidelik gemaak. Die party se leier, dr. Corné Mulder, het gesê die VF Plus wil nie deel wees van ‘n koalisie wat die ANC weer toegang tot munisipale regerings gee nie.
Die party verkies eerder koalisies waarin die ANC uit die betrokke stadsrade gehou word, veral in Gauteng. Mulder het aangedui dat die VF Plus ten gunste is van samewerking tussen die DA, ActionSA en die VF Plus in Johannesburg en Tshwane.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
