Local news

Riaan Grobler stel sy nuutste enkelsnit vry

Die nuwe enkelsnit gaan gepaard met 'n musiekvideo wat Grobler se storievertelling en strelende stem perfek komplimenteer.

Ná byna twee dekades in die vermaaklikheidsbedryf is die sanger, akteur, skrywer en radio-omroeper, Riaan Grobler, uit met nog ’n voet-tik-enkelsnit.

 

“En Dan Dans Ons” vertel ’n pragtige storie soos die liedjie vorder van ’n spesiale oomblik tussen verliefdes wat hul vreugde en toewyding aan mekaar vergestalt.

Grobler het sedert 2005 sewe vollengte albums vrygestel, en sy nuwe enkelsnit sal nie aanhangers teleurstel wat sy gewone meesterlike storievertelling verwag nie.

Benewens sy daaglikse vertonings op Pretoria FM, is Grobler ’n besige naam in die plaaslike vermaaklikheidsbedryf en vervul selfs die rol van MC by die Proe’toria-fees wat die naweek van 4 Maart plaasvind.

Hy het grappenderwys gesê liefde wil nie goed vir hom uitwerk nie, maar daarin het hy die kuns bemeester om oor liefde te kan sing – wat dikwels bittersoet kan wees.

Grobler het hierdie te sê gehad oor “En Dan Dans Ons”: “Die mense kuier op ’n strand by ’n vuur en kyk hoe die maanlig oor die branders skyn. Dan, net daar op die strand besluit hulle om te dans. Sonder musiek. Sonder ander mense. Net hulle twee. Op hulle eie ritme met net hulle liggame wat die tempo bepaal.”

Image provided

Met ’n loopbaan wat wissel in talente en ’n stem wat net so veelsydig is, het Grobler oor die jare bewys dat hy nie bang is om nuwe uitdagings aan te pak en nuwe dinge te bemeester nie.

Sedert 2020 het hy begin bak en kook, alles van melkterte tot fynproewersgeregte. Hy het ook begin hekel en werk aan ’n roman wat binnekort op die boekrakke sal verskyn.

“My leuse in die lewe is om enige uitdaging aan te pak en ook om kanse te waag; as jy dit nie doen nie, kan jy die onbekende skade berokken omdat jy nie weet wat kon gebeur het nie.”

Grobler op die stel vir die opname van sy nuwe album. Image: Facebook

Die nuwe enkelsnit gaan gepaard met ’n aangrypende nuwe musiekvideo wat op Valentynsdag vrygestel is wat Grobler se storievertelling en strelende stem perfek komplimenteer.

Riaan het drama aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie gestudeer en het aan talle teaterproduksies en televisieprogramme deelgeneem, maar nadat hy in 2007 aan die werklikheidsreeks Supersterre deelgeneem het, het sy natuurlike sangstem nuwe deure vir hom oopgemaak.

Die resultaat was platetransaksies, landswye vertonings en geleenthede om saam met die land se bekendste sangers te werk.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Check Also
Close
Back to top button