Local news

Afrikaanse skole in Pretoria-Noord is reeds oorvol

Meer as 223 van die 1 394 leerders wat teen die eerste skooldag nog nie geplaas was nie, is in Pretoria-Noord.

Solidariteit se Skole Ondersteuningsentrum (SOS) is bekommerd oor die beskikbaarheid van Afrikaanse skole in Pretoria-Noord.

“Die huidige krisis oor beskikbare skole in Pretoria-Noord word nou voor die hekke van die reeds oorvol Afrikaanse skole in die area gelê,” sê die organisasie.

“Dit, ondanks die feit dat die enkele Afrikaanse skool in die area, meestal reeds Engelse leerders óók akkommodeer.

“Meer as 223 van die 1 394 leerders wat teen die eerste skooldag nog nie geplaas was nie, is in Pretoria-Noord.”

Om die verantwoordelikheid op die Afrikaanse skole in die area se skouers te plaas, is uiters onbillik, verduidelik SOS.

Volgens SOS, is slegs een van nege skole wat voorheen Afrikaans was, steeds Afrikaans, drie is parallelmedium en vyf skole het volledig verengels.

“Die parallelmedium Afrikaanse skole, soos Laerskool Danie Malan, is reeds oorvol.”

Laerskool Danie Malan se 2018 kapasiteitsverslag maak voorsiening vir 1 116 leerders, maar daar word tans 1 426 leerders geakkommodeer.

Gauteng se onderwyskapasiteit is lankal onder enorme druk met Afrikaanse skole wat aan die kortste end trek.

Die afgelope ses jaar het leerdergetalle in Gauteng met meer as 50 000 per jaar gegroei.

Leerdergetalle het in 2022 met yslike 103 000 leerders toegeneem.

“Ondanks die buitengewone groei in leerdergetalle, het die vorige LUR, Panyana Lesufi, in die agt jaar wat hy LUR van onderwys in Gauteng was, nie aan sy woord gestand gedoen om genoeg openbare skole te voorsien nie,” sê Melanie Buys, hoof van ontwikkeling by SOS.

“Die huidige krisis met plasing van leerders in skole, is die direkte gevolg van politici wat, ten spyte van baie beloftes, nie aan hulle grondwetlike plig om toegang tot gehalte-onderwys te voorsien, voldoen nie,” sê Buys.

“LUR Chiloane se pogings om klaskamerkapasiteit op die nippertjie bouwerk of mobiele klaskamers by bestaande skole aan te vul, is nie genoeg nie.

“Ook Angie Motshekga, Minister van Basiese Onderwys, se onlangse stelling dat meer skole gebou moet word, is niks meer as mooi woorde nie,” sê sy.

“Dit is die grondwetlike verantwoordelikheid van die Gautengse onderwysdepartement (GDO) om te verseker dat daar vir alle leerders toegang is tot basiese onderwys.

“Die GDO se gesentraliseerde aansoekstelsel en outomatiese plasings dra by tot die toenemende stryd van ouers om toegang tot hierdie grondwetlike reg te kry.”

Talle ouers wat in Julie 2022 reeds aansoek gedoen het vir toelating, se kinders is steeds nie geplaas nie.

Meer as 4 000 appèl aansoeke is nog hangende.

Hierdie appèlle is nie vir sinnelose redes nie, maar byvoorbeeld oor kinders wat in skole met verkeerde voertaal, onbereikbaar ver van die huis, of in ander skole as sibbe geplaas is.

Die SOS hoop dat Chiloane sy woord sal hou en dringend aandag gee aan die groeiende behoefte aan toegang tot onderwys in Gauteng – veral toegang tot gehalte-onderwys, wat noodwendig moedertaalonderwys insluit.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button