Local news

Danie de Jager se beelde word by Voortrekkermonument onthul

Talle beelde van Danie de Jager is aan die monument geskenk waaronder een van die mees bekende olifante ter wêreld, "maket van Shawu" wat ook nou by die monument spog.

Die Voortrekkermonument het verlede week ’n geskiedkundige oomblik gevier deurdat een van Suid-Afrika se mees bekende beeldhouers sy werk aan die publiek voorgestel het.

Talle beelde van Danie de Jager is aan die monument geskenk waaronder een van die mees bekende olifante ter wêreld, “maket van Shawu” ook nou by die monument spog.

Tydens die amptelike inhuldigingsgeleentheid, het die voormalige minister van finansies, Barend du Plessis, wat self ’n trustee van De Jager-Trust is, gesê De Jager se werk kan vir almal ’n les leer van uithouvermoë en ’n strewe na uitnemendheid.

Barend du Plessis en Cassie Aucamp.

“Vandag pryk hierdie afbeelding van Shawu, saam met ander beelde van Danie en ander kuns-ikone in ons geskiedenis, hier in die skaduwee van die Voortrekkermonument, wat die belangrikste geskiedenisbaken vir ons as die nageslag van die Voortrekkers is,” sê Du Plessis.

Bekende politikus en lid van die Zoeloe koninklike familie, Mangosuthu (Gatsha) Buthelezi, wat weens gesondheidsredes nie self die verrigtinge kon bywoon nie, noem egter dat daar baie meer aan ons geskiedenis as bloedvergieting en seer is.

“Ons waardeer die respek en erkenning wat die Zoeloe-nasie ontvang by die VTM en die weldeurdagte wyse waarop hul met ons geskiedenis omgaan veral vandag waar Shawu, die groot olifant, sy plek langs Umgungundlovu inneem.”

Barend du Plessis.

Voorsitter van die VTM-direksie, ds. Cassie Aucamp sê dit is vir die monument ’n ongelooflike eer om hierdie beelde op die terrein te kan huisves.

“Dit beteken vir ons by die VTM ontsettend baie om die beelde hier te kan hê,” sê hy.

“Bewaring is nie net om iets veilig in ’n doekie te hou en dit later net so terug te gee nie, maar om daarmee te werk en so het hierdie beelde ook in ons volksbestaan ’n plek gekry en deel geword van die storie wat ons vertel.”

Dr. Danie Langer.

Hy het verder vertel dat dit ook ’n groot eer is om die Shawu-beeld hier te kan huisves as ’n verteenwoordiging van die Zoeloe-adel en die gedeelde geskiedenis en vryheidsideaal met die Afrikanervolk.

“Ek hoop almal wat die beelde sien kan iets daaruit put en weet ons het almal ’n lewende geskiedenis wat met ander volke en kulture kan deel en vier,” het hy afgesluit.

Bhelekazi Mabandla, die prinses en diplomatieke verteenwoordiger van die AmaBhele kaJamangile Tradisionele Gemeenskap wat naby Maclear woon, het ook besoek afgelê by die VTM om dié verrigtinge by te woon.

Sy het verduidelik dat dit vir haar aangrypend was om opnuut te besef hoe Suid-Afrikaanse kulturele erfenis oor grense breek en mense weer leer hoe om saam te staan om ’n beter toekoms te bou.

“Dit is ’n absolute eer om hierdie geleentheid by te woon. Ek wil graag enigiemand aanmoedig om hier by die VTM besoek te kom aflê om die beelde te beskou, om meer van ons geskiedenis te leer en hoe om saam te werk.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button