Local newsNews

Gesneuweldes gedenk op Herinneringsdag

Die veterane-gemeenskap het op twee geleenthede in November bymekaargekom om Herinneringsdag te vier.

Die veterane-gemeenskap het tydens twee Herinneringsdaggeleenthede saamgestaan om hulde te bring aan almal wat hul lewens in oorloë en konflikte verloor het. ’n Formele parade en kranslegging tot ’n motorfietsrit, duiwe en ’n besondere viervoetige deelnemer het die dag ’n spesiale aanslag gegee.

Die herdenkingsprogram het onder meer uit ’n tradisionele parade in Eloffsdal en die jaarlikse Papawer-motorfietsrit vanaf Johannesburg na Brakpan bestaan, waartydens motorfietsryers en veterane uit verskillende dele van Gauteng en Mpumalanga saamgekom het.

Die Herinneringsdagparade in Eloffsdal in die Moot is deur Gerrit Oosthuizen gereël, wat dit vanjaar vir die tweede keer aangebied het.

Andre Joubert salueer die Herdenkingsdagkrans wat hy namens veterane in Eloffsdal neergeplaas het. Foto: Elize Parker

Herinneringsdag het sy oorsprong in die einde van die Eerste Wêreldoorlog. Die wapenstilstand het op 11 November 1918 om 11:00 in werking getree en die gevegte beëindig. Die eerste amptelike parade in Londen is op 11 November 1919 gehou.

Koning George V het die herdenkingstradisie bevorder, waarna Armistice Day gevestig is. Ná die Tweede Wêreldoorlog is die herdenking uitgebrei om ook diegene te vereer wat in latere oorloë, konflikte en vredesoperasies gesterf of gedien het. Die naam Remembrance Day het in 1945 in die Statebondslande die gebruik geword.

Tydens die Eloffsdal-parade by die Sound Memory Cottages, is die ontstaan en betekenis van die herdenking verduidelik. Die deelnemers het op aandag gestaan en gesalueer terwyl die vlae halfmas gehys is.

Daarna het ds. Christo Pretorius die voorlesing waargeneem, gevolg deur twee minute se stilte ter nagedagtenis aan die gesneuweldes.

Gedigte soos Forever Fallen en die bekende In Flanders Fields is voorgelees. Die speel van Reveille het deel van die seremonie gevorm. Die gewyde Memorable Order of the Tin Ha.-gebed, wat begin met die woorde “Let us remember our fallen brothers,” het ook ’n besondere plek in die program ingeneem.

Die seremonie is verder gekenmerk deur ’n kranslegging en die simboliese loslaat van duiwe deur Johan du Plessis, ’n wedvlugduifkenner van die Moot.

Vir Oosthuizen lê die betekenis van die parade veel dieper as net ’n jaarlikse byeenkoms.

Hy sê dat “tradisies en die bewaring van geskiedenis is vir my besonder belangrik,” veral omdat hy meen dat die moderne samelewing al hoe minder bewus raak van die opofferings van vorige geslagte.

Oosthuizen het gesê die positiewe terugvoer en boodskappe ná die parade was vir hom besonder bemoedigend en dat deelnemers reeds uitsien na volgende jaar se byeenkoms.

‘n Besonderse oomblik toe die Herdenkingsdagparade, gelei deur ‘n helikopter en motorfietsbrigades van Gauteng, na die paradegrond vanaf Johannesburg na Brakpan gery het. Foto: Samantha du Plessis

Die tweede geleentheid, die jaarlikse Papawer-motorfietsrit, het motorfietsryers, veterane en ondersteuners bymekaargebring.

Onder die deelnemers was lede van motorfietsklubs soos die Hells Angels van Johannesburg, die Patriots en die Airborne Riders wat voormalige Pretoria lede van die Valskermbataljon, Recce-eenhede en die polisie se taakmag insluit.

Roché Vermaak van die Moot het saam met sy Duitse herdershond, Wolfi, aan die geleentheid deelgeneem. Wolfi het ’n besondere rol vervul deur die diere te verteenwoordig wat tydens oorloë en konflikte gesterf het en ’n krans neergelê. Vermaak en Wolfi se optredes is al ’n bekende gesig by sulke veteraangeleenthede.

Vermaak het vertel dat die geleentheid jaarliks ’n spesiale plek in die harte van die deelnemers het. Die teenwoordigheid van veterane, motorfietsklubs, die militêre elemente en ’n Alouette-helikopter maak dit ’n besondere herdenking.

Verskeie veterane van Pretoria en Gauteng het ‘n Herdenkingsdagparade bygewoon. Foto: Samantha du Plessis.

Een van die hoogtepunte is wanneer die helikopter rooi papawers oor die toeskouers by die byeenkoms laat neerdaal.

Wolfi se deelname trek telkens aandag en herinner die aanwesiges aan die diere wat ook hul lewens in diens van mense en tydens oorlogsituasies verloor het.

“Toe Wolfi opgaan met sy ruiker, was talle toeskouers aangedaan. Hulle het na die tyd kom sê dit is iets wat hulle nie sal vergeet nie.”

Johan du Plessis, wedvlugduifkenner Foto: Elize Parker

– Kliek hier om te sien hoe Johan du Plessis duiwe as gebaar van vrede losgelaat het.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button