EntertainmentLocal news

Inskrywings oop vir Aitsa Afrikaanse musiektoekennings

Die publiek word uitgenooi om die geleentheid by te woon en kaartjies is reeds beskikbaar by iTickets.

Afrikaanse kunstenaars, liedjieskrywers en vervaardigers van musiekproduksies word weer uitgenooi om in te skryf vir hierdie jaar se Aitsa Afrikaanse musiektoekennings.

Kategoriewenners ontvang ’n trofee wat spesiaal vir die Aitsas ontwerp is deur die bekende beeldhouer, Francois Visser, asook ’n kontantprys van R10 000.

Inskrywings vir alle kategorieë het oopgemaak op 24 April en sluit om middernag op 26 Mei.

Alle nuwe uitreikings vir die tydperk 1 April 2022 tot 31 Maart 2023 mag ingeskryf word.

Die inskrywingsvorms met volledige besonderhede is op Pretoria FM se webtuiste www.pretoriafm.co.za beskikbaar.

As deel van Pretoria FM se 30e verjaarsdagfees-week, sal die wenners tydens ’n spoggeleentheid op 19 September by die Choose Life Ouditorium in Pretoria bekendgemaak word.

Die publiek word uitgenooi om die geleentheid by te woon en kaartjies is reeds beskikbaar by iTickets.

Sommige van die Aitsa 2022-wenners en genomineerdes sal ook tydens hierdie geleentheid optree, naamlik Jo Black, Scheppel, Brendan Peyper, Dodo Nyoka, Samantha Leonard, Eloff, Bernice West, Zaan Sonnekus, Herman Kleynhans en Rooksein.

Die gasheer, Hannes van Wyk en gasvrou Desiré Gardiner sal verder sorg vir ’n onvergeetlike aand.

Die uitvoerende voorsitter van Pretoria FM en trustee van die Aitsa Trust, Willie Spies, sê die Aitsa-toekennings het in die verlede groot belangstelling gelok en hulle sien uit om die jaar se opkoms te sien.

Daarom is daar besluit om die kategorieë vir 2023 uit te brei deur steeds die room van Afrikaanse musiek te erken, maar daarmee saam ook in 2023 ’n klassieke kategorie by te voeg.

“Ons gaan voortbou op die vorige jaar se suksesresep en finaliste sal na afloop van ’n intensiewe beoordelingsproses oor ’n tydperk van 12 weke op radio aan die publiek bekendgestel word.

“Die publiek sal ook geleentheid kry om deel te neem in die stemproses deur vir hulle gunstelingkunstenaars en -musieksnitte te stem in die kategorie, Kunstenaar van die Jaar volgens publieke stem,” verduidelik Spies.

Kunstenaars kan self inskryf of kan deur hul onderskeie platemaatskappye ingeskryf word.

Die inskrywings sal deur ’n paneel kundiges in die musiekbedryf beoordeel word en ’n maksimum van ses finaliste sal in elke kategorie aangewys word.

Die beoordelingskomitee vir 2023 sal bestaan uit vyf onafhanklike beoordelaars en die beoordelingsproses word gemonitor deur die Aitsa Trust se ouditeur.

“Aitsa is opgewonde oor die toekoms, aangesien dit belangrik is om ’n onafhanklike geleentheid te skep waartydens die room van die rolspelers in die Afrikaanse musiekbedryf op grond van hulle uitmuntende prestasie beloon kan word,” sluit Spies af.

LEES MEER: Simoné Roets releases much anticipated debut album

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button