EntertainmentLocal news

Immergewilde Corlea durf lewendige opname met gedugte musikante aan

Sanger Corlea Botha steek na dekades in die musiekbedryf op 11 Julie ’n grens oor wanneer sy ’n lewendige opname van gewilde liedjies in die Atterbury-teater aanpak.

Immergewilde sanger Corlea staan op die drumpel van verskeie nuwe horisonne in haar lewe.

Sy voel sy het die nodige innerlike vrede om na 31-jaar in die musiekbedryf haarself te vernuwe.

Sy pak eersdaags ’n eerste in haar loopbaan aan deur vir die eerste keer op 11 Julie in die Atterbury-teater in Pretoria ’n vertoning, Oos Wes Tuis Bes, lewendig te laat opneem.

“Ek gaan al die liedjies sing waaroor my gehore oorsee gaande is, maar ook ’n paar Afrikaanse treffers insluit.”

Immergewilde Corlea durf lewendige opname met gedugte musikante aan
Sanger Corlea gaan na 31 jaar in die musiekbedryf vir die eerste keer ‘n lewendige vertoning saam met ‘n volledige orkes opneem op 11 Julie in die Atterbury-teater.

Die borrelende sanger is veral opgewonde oor die volle orkes van ses afgeronde musikante, soos Brendon Ross op saksofoon en Raymond Green op eerste kitaar, saam met wie sy gaan optree.

Bekend as iemand wat musikaal altyd nóg ’n grens oorsteek, skrik sy nie vir die uitdaging om lewendig opgeneem te word nie.

“Dis ’n gedugte span. Ek is nie bekommerd indien iets sou verkeerd gaan nie.”

Die vrolike donkerkop is opgewonde oor die unieke vertoning wat net een keer aangebied sal word.

Na die tyd sal die opname eksklusief aan internetgehore beskikbaar gestel word.

Die liedjies sluit haar eie verwerkings in van “Killing me softly” en ’n ballade vertolking van “I wanna dance with somebody”.

Corlea sê sy is ’n voorstander van sulke leenliedjies (“covers”) wanneer kunstenaars die vertolking intuïtief hul eie maak.

“Gehore het my geleer om liedjies intuïtief te ervaar. Eers het ek ’n tegniese kennis van vertolking gehad. Dit het nou ’n intuitiewe aanvoeling geword.”

Immergewilde Corlea durf lewendige opname met gedugte musikante aan
As ‘n Vadersdagprojek het Corlea saam met haar verloofde Juandre Marais ‘n liedjie ‘Dis ‘n man’ geskryf. Aanhangers kon foto’s van hulself saam met ‘n besondere man in hul lewe instuur om ‘n video as agtergrond tot die liedjie te maak. Corlea se kleintydfoto saam met haar pa, Koos Britz, op Margate se strand toe sy ‘n kleuter was, is in die video ingesluit.

Die bekoring om één met die musiek te word, is nie al wat vir haar saak maak nie.

Sy hou daarvan om glansvertonings op ’n verhoog aan te bied.

“Ek glo nie iemand kom om my in my afdelingswinkelrokkie te sien nie. Ek wil my gehoor die volle pakket bied. Hulle moet weggevoer word in die twee of so ure van ’n vertoning.”

Vir Corlea is die vernuwing moontlik oor ’n nuutgevonde binne-vrede.

“Die wêreld is lelik genoeg. Mens moet lief vir jouself kan wees. Jy moet self al die leemtes in jou hart kan vul. Nie musiek, roem, geld of iemand anders kan dit vir jou doen nie.”

En die vooruitsig om haar geliefde JD se trouring aan haar ringvinger te dra.

Darem nou nie in die afsienbare toekoms nie, maar wanneer “die tyd reg is”.

Immergewilde Corlea durf lewendige opname met gedugte musikante aan
Na ‘n verlowing van twee jaar, is sanger Corlea Botha en haar verloofde Juandre Marais, besig om hul huis in Moreletapark op te knap en te vernuwe. Hier is hy saam met sy seuntjie, Joshua.

Corlea het twee jaar gelede verloof geraak aan sanger Juandrè Marais, ook bekend as JD Mars, of soos sy hom liefdevol noem: “My JD”.

Hy noem haar weer die “nipperkind” omdat sy als op die nippertjie doen soos hul gesamentelike onlangse Vadersdagprojek.

Die gedeelde produksie en liedjie wat hulle saam geskryf het “Dis ’n man” lê haar na aan die hart.

Met die projek om pa’s en mans te eer op die pasafgelope Vadersdag, het Corlea op sosiale-media foto’s versoek om as agtergrond vir die video te dien.

Aanhangers moes foto’s instuur van die spesiale man in hul lewens.

Via sosiale-media het hulle meer as 1 700 foto’s ontvang waaruit Corlea die video saamgestel het.

Natuurlik pryk haar eie JD ook daarin saam met sy seuntjie Joshua.

Om haar toekoms met die twee besonderse mense te deel, laat haar bekende ligblou kykers straal.

“Ek het op sy sin vir humor verlief geraak, maar deesdae is dit ook sy sin vir verantwoordelikheid waarvoor ek lief is. Hy is ’n man van sy woord en 100% my grootste aanhanger.”

– Kaartjies vir die lewendige opname van Corla se Oos Wes Tuis Bes-vertoning kos R250. Die vertoning begin om 19:00 op 11 Julie by die Atterbury-teater

– Kyk hier na Corlea en JD Mars se liedjie “Dis ’n man”:

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?

Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button