Local news

AfriForum-lid Vrydagnag ontvoer en gemartel

Drie mans in 'n taxi het Pieter Grobler deur die loop van Vrydagnag gemartel.

Die AfriForum Groter Moot-span ly nog aan skok nadat een van hulle lede Vrydagnag ontvoer, gemartel en langs die pad gelos is.

Pieter Grobler was op pad huis toe na sy skof met die buurtspan toe drie mans in ’n taxi langs hom gestop het.

Volgens Groter Moot-buurtbeampte, Andries Opperman, het die mans Grobler in die taxi gelaai, ’n vuurwapen in sy gesig gedruk, hom begin dreig en gemartel.

Opperman sê een van die mans het na Grobler se klere gewys en vir hom geskreeu en gevra of hy vir AfriForum werk.

“Hy kan nie alles onthou nie, maar hulle het hom deur die loop van Vrydagnag gemartel.

“Hulle het hom probeer ophang met sy eie belt, hy is gebrand met sigarette en hy is met ’n bottel of iets skerp in sy gesig gesteek,” sê Opperman.

Hulle het hom na ’n ATM toe geneem waar hulle hom gedwing het om sy salaris wat hy Vrydag gekry het, te trek.

ProShield het Grobler ongeveer 03:30 in die pad naby Steve Biko hospitaal gevind.

Hy is in die hospitaal opgeneem waar hy behandeling ontvang het.

Grobler herstel tans by sy ouers se huis.

“Dit gaan goed met hom, onder omstandighede,” sê Opperman.

“Hy wou al hier en daar saamlag vir die manne se grappies, maar dit is nog te seer.

“Hy vra dat ons asseblief almal sal bedank wat boodskappe gestuur het en gehelp en bygedra het om sy salaris te vervang.”

Adjudant-offisier Johan van Dyk het die voorval bevestig.

“Pieter Grobler was besig om huis toe te loop nadat hy ’n paar biere met sy vriende by ’n kroeg geniet het.

“Hy het op Paul Kruger Weg noord geloop toe ’n taxi lanks die pad gestop het.

“’n Man het die taxi se deur oopgemaak en hom ingepluk.

“Daar was drie mans in die taxi en hulle het hom gevra of hy enige waardevolle items by hom het.

“Hy het nee geantwoord en die mans het R300 kontant by hom gevat.”

Van Dyk sê die mans het Grobler deur die loop van die aand gedreig en geslaan met ’n vuurwapen en het meer geld by hom gesteel.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button