Geliefde akteurs gee kleur aan film vol karaktervolle karre en kleurvolle nagkabaaie
Die bekroonde film, Hans steek die Rubicon oor, se blik op die ouerwordproses is meesal komies maar dra ook die melankolie oor van 'n generasie met 'n hunkering na die persoonlike vryheid van weleer.
’n Paar gelukkige Pretorianers kon onlangs ’n voorskou van die nuwe film Hans steek die Rubicon Oor geniet.
Die film begin amptelik eers op 29 September landwyd in teaters te draai, maar ’n Pretoria-gehoor kon ’n voorskou geniet danksy die filmvervaardigers se goedgunstige instemming aan veral ouetehuise en pensioenarisse.
Applous was telkens aan die orde van die dag in die teater verlede week toe vele van die inwoners situasies op die silwerdoek kon herken en hardop kommentaar gelewer het oor hoe hulle hierdie tonele soms in hul lewens sien afspeel.

Hierdie getrouheid aan die werklikheid is beslis ’n pluimpie vir die regisseurs, Corné en René van Rooyen.
Die film bly ook getrou in stemming en tema aan die boek met dieselfde titel deur bekende skrywer Rudie van Rensburg.
Hans van Kraaienburg voel na ’n leeftyd in die voorstede met sy eie huis nie tuis in die ouetehuis waar sy dogter hom laat opneem nie; merendeels omdat hy ingeperk voel.
Hy onderneem verskeie ontvlugtingspogings. Hy beland telkens in die sop soos om in ’n dobbelhool en paaldanssalon te beland.
Hans besluit dan om liewers nie net homself te bevry nie, maar ook al die inwoners van onsinnige regulasies van die drakoniese tiran van ’n matrone.

Die storielyn hierrondom ontplooi geleidelik, maar kry so van die middel van die film spoed.
Die verhaalgegewe van die vier bejaarde ouderdoms-anargiste boei tot die einde, en dis geen kleinskaalse opstootjie nie.
Kieries en krukke vlieg vinnig rond. Pêrels en looprame word verwoed geswaai en Google word telkens ingespan na ’n bril versigtig op ’n neus gebalanseer is.
Die pas word goed deur die regisseur afgewissel van effe stadig aan die begin en versnel met ’n spoed tot die finale ontknoping waar Hans triomfantelik leiding neem van ’n nuwe bestel.
Die Van Rooyens het die film in drie bekende tehuise vir bejaardes in Kaapstad geskiet, onder meer Nazareth House wat in 1902 gebou is en by ’n eetsaal van ’n Rondebosch-ouetehuis.
Die agtergrond met Tafelberg wat ’n wakende oog hou, gee veral kleur aan die buitelugtonele soos karaktervolle voertuie wat deur die ou Distrik Ses met ’n spoed rits.
Deure word met ’n barrikade van kieries en rolstoele toegepak en die lang gange word telkens met ’n falanks van susters en assistente afgestap om op die ingeperkte lewe in hierdie instelling te wys.

Die film het ’n sterverdeling van Afrikaanse akteurs wat al dekades harte verower, soos Pierre van Pletzen in die naamrol, Sandra Prinsloo en June van Merch, sowel as Tobie Cronjé.
Maar die film se byspelers is ook vir fliekvlooie ’n sterbelaaide bonus met ’n skitterende nuweling of twee.
Nuwe spelers soos Pretoria-skoolsielkundige Juan-Pierre Möller in die rol van Huis Madeliefie se ouetehuis-assistent Esmeraldus staan uit.
Met sy oormatige verkleinwoorde, gedienstige en gedweë houding en vinnige vooroorstappie ontplooi sy karakter getrou net om skielik in ’n verrassende ontknoping te beland. Möller is voorwaar ’n vars briesie. Hou hom dop. Dit is sy eerste film, maar het wel ’n paar advertensies op sy kerfstok.

Daar is so ’n “High Noon”-oomblik toe Hans en Matrone mekaar van oog tot oog ontmoet en meet.
Die sin vir die komiese melodramatiese is ’n kuns wat die vertolker van die matrone-rol, Nicola Hanekom, bemeester het. Deur slegs een gesigspier te beweeg, verander sy ’n hele gesigsuitdrukking terwyl sy totaal in beheer bly.
Ook die gesoute Pierre van Pletzen speel die rol van Hans meesterlik deur sy vertolking eerder te onderspeel. Van Pletzen bring na die rol ’n sekere soort melankolie wat met die ouerwordproses gepaard gaan. As Hans gebruik hy ook sonderlinge woorde uit ’n vergete Afrikaanse woordeskat soos “onrusstokers”. Hy speel ’n oorgeduldige ouer teenoor sy dogter wat uit verre internasionale oorde moet heen en weer om met haar pa se manewales geduldig te bly.
Diaan Lawrenson vertolk die rol van dogter oortuigend met ’n netjies chignon en die sofistikasie van ’n wêreldreisiger. Min aktrises kan ook ’n ontwerper-handsak soos Lawrenson as ’n noodsaaklike rekwisiet van elegansie gebruik.
Die film is meesterlik ingekleur met die keuse van voertuie. Van die ouetehuis se bussie wat teen ’n slakkepas beweeg tot die twee bendelede se warmgemaakte oranje Escort uit die jaar toet, sowel as die sukkelende Golf van die twee nagklub-rampokkers, vang die oog.
Daar is humoristiese hedendaagse verwysings soos die troppie oues wat met hul verset-optog soos #feesmustfall ’n luiddrugtige slagspreuk uitdink.
Maar die film se byspelers is ook vir fliekvlooie ’n sterbelaaide bonus met ’n skitterende nuweling of twee.
Nuwe spelers soos Pretoria-skoolsielkundige Juan-Pierre Möller in die rol van Huis Madeliefie se ouetehuis-assistent Esmeraldus staan uit.
Met sy oormatige verkleinwoorde, gedienstige en gedweë houding en vinnige vooroorstappie ontplooi sy karakter getrou net om skielik in ’n verrassende ontknoping te beland. Möller is voorwaar ’n vars briesie. Hou hom dop. Dit is sy eerste film, maar het wel ’n paar advertensies op sy kerfstok.
Agtergrond-figurante soos die halsstarrige inwoner wat verseg om sy pille te drink en dit in sy kierie versteek, word fyn ingeweef in die teks. Op ’n ontknopingspunt val die loopstok en rol jare en jare se medikasie daaruit.
’n Hoogtepunt is die oorspronklike klankbaan deur Charl-Johan Lingenfelder wat die verlange van die goue jare uitbeeld.

Die film word gepas met ’n Koos Kombuis-liedjie afgesluit.
Die rolkleding met die regte uitrustings is uitmuntend met stylvolle Sandra Prinsloo in nommertjies en juwele, definitief in Kaapstad se talle vintage winkels opgespoor. ’n Verskeidenheid japonne en nagkabaaie word in verskeie tonele gesien sowel as netjiese jurke vir die hospitaalpersoneel.
En natuurlik het Hans homself ’n outydse frokkie soos ouer here nou maar eenmaal in hul klerekas het.
Neem gerus ’n ouer lid van jou familie na die lewensgetroue blik op ouer word op jou eie terme!
– Kliek hier vir ’n voorskou:
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
