Sielvolle hees rocker Jo Black se debuutboek ‘n suksesstorie
Die bekendstelling van Jo Black se debuutboek waarin hy die oorsprongsverhale rondom sy gewilde liedjies vertel, asoook hoe en waarom hul geskryf is, lui 'n besige paar maande vir die rocker in.

Die hees rocker met die sielvolle stem, Jo Black, erken reeds lank sy musiek is uit gebrokenheid gebore.
Dit is juis oor hierdie gedeelde seer en hartseer waaroor hy skryf in sy debuutboek Die Stories agter die Storie.

Black is egter die eerste wat beken dit is nie ’n outobiografie nie.
“Ek neem my liedjies en vertel hul stories. Daar skemer dalk veel van my en my lewe in hierdie verhale deur.”
Sy boek het reeds ongekende sukses behaal. Die eerste gedrukte oplaag van ’n duisend boeke het na die bekendstelling vroeg in Junie binne drie dae uitverkoop.
Sy eerste enkelsnit Skepe word in Desember 2016 op You Tube vrygestel en bereik binne die eerste vyf maande meer as ’n miljoen trefslae. Sy debuutalbum Skepe is op 31 Maart 2017 vrygestel.
Op die musiekstroomdiens Spotify luister meer as 87 000 aanhangers maandeliks na hom. Vyf van sy liedjies waaronder Bring die hoop weer terug is al elk meer as ’n miljoen keer na geluister.
Black het die boek se eerste bladsye in 2019 op ’n vliegtuig met die hand begin skryf.
“Toe besef ek watter harde werk dit gaan wees! Ek het by ’n span kundiges vir hulp aangeklop.”
Bekend vir sy eerlike nugterheid, bely Black die wortels van die lirieke en melodieë is ware gebeure in sy lewe.
Hieroor speel hy nou oop kaarte in sy boek.
“Ek skryf oor 15 van my liedjies en wat hulle geinspireer het.”
Hy wou die verhale egter ook allemanstories maak waarmee almal kan identifiseer.
“Die bekoring is dat my storie kan dalk ook net jou storie wees want ek skryf oor gevoelens. Sulke emosionele verhale is die blywende stories van ons almal se lewens.”
Die boek wys ook foto’s uit Black se eie foto-albums soos toe hy vyf jaar oud was en ook toe hy ’n tiener was in die jare waarin hy geboelie was.
Die boek se suksesvolle bekendstelling lei ’n bedrywige tyd vir hom in.
Hy was vandeesweek in die ateljee om ’n nuwe liedjie op te neem. Voorlopig swyg hy daaroor. Hy is eerder in die bui om stories te vertel.
“Ek het gevind elke ou het sy eie idee wat my liedjies behels. En dis okei. Dis wat ’n liedjie klassiek maak. Dat jy hom jou eie kan maak. Hier is egter nou my weergawe indien jy gewonder het.”
Hy is ook op pad om, soos in die verlede, eersdaags in Amsterdam, Edinburgh en Londen konserte aan te bied.
Hierdie toere finansier hy self.

“Mense besef nie wat emigrasie of om oorsee te werk van jou verg nie. Dis nooit dadelik of ooit ’n hemel wanneer jy emigreer nie.”
Hy weet waarvan hy praat. Black het vier jaar in die Midde-Ooste gewerk.
“Ek wil die Suid-Afrikaners oorsee se hande sterk. Dis hoekom ek doen wat ek doen.”
Vir eers het hy die televisieoptredes, soos in sy Via-kanaalprogram, Doodgewone Jo, eenkant geskuif.
“Dit was so tussen ‘n paar ander dinge op my droomlys en nou afgetiek.”
Hy lag lekker as hy die eerste optredes onthou.
“Ek het nie gedink ek sal eers een seisoen hou nie! Ek was baie skaam vir die kamera.”
Hierdie nuwe era in sy lewe gaan egter nie om soos in die verlede wenslysies af te tiek nie.
“Nou wil ek eerder elke dag doen wat die hand vind om te doen. Om jou menslikheid te behou raak al hoe belangriker vir almal van ons.”
En dit vir die 41-jarige Jo Black, is miskien die belangrikste storie agter die verhaal van sy lewe.

* Black is op 9 Julie te siene in Londen en 12 Julie in Edinburgh.
*Jo Black se boek, Die Stories agter die Storie, kan by joblackonline.myshopify.com bestel word.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
