Local news

Plaaslike kunstenaar se nuwe enkelsnit huldeblyk vir pa’s

Dit is ’n ode, amper ’n smeekwens van ’n seun om “as dit God se wil is ’n man soos sy pa te wees”.

Baie Afrikaanse sangers het al voorheen liedjies oor hulle onvoorwaardelike liefde en dankbaarheid teenoor hulle pa’s uitgereik.

Maar Pedri van der Westhuizen van Pretoria se jongste enkelsnit “Dankie Pa” is meer as net ’n dankbaarheid- of lofprysingsnit.

Dit is ’n ode, amper ’n smeekwens van ’n seun om “as dit God se wil is ’n man soos sy pa te wees”.

Pedri, wat nog altyd daarvoor bekend was dat hy musiekgenres uitdaag en ’n musikale waaghals is, stel ook nie teleur met dié enkelsnit nie.

Dit het ook uit sy eie pen verskyn.

Pedri se vorige twee enkelsnitte, “Nou” en “Mooi” het ’n rock-lounge gevoel gehad.

“Dankie Pa” is ’n rock-pop ballade waar musiek en liriek deel word van die boodskap wat dit oordra; ’n pa wat gewoonlik van die begin af daar is, hul kinders op hul lewensreis neem, van geboorte, peuter, kleuter, tiener tot jong volwassene.

Dit is ’n universele lied wat nie net van toepassing is op ’n verhouding tussen pa-en-seun nie, maar ook tussen pa-en-dogter.

“Dankie Pa” is eerstens ’n snit wat getuig van die liriekskrywer se hegte band met sy pa.

Tweedens is dit ook ’n ode aan alle pa- en vaderfigure wat kinders geleer het om ’n mooi gees te hê.

“As jy dalk ’n pa is, wil ek ook met die snit vir jou dankie sê vir die impak wat jy op jou kind se lewe het.

“Mag elke pa daagliks daarna streef om sy pa-skoene vol te staan,” verduidelik Pedri.

“Die wêreld is ’n beter plek met pa’s wat hulle plekke volstaan in die samelewing en in hul kinders se lewens.

“Die liedjie het ook ontstaan as ’n persoonlike dankie aan my pa.’’

Hy sê dat Vadersdag ’n sensitiewe onderwerp vir baie mense kan wees, omdat baie nie meer die voorreg het om ’n pa in hulle lewens te hê nie.

“Ek glo egter dat daar altyd ’n vaderfiguur in jou lewe is, wat jou baie lief het.

“Ek het die liedjie geskryf om dankie te sê aan alle pa’s en vaderfigure.

“En al het jy nie meer ’n pa nie, kan jy vashou aan die mooi oomblikke en herinneringe wat julle wel gedeel het.’’

Dié millennial het die musiekmark behoorlik in Januarie verlede jaar binnegerock met sy eerste enkelsnit.

Pedri is in Pretoria gebore en het ook in die Jakarandastad grootgeword.

“Ek is baie lief vir die buitelewe en vlug dikwels na ons plasie, net buite die stad, as die liggies, geraas en verkeer té veel raak.”

Hy het nadat hy aan die Hoërskool Montana in die noorde van Pretoria gematrikuleer het, sy musiekstudies aan Unisa voltooi.

Hy is veral ’n meester van die elektriese kitaar.

Pedri het in 2022 vir ’n BA-graad in teologie ingeskryf en sy studies is ook die inspirasie vir baie van sy lirieke.

“Dankie Pa” is ’n ideale toevoeging tot enige radiostasie se Vadersdag-speellys en kinders moet die snit op dié spesiale dag vir hulle pa’s speel, raai hy aan.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?

Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

Back to top button