Local news

Skryf jou kind(ers) so gou moontlik vir graad 1 of 8 in – AfriForum

“Dit is algemeen bekend dat daar te min skole in Gauteng is en hierdie probleem moet voor die deur van die Gautengse Departement van Basiese Onderwys gelê word.”

Toekomstige ouers van graad 1- of 8-leerlinge het net ’n maand om hul kinders te registreer vir die 2024-skooljaar.

AfriForum raai dus ouers aan om hul kinders so gou moontlik vanaf 15 Junie vir graad 1 of 8 in Gauteng te registreer.

Die aanlyn registrasieproses open op 15 Junie om 08:00.

Dit sluit weer 14 Julie om middernag, wat beteken dat ouers slegs ’n maand het om hul kinders in te skryf.

AfriForum moedig ouers dus aan om so gou moontlik hierdie registrasieproses af te handel om te verseker dat hul kinders in die skool van hul keuse geplaas word.

Aansoeke vir plasing in Gautengse skole vind vanjaar slegs aanlyn op die Gautengse Departement van Basiese Onderwys se webwerf (www.gdeadmisions.gov.za) plaas.

Tydens ’n mediakonferensie oor dié proses, het die Gautengse LUR van Onderwys, Matome Chiloane, die versekering gegee dat die stelsel sedert 2022 verbeter is om meer kapasiteit te bied om ’n groot aantal aansoeke gelyktydig te hanteer.

Die belangrikste aspekte wat deur Chiloane genoem is, is dat ouers moet verseker dat hulle hul regte kontakbesonderhede gee en dat die selnommer wat hulle verskaf, deurentyd aktief bly tot hulle bevestiging ontvang het dat hul kinders geplaas is.

Hy het gewaarsku dat ouers met kinders in graad R nie moet aanvaar dat hul kinders outomaties in graad 1 by dieselfde skool geplaas sal word nie. Hulle moet steeds aansoek doen soos enige ander ouer.

Die vereiste dokumente moet binne sewe dae nadat die aanlyn aansoek ingedien is, aanlyn in gekompakteerde formaat, of by die skool van hulle keuse ingehandig word.

As die dokumente nie binne ’n week ingedien word nie, sal die aansoek verval.

Plasings sal van 4 September plaasvind en SMS’e aangaande die plasingsaanbod kan enige tyd vanaf dié datum verwag word.

Chiloane het ouers aangemoedig om so gou as moontlik te reageer as hulle ’n SMS ontvang met inligting oor waar die kind geplaas is.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, is dit verblydend dat aansoekers vir beide graad 1 en Agt’n keuse vir onderrigtaal kan uitoefen en graad 8-aansoekers ook vir ’n addisionele taal.

Bailey sê Chiloane se antwoord of die departement enkelmedium Afrikaanse skole na dubbel- of parallelmedium skole wil verander is uiters problematies.

“Enige stappe om die skole in dié rigting te dwing, sal deur AfriForum teengestaan word,” sê Bailey.

’n Belangrike verbetering van die proses, is dat daar vanjaar slegs een aansoekproses is.

In 2022 is kinders in openbare skole eerste toegelaat om aansoek te doen, en kinders buite die openbare sisteem, eers later.

Vanjaar kan alle aansoekers gelyktydig aansoeke indien, wat veel meer regverdig is.

Dit is ook welkom dat die skool waarin sibbe van die aansoeker is en ouers se werkadres, benewens die woonadres, ook vir plasing in skole oorweeg sal word.

’n Keuse kan vir drie tot vyf skole uitgeoefen word, met voorkeur in die eerste drie keuses vir ouers of voogde se woonadres.

Die LUR se waarskuwing dat skole eers aansoek moet doen vir goedkeuring as ruimtes in skole vir spesiale dienste aangewend word (in plaas daarvan dat dit as klaskamers gebruik word), is na Bailey se mening ook kommerwekkend.

In die verlede het die departement pogings aangewend om kinders in vol skole in te forseer omdat ruimtes soos laboratoriums en biblioteke as klaskamers beskou is.

AfriForum se hulle sal ook in dié verband verseker dat in die belang van skole en leerders opgetree word.

Die Gautengse onderwysdepartement sal volledige riglyne oor die aansoekproses deur hulle mediakanale bekendmaak.

“Dit is algemeen bekend dat daar te min skole in Gauteng is en hierdie probleem moet voor die deur van die Gautengse Departement van Basiese Onderwys gelê word,” sê Bailey.

“Chiloane het genoem dat meer skole gebou gaan word om hierdie tekort aan te spreek, maar het nie uitgebrei oor hoeveel aanvullende skole in 2024 gereed sal wees nie.

“Om dié rede is dit noodsaaklik dat kinders vinnig ingeskryf moet word.”

AfriForum wil ouers ook weer herinner aan die reuse-voordele wat moedertaalonderrig inhou.

“Hulle moet dit in gedagte hou wanneer hulle ’n besluit maak oor die skool waarby hulle hul kinders wil inskryf,” beklemtoon Bailey.

LEES: Waterkloof klop Menlopark, Affies kry groot pakslae

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button