Pretoria sanger sing graag oor die liefde
Dit sal ’n absolute droom wees om ’n album vol musiek aan die wêreld bekend te stel.

Die jong sangeres Wilmari Senekal het onlangs haar eerste enkelsnit, “Van Jou” vrygestel.
Die Pretoria sanger is haar hele lewe lank lief vir musiek, en het groot drome vir haar toekoms in die bedryf.
Waar is jy gebore?
Ek is gebore in ons Jakarandastad Pretoria op 3 Februarie 1998.
Hoe was jou kinderjare, en het dit enige invloed op jou musiek?
My kinderjare was gegrond op musiek. Ek kom uit ’n musikale familie. My ouma, Louise Senekal, was vir baie jare ’n kunstenaar in klassieke musiek. Sy het ook haar eie sangskool gehad waarby ek professionele sang onderrig ontvang het. Saam met ouma het ek deelgeneem aan talle Eisteddfods waar sy my begelei het met die klavier. Dit was ook net sy wat kon bybly as sy agterkom ek sing woorde verkeerd en dan het sy aangepas by my. Sy was vir my ’n ongelooflike inspirasie. As dit nie vir haar was nie het ek nooit in sang ingegaan nie.
Ek het op die ouderdom van ses aangesluit by my laerskoolkoor en het tot en met graad 10 koor gesing voordat ek besluit het die stilstaanstorie werk nie so lekker vir my nie.
Ek het ook elke jaar deelgeneem aan my skool se revue en musiekblyspele waarby ek altyd hoofrolle vertolk het en verskeie solo- items gelewer het.
Ek het ook op die ouderdom van 13 deelgeneem aan Radio Pretoria se Musiek en Liriek-sangkompetisie waarby ek aangewys was as die laerskoolwenner. In dieselfde jaar was ek ook aangewys as graadwenner by die Pretoria Eisteddfod.
Wat is jou eerste herinneringe van musiekmaak?
My eerste herinnering van musiek maak is eintlik nogals iets om oor te giggel.
Ek moes op vyfjarige ouderdom op ’n verhoog klim om my eerste solo-item te lewer – Pinocchio.
Ek het botweg geweier om op daardie verhoog te klim en tot vandag was Pinocchio nooit gesing nie.
Die jaar daarna het ek bietjie uit my dop gekruip toe ek my eerste solo-item lewer by die eisteddfod en daarna was daar geen keer aan my en die verhoog nie.
Wat is sommige van jou invloede en gunstelingkunstenaars?
Ek sal definitief sê iets tussen Riana Nel, Bernice West en dan natuurlik Taylor Swift. Ek geniet haar liefdesliedjies.
Gunstelingkunstenaars is ek self mal oor Bernice West en ek is ’n bitter groot aanhanger van Francois van Coke en Brendan Peyper as plaaslike kunstenaars.
Amerikaanse kunstenaars is ek gaande oor Miley Cyrus en Pink.
Ek voel ek is gebore in die verkeerde era aangesien my absolute gunstelingmusiek definitief uit die 80’s kom en ek mal is oor Queen sowel as Guns n Roses en Def Leppard.
Ek sal baie graag die 80’s-genre in my musiek wil inbring aangesien ek voel dit die beste tydperk van musiek was.
Wat is jou liedjieskryfproses?
Ek sal ’n liedjie skryf enige tyd en enige plek. Wanneer daar ’n wysie in my kop vassit, gryp ek ’n pen en papier of selfs my foon en probeer woorde skryf op die wysie.
Ek sal ook soms ’n opname maak van ’n wysie sodat ek dit nie vergeet nie.
My liedjies wat ek skryf is altyd uit persoonlike ervarings en vertel ’n storie.
Mens het nie altyd die regte woorde om te probeer beskryf wat in jou hart is nie, maar die kunste is ’n wonderlike manier om hierdie gevoelens uit te kry.
Liedjieskryf is my uitlaatklep van emosie en dit wat ek skryf kom vanuit die hart.
Wat is ’n paar temas in jou musiek?
My liedjies se tema is definitief liefde – teleurstelling sowel as hoop.
Ons lewens draai om liefde, die positief daarvan sowel as die negatief.
Hoe voel dit om jou musiek in die openbaar te hoor vir die publiek om na te luister?
Dit is werklik ’n ongelooflike gevoel.
Om ’n gehoor van mense te bereik wat my musiek kan luister maak my ongelooflik gelukkig.
Dit is my grootste droom om musiek te maak vir mense om te geniet en saam te kan sing.
Ek het nooit gedink ek sal die geleentheid kry nie, maar wonderlike dinge kan gebeur met ’n bietjie harde werk en geloof in jouself.
Ek het besluit om alles in te sit en te probeer en ek is ongelooflik trots op myself dat ek so prestasie kon behaal.
Ek hoop die mense hou daarvan en dat ek in die toekoms nog vele musiek aan hulle kan oplewer.
Die terugvoer wat ek ontvang van luisteraars is ongelooflik.
Enige raad vir jong kunstenaars/musiekante?
Moenie ophou probeer nie. Glo in jouself en sit jou alles in. As jy nie in jouself glo nie – wie gaan? Gee jou alles om ’n sukses van jou kant te maak.
Ek glo altyd harde werk word beloon.
Enige stokperdjies buite musiek maak/speel?
Ek is bietjie van ’n “fitness freak” en is mal daaroor om te oefen.
Ek volg ’n oefenprogram en hou daarvan om ’n gesonde leefstyl te handhaaf.
In my vrye tyd sal ek altyd ’n draai by die gimnasium gaan maak.
Ek het ook ’n bitter aktiewe klein worshond wat baie lief is vir sy stappies en natuurlik is ’n stappie in die natuur baie goed vir die siel.
Beplan jy om ’n album op te neem in die toekoms?
Natuurlik. Dit sal ’n absolute droom wees om ’n album vol musiek aan die wêreld bekend te stel.
VIDEO:
Do you have more information about the story?
Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
