Local news

Pa red dogter en katte toe Magalies-Moothuis in ligte laaie staan

'n Fondsinsamelingfunksie word eersdaags vir 'n paartjie en hul geliefdes gehou nadat hulle alles in 'n brand verloor het.

Die Coetzee-paartjie van Magalies-Moot het vroeg Sondagoggend (24 September) al hul besittings in ’n brand verloor en van die huis se struktuur bly net ’n skelet oor.

Die oorsaak van die vernietigende brand is onbekend.

Leané Coetzee (29) sê haar pa, Leon Smit (53) en suster, Danell Opperman (20), was ten tye van die brand in die huis.

“My pa het vroegoggend van die rook wakker geword en gaan kyk waar die brand woed. Hy wou die kamer waar die brand ontstaan het se deur toetrek. Dit was egter só warm dat hy nie sy arm kon inkry om die deur toe te maak nie. Die vlamme was te erg om die deur toe te maak,” verduidelik ’n verpletterde Coetzee.

Leon Smit van Magalies-Moot by sy dogter Leané en skoonseun Marcius Coetzee se huis wat in ‘n brand vernietig is.

Smit het toe na die slaapkamer waarin Opperman was gehardloop en haar wakker gemaak.

Hy wou die katte uit die hoofslaapkamer red, maar op Opperman se aandrang het hulle na buite gevlug.

Daarna het hulle die ruit met ’n baksteen gebreek om die twee katte, Jack en Jill, te red.

Sy is dankbaar dat niemand seergekry het nie. Hulle kon ook hul twee honde, wat tydens die brand buite was, red.

Coetzee, ’n onderwyser by Laerskool Lindo Park, sê sy en haar man, Marcius, het oorgeslaap by Dinokeng-reservaat na ’n bruiloffunksie, toe hulle die oproep kry.

“Ons behoort aan ’n buurtgroep van die GPF-Sektor 4 en ander lede het toe reeds op die WhatsApp-groep van die brand gepraat. Bure het met bakkies water na die huis gegaan om die brand te blus. Die brandweer het hul ook na ons eiendom gehaas.”

Die Coetzee-egpaar van Magalies-Moot kon min persoonlike en sentimentele besittings red toe hul besittings in puin gelê is.

Sy benadruk dat al die kamers en die inhoud daarvan toe reeds in ligte laaie gestaan het.

Toe sy en haar eggenote binne 45 minute na die oproep daar aankom, was meeste van die vlamme geblus, maar die skade was reeds gedoen.

Die dak is vernietig en die inhoud van die vertrekke soos meubels, klere en toestelle is nou deel van die puin.

Danksy die goedhartigheid van bure het hulle ’n tydelike gratis oorslaapplek totdat hulle weer op hul voete kan kom.

Coetzee se vriendin, Cherize Wilken, het die gemeenskap gevra om die Coetzees en haar pa en suster te help om op hul voete te kom.

“Ons is so dankbaar vir hoe familie, vriende en die gemeenskap ons reeds ondersteun het,” sê Coetzee.

Leané en Marcius Coetzee.

Die versekering sal nie al hul bates kan vervang nie. Hulle benodig ook basiese benodigdhede soos klere en selfsorgprodukte.

’n Register van hul behoeftes is opgestel. Diegene wat wil bydra is gevra om hierdie goedere tydens ’n funksie om 13:00 op 7 Oktober te oorhandig. Die fondsinsamelingspunt in die Moot sal nog bevestig word.

Donasies kan deurgebel word na Leané Coetzee op 082 530 0871.

Geliefde akteurs gee kleur aan film vol karaktervolle karre en kleurvolle nagkabaaie

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button