Eersterust se brandkraan nou reg, maar riool stroom steeds in strate
Eersterust se munisipale probleme van riool tot straatligte wat nie werk nie moet een vir een aangespreek word tot hul opgelos word, meen ’n afgetrede gemeenskapsleier.

Die gemeenskap in Eersterust kan weer moed skep nadat die brandweer ’n plan kon maak met die lekkende brandkraan.
“Nou moet ons die metro kry om die riool wat uit die mangat stroom op die hoek van Rootslaan en Hanscoverdale Oos-weg aan te spreek en die straatligte rondom Kanna- en Arumlilystrate weer kry om te werk. Ons vat hierdie probleme nou een vir een,” sê geliefde gemeenskapsleier en bekende in kerkkringe in Eersterust, pensioenaris Leslie Holworthy,.
Vir hom was dit goeie nuus dat die brandkraan op die hoek van Kanna- en Arumlilystraat tydelik deur stopapparate van die brandweer toegemaak is.
Vir Holworthy was die water wat vir ’n geruime tyd deur die stukkende brandkraan gelek is ernstige watervermorsing.

Hy was ook bekommerd dat die kraan nie tydens ’n brand sou werk nie.
“Inwoners van Eersterust moet weet as ’n probleem aangemeld word by iemand verantwoordelik kan daar wel ’n verskil aan die situasie gemaak word,” sê Holworthy. “Dis ongelukkig egter nie altyd so nie.”

Die kraan was deurgeroes aan die onderkant.
Volgens Holworthy het hy die mangat met die stromende riool reeds ’n geruime tydjie gelede aan die metro rapporteer.
Hy is egter van bakboord na stuurboord gestuur, al het hy ’n verwysingsnommer gehad.
“Die riool is ’n steen des aanstoots vir almal en onhigiënies. Niemand wil verantwoordelikheid neem nie,” sê Holworthy.
Hy het die metrowerker ontmoet wat ondersoek kom instel het.

Daar is aangedui dat die nodige toerusting en masjinerie nie beskikbaar is om die probleem op te los nie.
“Ek het vir hom gesê dis ’n flou verskoning. Die stadsraad kan ’n masjien huur. Dis onnodig dat ons gemeenskap moet ly onder so ’n gebrek aan toerusting,” meen Holworthy.
Navrae is aan die Tshwane metro gerig, maar geen kommentaar is teen druktyd ontvang nie.
Lees: Skoonheidskoningin laat die koppe draai in Parys
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
