Voortrekkermonument se geheime herontdek in nuwe boek
Pretorius se nuwe boek vertel die verhaal van die Sentrale Volksmonumentekomitee.
Die Voortrekkermonument (VTM) het verlede week die geleentheid gehad om gasheer te speel vir ’n langverwagte geskiedenisboek oor die Sentrale Volksmonumentekomitee.
Estelle Pretorius is al lank ’n bekende gesig by die monument en het met haar nuwe boek Marmer en Graniet die merkwaardige geskiedenis van die Sentrale Volksmonumentekomitee neergepen en ’n uitstekende publikasie die lig laat sien.
Pretorius se boek is ’n hersiene uitgawe van professor OJO Ferreira se boek, ’n Volk se Hulde wat in 1975 gepubliseer is.
Die boek bevat interessante nuwe inligting en foto’s, veral betreffende die hoeksteenlegging (1938), inwyding (1949) en ook die sages en intriges agter die skerms rakende die terreinontwikkeling daarna.
Die Sentrale Volksmonumentekomitee het van 1931 tot 1968 onvermoeid gewerk vir die vergestalting en instandhouding van die Voortrekkermonument.
Die funksie is bygewoon deur historici soos dr. Nicol Stassen, VTM-personeel, en selfs oudpolitici soos dr. Pieter Mulder.
Pretorius het in 1998 by die VTM begin werk as ’n navorser vir die Erfenisstigting.
As deel van haar werk het sy dikwels Ferreira se boek gebruik vir haar navorsing, want soos sy self sal vertel: “Dit was regtig ons betroubaarste bron”.
Toe Pretorius destyds by die monument begin werk het, vertel sy was daar nog nie ’n behoorlike argief nie.
“Ek het eendag afgekom op ’n groep mans wat besig was om dokumente weg te ry om spasie in die stoor te maak,” sê sy.
“Ek het gesien dis ou, effens vergeelde papiere en as ’n navorser geel papier sien dan blink ons oë, want ons weet dit is oud; oud en waardevol.”
Met die herskryf van bestaande werk vra mens dikwels die vraag: “Wat is nuut aan die boek?”
Estelle verduidelik dat Marmer en Graniet nie ’n nuwe storie is nie, maar ’n ander blik op die ou verhaal van die monument.
“Die indeling is nuut aangepas, die tapisserieë en friespanele is volledig bespreek met pragtige kleurfoto’s, en daar is bylae wat ek bygewerk het op grond van die navrae wat ek oor die jare gekry het,” vertel sy.
“Mense wil altyd weet wie was die kinders wat die monument se deure die eerste keer oopgestoot het, wie was die egpare wat daar getrou het, wie was al die kunstenaars.
“Hier is baie stories en staaltjies in die monument toegemessel en die nuwe boek vertel dit alles.”
Die gerespekteerde historikus, professor Fransjohan Pretorius het ook die boekbekendstelling bygewoon en vertel dat Pretorius se navorsing hom baie beïndruk het.
“Die merkwaardige ding van ons geskiedenis is dat 17 000 mense hulle grond verlaat het vir ’n beter toekoms,” vertel hy.
“Jare later word die planne en oprigting van die VTM van die groot boublokke in die geskiedenis van die Afrikaner self iets prysenswaardig.
“Estelle het haar oor en oor bewys as ’n deeglike navorser en die briljante boek uitgegee.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
