Jacques en Liezel jaag hul drome met nuwe enkelsnit na
"Om ’n droom na te jaag wat jy nog nooit gehad het nie, moet jy iets deur geloof doen wat jy nog nooit gedoen het nie."
Suid-Afrika se geestelike duo, Jacques en Liezel, is terug met ’n splinternuwe enkelsnit wat daarop gemik is om luisteraars aan te moedig om hul drome na te jaag.
“Moving on”, wat beskryf word as ’n geestelike country-lied, is deur die twee musikante self geskryf en deur Jattie de Beer van Artistry Productions en Loki Rothman vervaardig.
“Ons het eendag tydens oefening opgewarm en rondgespeel met instrumente. Jacques het toe spontaan begin saamsing op die wysie wat ek op die klavier gespeel het en die woorde en melodie het perfek gewerk,” sê Liezel.
“Die boodskap is om alles wat jou terughou te laat gaan en in geloof jou drome na te jaag.”

Volgens die musiekpaar behoort die liedjie aanklank te vind by ’n wye gehoor, omdat almal drome het en die lirieke as inspirasie om daardie drome waar te maak, dien.
“Moving on” is die duo se vierde enkelsnit en volg in die voetspore van “Vashou”, “Uit my hande” en “Wonder van Kersfees.”
Hulle is ook vanjaar vir vyf Afri-Indie onafhanklike kunstenaartoekennings benoem, waar hul met drie weggestap het, naamlik Beste Geestelike Musiekvideo, Beste Geestelike Enkelsnit en Beste Algehele Geestelike Kunstenaar.
Sedert Jacques Schoeman en Liezel Marshall in November 2021 hul debuut in die musiekbedryf gemaak het, het hulle nog net van krag tot krag gegaan.
Hulle is tans besig om aan nuwe Afrikaanse musiek te werk.

Met “Moving on” motiveer hulle nie net hulself om aan te hou droom nie, maar ook vir enigeen wat daarna luister.
“Om ’n droom na te jaag wat jy nog nooit gehad het nie, moet jy iets deur geloof doen wat jy nog nooit gedoen het nie,” sê hulle.
Die video was op 22 Julie vrygestel.

Luister hier:
https://jacquesenliezel.lnk.to/37x4vPdd
Boodskap :
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
