Inwoners in die noorde treur oor goeie dokter se skielike dood
’n Polisiewoordvoerder het bevestig dat ’n saak van moord geopen is nadat die polisie na die toneel ontbied is.

Inwoners van Doornpoort rou oor die dood van bekende dokter Jaco Putter wat Maandagoggend dood in sy huis aangetref is.
Die hartseer nuus is deur sy susterskind, Armand Koekemoer, op sosiale media gedeel.
Daar word vermoed dat Putter vermoor is in ’n huisinbraak.
Geen verdere inligting oor die omstandighede is op hierdie stadium bekend nie.
“Hy los ’n groot leemte in ons harte en in die gemeenskap agter,” sê Koekemoer.
Polisiewoordvoerder adjudant-offisier Johan van Dyk het bevestig dat ’n saak van moord geopen is nadat die polisie na die toneel ontbied is waar Putter in die stort gevind is.
“Die polisie het bevind dat die motorhek stukkend is en die verdagte met ’n iPhone, iPad en motorvoertuig ter waarde van ongeveer R189 000 weggekom het.”
Pasiënte van die dokter het hul vinnig na sosiale media gewend om hul medelye aan die familie oor te dra.
Putter het oor die jare heen ’n groot impak op die gemeenskap gehad.
“Liefste Dr Jaco Putter daar is net geen woorde nie. Ons is verslae hoe jy weggeruk is van ons. Dankie vir al jou liefde en vriendskap in die tyd wat ek jou geken het. Dit los ’n baie groot leemte in ons harte. Ons is so verskriklik jammer vir jul verlies.” – Anzel Liebenberg
“Sjoe, na 19 jaar verloor ons ’n goeie dokter. Nee, regtig, dis hartseer.” – Lorna Rex Putter
“So jammer om te hoor van jul verlies. Hy was vir baie jare ons huisdokter en ook ’n vriend wat altyd tyd gehad het vir ’n grappie en gelag. Sal hom mis. Sterkte vir die familie en jul is in ons gebede.” – Willem Stoltz
“Skokkende hartseer nuus vanoggend, My beste beste dokter ooit. Aggenee. Hy was so spesiaal. Van 2000 was hy ons GP. Ons deur die jare met liefde en meegevoel gesond gedokter, elke liewe keer. Ek het uit die omgewing getrek in 2016 maar steeds na Dr Jaco gery. Ons was baie lief vir hom. Jinne, ek gaan hom mis. Rus in vrede, liewe mens. Jy was so geliefd deur al jou pasiënte. Baie sterkte vir die familie en vriende.” – Elsje Duvenage
Reëlings vir ’n roudiens om afskeid te neem, sal bekendgemaak sal word sodra die familie meer inligting het, sê Koekemoer.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
