Local news

AfriForum loods “Tshwane se slaggat”-platform

Met hierdie stelsel help AfriForum die metro om slaggate wat dringend aandag nodig het, te identifiseer.

AfriForum het ’n plan in plek om die slaggatprobleem in Pretoria op te los in samewerking met die Tshwane-metro.

Die burgerregteorganisasie het ’n aanlyn platform “Tshwane se slaggat” geloods waar inwoners van Pretoria die slaggate in hul woonbuurt, veral op hoofpaaie wat swaar verkeer dra, kan rapporteer.

Data van die slaggate wat op “Tshwane se slaggat” ingesamel word, sal dan verwerk en aan die Tshwane-metro deurgegee word.

Op hierdie manier help AfriForum die metro om te identifiseer watter slaggate dringend aandag verg in die hoop dat dit spoedig herstel sal word.

As gevolg van die skade wat die afgelope paar weke se swaar reëns veroorsaak is, is die paaie in Pretoria in ’n bedenklike toestand.

In ’n persverklaring verduidelik AfriForum daar is bykans nie ’n straat in die stad ontsien van reuse-slaggate nie wat ’n veiligheidsrisiko vir motoriste en pendelaars inhou.

Die metro kan omtrent nie byhou met die nodige herstelwerk en instandhouding wat benodig word om die paaie weer in ’n aanvaarbare toestand te kry nie. Dus het AfriForum besluit om ondersteuning aan die Tshwane-metro te bied.

“Ons verstaan dat daar tans ’n krisis is met verspoelde paaie weens die onlangse hoë reënvalsyfer en dat al die paaie nie oornag herstel kan word nie,” sê Tarien Cooks, rampbestuurspesialis vir AfriForum.

“Dit is wel belangrik om besige roetes te identifiseer en daarvolgens die herstelwerk te prioritiseer.

“Ons sien daarom hierdie as ’n geleentheid om die munisipale bestuur te ontmoet vir die prioritisering van daardie slaggate wat dringend herstel moet word.”

AfriForum versoek die Pretoria-gemeenskap om deel te neem aan hierdie inisiatief deur hulle te voorsien van die ligging van die slaggate wat hulle daagliks frustreer.

“Daarna sal ons ’n vergadering met die Tshwane-metro belê en hulle vereis om die spesifieke paaie te prioritiseer,” sê Cooks.

AfriForum het verskeie takke regoor die Tshwane-metro wat gereeld self slaggate in hul omgewings herstel asook ander selfdoen-projekte suksesvol aanpak.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button