News

Goudsmid vind ewewig in platinum se moontlikhede

’n Besonderse platinumontwerp, ’n internasionale juwelierskompetisie en drie mense se gedeelde vakmanskap bring plaaslike Pretoria juweelontwerperstalent in die kollig. Vir Walter Pienaar van Carat Jewellers in Garsfontein is PlatAfrica 2026 veel meer as net ’n ontwerpuitdaging.

’n Juweelstuk wat uit platinum gevorm word, moet meer as net mooi wees. Só ’n kleinood moet ’n storie vertel en met fyn berekende vakmanskap ’n perfekte balans tussen vorm en funksie vind.

Met hierdie faktore in gedagte het Walter Pienaar, eienaar en ontwerper van Carat Jewellers in Garsfontein, met sy inskrywing, Huntress, die juweliersontwerperskompetisie, PlatAfrica 2026, aangepak.

Pienaar begin die ontwerp van enige besonderse stuk juwelierware lank voordat die edelmetaal en stene die eerste keer bewerk word.

Hilton Ingram en Walter Pienaar Foto: Verskaf

Dit begin vir hom met ’n idee, ’n storie en die uitdaging om iets besonders te skep wat gemaklik gedra kan word.

Hierdie ontwerpersbeginsels was juis die gedagtes waarmee hy die tema Equilibrium vertolk het. Die tema is gekies om juweelstukontwerpers uit te daag om opnuut oor balans in juweelontwerp te dink.

Vir Pienaar beteken ewewig egter veel meer as simmetrie of ’n mooi verhouding tussen vorms.

“Balans in vorm gaan vir my oor die harmonieuse verhouding tussen estetika, tegniese uitvoerbaarheid, drabaarheid en emosie.”

Met die finale ontwerp van enige stuk lê daar egter heelwat meer as net een persoon se kreatiewe visie.

Vir die span by Pretoria-oos se Carat Jewellers is die juweelstuk Huntress ’n bewys van wat moontlik is wanneer kreatiewe denke en gespesialiseerde vaardighede saamkom om ‘n unieke juweelstuk te skep. Foto:

Pienaar beklemtoon dat Huntress werklik ’n spanpoging was, waarin elkeen in die ontwerpstudio se vaardigheid ’n belangrike rol gespeel het.

Hy het die stuk ontwerp, terwyl Jan Hendrik du Plooy, die goudsmid, die juweelstuk aanmekaar gesit en voltooi het. Madre Mostert, die steensetter, was verantwoordelik vir die setwerk.

Platinum was die gekose edelmetaal vir die ontwerp aangesien dit ’n kompetisie was wat die gebruik van platinum bevorder.

Volgens Pienaar bied dit aan juweliersontwerpers besondere moontlikhede.

Die metaal se hoë digtheid, sterkte en suiwerheid maak dit volgens hom moontlik om fyn besonderhede en ingewikkelde strukture te vervaardig sonder om die sterkte van die ontwerp in te boet.

Wat Pienaar veral van platinum boei, is die manier waarop die metaal lig weerkaats.

“Daar is ’n subtiele elegansie en diepte aan die metaal wat moeilik is om te beskryf, maar onmiddellik herkenbaar is wanneer jy dit sien.”

PlatAfrica 2026 het volgens Pienaar gewys hoe die juweliersbedryf voortdurend ontwikkel. Een van die interessantste tendense met talle van die ontwerpe was die kombinasie van moderne digitale ontwerpprosesse met tradisionele goudsmidvaardighede.

Hy verduidelik gevorderde rekenaargesteunde ontwerpprogramme, bekend as CAD, stel ontwerpers in staat om ingewikkelde vorms en bewegende komponente te ontwikkel wat voorheen besonder moeilik sou wees om te vervaardig.

Hy het ook ’n groter fokus op organiese vorms, vloeiende lyne en ontwerpe met ’n dieper betekenis by die ontwerpe opgemerk.

“Daar was ’n duidelike gevoel dat ontwerpers hulself as kunstenaars sowel as vakmanne sien.”

Vir Pienaar is dit juis waar die besondere waarde van ’n juwelierskompetisie soos PlatAfrica lê.

In die gewone werksdag moet ontwerpers dikwels binne kliënte se begrotings, voorkeure en praktiese vereistes werk. ’n Kompetisie bied vir hom ruimte om buite hierdie grense te dink.

Hy glo sulke geleenthede is noodsaaklik om Suid-Afrikaanse talent verder te ontwikkel en die land se posisie as ’n internasionale sentrum vir platinumjuweliersontwerp te versterk.

Suid-Afrika beskik immers oor besondere platinumhulpbronne, maar volgens Pienaar moet die land ook bekendheid verwerf vir die kreatiwiteit en vakmanskap waarmee dié edelmetaal verwerk word.

Hy meen dat jong ontwerpers veral baat vind by blootstelling aan internasionale standaarde, nuwe tegnologie en die kommersiële werklikhede van die bedryf.

“Hoe meer geleenthede ons vir jong ontwerpers kan skep om te leer, te eksperimenteer en internasionale blootstelling te kry, hoe sterker sal die Suid-Afrikaanse juweliersbedryf in die toekoms wees.”

Nog ’n verandering wat hy in die mark opmerk, is dat verbruikers toenemend op soek is na unieke, persoonlike juweliersware eerder as massavervaardigde ontwerpe.

Hy glo plaaslike ontwerpers is uitstekend geposisioneer om aan hierdie behoefte te voldoen.

Die waarde van ’n juweelstuk lê immers nie net in die edelmetaal of edelstene nie, maar ook in die gedagte, vaardigheid en ure se werk wat daarin belê word, meen Pienaar.

“’n Werklik uitsonderlike ontwerp kombineer tegniese uitnemendheid met emosionele impak.”

Hy voeg by dat goeie vakmanskap dikwels juis die werk is wat die draer nooit raaksien nie. Agter ’n elegante juweelstuk skuil ure se beplanning en verfyning.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button