Skrywers op 11de gala-aand bekroon
Skrywers en digters het op 14 November in Pretoria-Noord by Ink-Skryf in Afrikaans, 'n skrywersplatform, se 11de gala-aand bymekaargekom. Die aand het erkenning gegee aan gevestigde skrywers, jong skrywers en deelnemers wie se werk in Afrikaans op die groep se webwerf en sosiale media gepubliseer word.
Pretoria-Noord was op 14 November die bymekaarkomplek vir skrywers, digters en woordliefhebbers tydens Ink-Skryf in Afrikaans-platform se elfde gala-aand.
Dié geleentheid het deelnemers aan die platform se skryfwerk en die liefde vir Afrikaans in die kollig geplaas.
Anzé Bezuidenhout, stigter van die groep, het die gaste verwelkom en haar dankbaarheid uitgespreek vir die afgelope 11 jaar waarin Ink-Skryf in Afrikaans ’n skryfplatform geskep het waar skrywers hul talent kan ontwikkel en Afrikaans gekoester word.

Sy het die Here bedank vir Sy genade, leiding en voorsiening, en ook haar man, Willie, en haar kinders vir hul ondersteuning.
Bezuidenhout het in haar toespraak gesê elke mens het ’n verhaal, en skrywers en digters het die besondere vermoë om herinneringe, gevoelens en ervarings in woorde vas te lê. “Elke skrywer se stem is uniek en dra iets van sy of haar eie belewenis tot Afrikaans by,” glo sy.
Die aand het nie net om pryse gedraai nie, maar ook om die moeite en moed wat met skryf gepaardgaan. Volgens Bezuidenhout was die beoordeling vanjaar streng en die gehalte van die inskrywings hoog.
Vir haar is die prestasie juis ook om in die platform se bloemlesings opgeneem te word en sy glo elke deelnemer aan die bundels se werk het ‘n ereplek verdien.
Sy het skrywers aangemoedig om nie iemand anders se stem na te boots nie, maar eerder hul eie manier van skryf te ontwikkel. “’n Gedig of verhaal hoef nie ’n prys te wen om ’n leser te raak, troos te bied of iemand minder alleen te laat voel nie,” het sy aangemoedig.
Die aand se uitslae het verskillende genres, ouderdomsgroepe en skryfstyle omvat.

Twee sangers, Manie Jackson en Anton Fitchat, het die gaste met Afrikaans liedjies van toeka tot nou vermaak. Seremoniemeester Hendrik du Plessis het liedjies en skryfwerk sinvol vermeng en die gehoor telkens heerlik laat skater met sy gevatte kwinkslae.
In die bronsafdeling vir gedigte het Hennie du Toit met Die nuwe begin die eerste plek behaal. Retha van Deventer het die silwerafdeling gewen met Heimat van my hart.

In die goudafdeling het Hester Steenkamp se Moedertaal die eerste plek behaal.
Christa Diederiks het die prosa-afdeling gewen met Heimwee in die donker. In die verhaalafdeling het Marlene Erasmus se Die laaste koevert die eerste plek behaal.
In die jeugkortverhaal-afdeling het Karla van Deventer die eerste plek behaal met Die geheime resep. In die jeuggedigte-afdeling het Xian van Heerden die eerste plek behaal met Die huis wat ek mis.
Andries Fourie het met Jou handetaal die eerste plek in die volwasse gedigte-afdeling behaal. In die volwasse verhaalafdeling het Marietjie Steenkamp met Tas vol verraad die eerste plek behaal.

Beskrywing: Wenners
Die publikasiepryse wat deur Groep 7 geborg is, is aan die volgende volwassenes toegeken: Cobus Kruger, Gideon van der Merwe, Elmarie Nienaber van Kampen, Ian Nel, Marietjie Jansen van Vuuren, Nicola Brown, Retha van Deventer en Nikita Cary-Smith. Die jeugontvangers van die publiasiepryse was Emma Warren en Keira Bester.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel