Boekwinkeleienares is van kleins af met haar neus tussen boeke
Van 'n kind wat ure in die Standerton-biblioteek deurgebring het tot die eienaar van Graffiti Boeke: Leonie van Rensburg se pad in die boekbedryf strek oor meer as vier dekades, met Afrikaans en boekbevordering haar prioriteit.
Vir sommige mense is boeke bloot iets om te lees. Vir Leonie van Rensburg het die wêreld van boeke van kleins af ’n tuiste op sy eie geword, een waarin sy telkens iets nuuts kon leer.
Haar tuiskoms in ’n storie-tuiste het in die gange van die Standerton-biblioteek begin en mettertyd ontwikkel tot meer as ’n vier dekade lange loopbaan in die Suid-Afrikaanse boekbedryf.
Sy word nie verniet ’n legende genoem en hoog geag deur skrywers en lesers nie.
Van Rensburg is die dryfkrag agter Graffiti Boeke, die onafhanklike boekwinkel in Pretoria-Noord wat op 1 November sy 21ste bestaansjaar gevier het.
Haar liefde vir Afrikaans, skrywers en lesers het aan haar vir haar bydrae tot die bevordering van Afrikaanse boeke en die boekhandel, in 2019 ’n spesiale ATKV-Woordveertjie-toekenning besorg.
Vandag is boeke vir haar steeds veel meer as net stories tussen twee omslae.
Een persoon wat ’n besondere invloed op haar gehad het, was haar Afrikaanse onderwyseres aan Hoërskool Standerton, Elizabeth Hambidge, vandag Grebe.
“Sy het my liefde vir Afrikaans en die letterkunde aangewakker en my geleer om die rykdom van ons taal en die krag van die geskrewe woord te waardeer.”
Vir haar is lees een van die min dinge wat ’n mens terselfdertyd kan laat ontsnap én laat nadink.
Sy glo ’n boek kan ’n leser wegvoer na ’n wêreld waarvan hy of sy niks weet nie. ’n Boek kan jou ook onverwags iets oor jou eie lewe leer. Vir die mens met die goeie humorsin en dikwels onnutsige vonkel in die oog, kan ’n boek ’n leser laat lag, maar ook bloot vir ’n rukkie van die wêreld laat vergeet.
Vir haar hoef nie net een soort boek vir almal belangrik te wees nie. “Sommige mense lees vir kennis, ander vir ontspanning en sommige omdat hulle antwoorde soek. Al hierdie redes is geldig.”
Sy wonder gereeld oor hoe dieselfde boek verskillende mense op uiteenlopende wyses kan raak. Haar verduideliking is dat elke leser bring immers sy eie lewenservaring na ’n storie. “Daarom glo ek ’n boek is nooit bloot papier en ink nie. Dit is ’n ontmoeting tussen ’n skrywer en ’n leser.”
Deur die jare het die boekewêreld haar ook baie oor mense geleer. Sy voeg by dat vir haar het elke mens ’n storie, hoewel ander dikwels min besonderhede en detail daarvan weet.
“Wanneer ’n mens daagliks met skrywers, uitgewers en lesers werk, besef jy hoe verskillend mense se lewens is. Wat vir een mens onbelangrik lyk, kan vir iemand anders lewensveranderend wees.”
Die boekbedryf het haar ook geleer dat sukses nie altyd aan verkoopsyfers gemeet kan word nie. Sy moes al dikwels agter die verkoopstoonbank en rye tussen rakke hoor hoe ’n boek iemand deur ’n moeilike tyd gedra het en voel dit gee ook veel sin aan haar en haar span se harde werk.

Vir Van Rensburg is Afrikaans veel meer as net ’n taal waarin mense praat, lees of skryf. Oor meer as vier dekades het sy die groei en ontwikkeling van die Afrikaanse boekbedryf van naby beleef. Sy het nuwe skrywers sien naam maak met debuutboeke, genres sien ontwikkel en Afrikaanse boeke nuwe lesers sien bereik.
Volgens haar moet die literêre erfenis van ’n taal nie bloot bewaar word nie. Nuwe stories moet geskep en nuwe skrywers moet ondersteun word sodat daar seker gemaak word dat Afrikaans ’n taal bly waarin mense graag lees.
Dit is met hierdie ingesteldheid dat die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) en Graffiti Boeke ’n besonderse samewerkingsooreenkoms beklink het om Afrikaanse publikasies aan ’n groter leserspubliek bekend te stel.
As deel van die nuwe vennootskap sal drie FAK-publikasies waaronder twee kinderboeke Lady was daar, deur dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, voortaan by Graffiti Boeke se winkel in Pretoria asook aanlyn te koop wees.
Lady, die nuuskierige tydreisigerhondjie, neem lesers in hierdie twee kinderboeke op avonture deur verskillende tydperke en gebeurtenisse in die wêreldgeskiedenis. Kinders ontdek tussen die blaaie onder meer die wêreld van antieke Rome en ontmoet 100 invloedryke historiese figure.
Sulke aanmoediging van jong lesers is vir haar belangrik. In ’n tyd waarin kinders met talle digitale afleidings grootword, glo sy dat lees moet ’n avontuur wees.
“’n Kind moet ontdek dat ’n boek pret kan wees. Dit moet nie altyd gaan oor wat hulle daaruit leer nie, maar ook oor die plesier van ’n goeie storie.”
Sy moedig volwassenes aan om kinders self boeke te laat kies. Dit is ook belangrik dat kinders sien dat grootmense self lees.
Wanneer sy terugkyk op haar loopbaan, noem sy dit is veral die veranderinge in die boekbedryf wat haar ook as entrepreneur gevorm het. Sy het gesien hoe boekwinkels verdwyn en hoe nuwe tegnologie die boekbedryf verander.
Om ’n onafhanklike boekwinkel aan die gang te hou, verg volgens haar harde werk, moeilike besluite en soms die moed om weer van voor af te begin.
“Dit is belangrik om bereid te wees om te leer, verandering te aanvaar, foute te erken en jou sin vir humor te behou.”
Sy erken ook dat haar pad nie sonder ondersteuning moontlik sou gewees het nie.
“Maar bo alles weet ek dat ek niks hiervan sonder die genade en leiding van my Hemelse Vader sou kon bereik het nie. My familie se onvoorwaardelike liefde en ondersteuning, en my toegewyde personeel wat deur dik en dun saam met my staan, beteken vir my ongelooflik baie.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel