Wayne Hayden se nuwe liedjie “Die troep wat nog bly loop” maak reeds opslae
’n Liedjie wat handel oor hoe oudsoldate die lewe ervaar en sukkel om van die verlede afskeid te neem, word goed ontvang.
In die kollektiewe geheue van ’n sekere generasie manne, bly die woord Bosoorlog steeds sterk herinneringe oproep. Sommige van minder aangename aard, maar baie daarvan ook van saam swaarkry, kameraadskap en lojaliteit.
Die Troep wat bly loop is onlangs op video en stromingskanale vrygestel. Dit is geskryf deur Pretoriase liedjieskrywer Wayne Hayden om juis sekere elemente van die oorlog in herinnering te roep – en te sorg dat die geskienis nie verdwyn nie.
Hy sê die liedjie is op maande lange intensiewe navorsing gebaseer. Hy het met vele oudsoldate gesels en hul insigte ingewin.
Hayden het aan Rekord vertel dat sy ma maande gelede vir hom sy oupa se Pro Patria-medalje gebring het.
Dié medalje is aan alle range van die voormalige Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) vir diens tydens die Grensoorlog (tussen 26 Augustus 1966 en 21 Maart 1990) toegeken.
Toe hy op ’n dag weer oop die medalje afkom, het die idee by hom posgevat om te skryf oor hoe dit vir iemand moes gewees het wat daar was, wat hulle alles moes gesien het en die pyn wat daarmee gepaard gaan.
Hy sê die deurlopende boodskap oftewel ‘the golden thread’ soos hy met mense wat daar was gepraat het, was: “Dit was die beste tyd van my lewe wat ek nooit weer wil oorhê nie.” Meeste voel nie spyt nie al leef hul vandag nog met post-traumatiese stresversteuring (PTSV)saam.
Hayden sê sy liedjie en musiekvideo het al verskeie reaksies van oudsoldate ontlok.
“Die pyn lê nog vlak na al die jare. Meeste praat nie graag daaroor nie maar sê die liedjie is mooi. Party skerts en sê ‘jy’s maar ’n slordige troep’. Ander sê weer dit het hulle diep geraak. Een oudsoldaat sê ek het dit 100% reg vasgevang en dat dit die beste opsomming van hul situasie is wat hy nog ooit gehoor het.”
Michael Graskie van Alberton is een van Hayden se kontakte en maak ook sy verskyning in die musiekvideo. Hy het in 1984 en 1985 diens gedoen, en was deel van Sektor 10 Oshakati wat in 1985 aan die noordelike grens van Namibië was.
Hyself ly nie nie aan PTSV nie.
“Diensplig was fantasties.” Voor dit het het hy drie jaar gestudeer en gesukkel. “Toe ek weer terugkeer het ek al my vakke sommer in een jaar klaar gemaak. Dit het my gedrewe gemaak, ek het ’n man geword.”
Hy dink nie die jeug van vandag steur hulle veel aan die grensoorlog nie en hy het ook nie met sy kinders daaroor gepraat nie, want hy wou nie. “Ek is net nie daardie tipe mens nie.” Hy sien wel die waarde daarin vir diegene wat die grensoorlog beskou as ’n groot gebeurtenis in hul lewens.
Luister en kyk na die musiekvideo hier https://youtu.be/2YmEccKQR78?si=DvSIcw7aCLXVC7M9

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
