Helpende Hand open opleidingsinstituut
Die gebou is aan hulle geskenk en sal gebruik word om versorgers op te lei.

Solidariteit Helpende Hand het hul nuwe opleidingsinstituut aan die publiek bekend te stel op 16 Februarie.
Volgens ’n persverklaring, gaan hierdie perseel tans vir die opleiding van versorgers gebruik word, met nuwe basiese formele opleidingsprogramme wat in die toekoms wink.
“Te danke aan die ruim skenking van die gebou in die gewilde omgewing van Menlyn Maine in Pretoria, het Helpende Hand ’n tuiste gevind vanwaar gehalte opleiding sal plaasvind,” sê Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Helpende Hand.
Die gebou is deur die Nel-familie van Pretoria geskenk.

Hulle het ’n paar jaar gelede die Teodora-sentrum vir gestremde persone daar begin, spesifiek met die doel om vir hul gestremde seun en boetie, Jannie Nel, ’n plek te bied waar hy ná skool kon werk en so ook ’n nuwe doel in die lewe kon vind.
Teodora het tot ’n volwaardige sentrum gegroei en vir volwasse persone wat intellektueel of fisiek gestrem is ’n beskermende werksomgewing gebied.
Jannie is egter kort voor die Covid-19-pandemie oorlede, waarna sy gesin besluit het om die sentrum permanent te sluit en dit aan Helpende Hand te skenk om vir ontwikkeling, opvoeding en opleiding benut te word.
Helpende hand het in 2021 met die opleiding van versorgers by ander persele landwyd begin en altesaam 68 gekwalifiseerde versorgers is tot dusver opgelei en is werksaam in die privaat sektor, ouetehuise, en plekke vir mense met gestremdhede.
Die eerste groep van 30 studente wat vanjaar op die nuwe kampus as versorgers opgelei gaan word, se klasse het reeds Woensdag, 15 Februarie, afgeskop.
Besoek www.helpendehandopleiding.co.za vir meer inligting.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
