Local news

Derick Hougaard ‘maak sy oë oop en reageer op vrae’

Bewonderaars, vriende en familie is dankbaar dat Springboklegende Derick Hougaard gister uit sy 12-dae lange koma wakker geword het in 'n hospitaal in Pretoria.

Springbok-legende Derick Hougaard het gistermiddag laat vir die eerste keer sedert 10 Junie sy oë oopgemaak.

Hy het aangedui dat hy diegene rondom sy hospitaalbed in die Steve Biko Akademiese Hopistaal in Pretoria herken.

Sy suster van die Paarl, Anneri Laing, wat saam met sy ma Riana Hougaard langs Derick se siekbed gewaak het sê: “Dis ‘n ongelooflike wonderwerk!”

Derick Hougaard se suster van die Paarl, Anneri Laing (agter links), is bly dat sy oe nou weer oop is en het dit ‘n wonderwerk genoem. Voor is sy ouers, Bontes en Riana Hougaard saam met hom tydens ‘n vorige familiegeleentheid.

Sangeres Nádine, wat hom bewusteloos in sy huis op 10 Junie gevind het, was die afgelope twaalf dae elke dag langs sy siekbed.

Volgens ’n verteenwoordiger van haar kantoor was sy ook gister langs sy bed toe Hougaard uit die koma bygekom het. “Hy het beslis almal herken.”

Nadine het op ’n Facebookstatus haar “ongelooflike dankbaarheid” gedeel en almal vir hul gebede vir Hougaard bedank.

Sy het verduidelik Hougaard se infeksietelling het afgeneem en hy ontvang tans nuwe anitbiotika.

Sy het opgewonde gedeel dat ook sy suurstofinname elke dag beter raak.

Mediese personeel in die hospitaal moes vandeesweek onder meer nuwe behandeling toepas toe sy longe platgeval het.

’n Verbetering in sy toestand het geleidelik sedert Dinsdag ingetree.

“Hy reageer op vrae en sy breinfunksie lyk tans goed! Daar is ander komplikasies waarvoor hy steeds behandeling kry en die sedasie is verminder. Hy kan nie praat met die pype in sy keel nie. Hy het pyn en hy is verskriklik moeg, maar ons is onbeskryflik dankbaar en opgewonde dat hy sy oë oopgemaak het!” sê Nádine.

Sy het aanhangers en belangstellendes versoek om aan te hou bid vir volle genesing.

“Ons bid steeds vir sy longe om ten volle te genees!”

Liefling van Loftus-liedjie wyd oor sosiale media gedeel, Bokke bid vir Hougaard

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?

Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button