LifestyleLocal news

Skoonheidskoningin laat die koppe draai in Parys

Mej SA, Natasha Joubert, het saam met twee ander glansvroue uit Suid-Afrika harte gesteel tydens die Parys Modeweek.

Centurion-skoonheid en Mej SA, Natasha Joubert, het die modemekka Parys se Modeweek verlede week bekoor met haar stylvolle uitrustings.

Joubert het die hoofstad van Frankryk besoek as ’n eregas van die Modeweek se skoonheidsborg, L’Oreal.

Sy is na talle etes en geleenthede genooi, waar sy elegante uitrustings van Suid-Afrikaanse mode-ontwerpers gedra het.

“Die reis was een vir die boeke en een van die beste ervarings van my lewe,” sê Joubert.

Natasha Joubert in Parys tydens die Parys Modeweek. FOTO: Christiaan Mostert

Sy het veral die mode-fotosessies in verskeie tipiese Franse liggings soos voor die Eiffel-toring geniet.

Haar Salomie du Plooy-uitrusting van ’n miniromp en kort toppie het asems op haar eerste aand in die modestad tydens ’n partytjie weggeslaan.

“Dit was so ’n groot voorreg om Suid-Afrika te verteenwoordig by geleenthede soos die modevertonings by die Eiffeltoring en partytjies op die eerste verdieping daarvan. Daar was soveel lekker goedjies te drinke en te ete,” sê Joubert wat reeds terug in Suid-Afrika is.

Sy het ook vir ’n wyle saam met ’n optog van die skoonheidshuis se modelle op die loopplank tydens ’n modevertoning gestap in ’n baadjie en kraleromp deur onderskeidelik ontwerpers Sherif Tailor en Gert-Johan Coetzee.

Mej. SA, Natasha Joubert het tydens die Paryse Modeweek verskeie glansuitrustings wat deur deur Suid-Afrikaanse mode-ontwerpers gemaak is, na glansgeleenthede gedra. FOTO: Christiaan Mostert.

Joubert het ook nou teruggekom met ’n nuwe droom.

“Om volgende jaar op die loopplanke van Parys as model gesien te word. Dis my doel,” sê sy opgewonde oor die moontlike vooruitsig.

Sy bewonder Suid-Afrika se kletskoningin-mediapersoonlikheid, Bonang Matheba en die skoonheidshuis se eerste Ambassadeur in Sub-Sahara Afrika en Suid-Afrikaanse akteur, Thuso Mbedu, wat tydens hierdie Modeweek wel op die loopplanke tydens die Le Défilé-modevertoning te siene was.

Joubert het op haar tweede aand uit op TikTok gedeel hoe trots sy op haar wit minirok is, wat deur Suid-Afrikaanse ontwerpershuis, Doll House Emporium, ontwerp is.

Sy is wel spyt dat sy nie die Springbokke se wedstryd kon bywoon nie as gevolg van visaprobleme.

“Ons was ook in die mooiste vyfsterhotel ingeboek en daar was baie bederfies vir ons gelos,” sê die skoonheid wat van haar eie skoonheidsrolmodelle soos voormalige Mejuffroue Heelals sowel as ander glansvroue soos Kennel Jenner tydens die modevertonings gesien het.

“En daar was ook ’n na-partytjie in die Eiffeltoring toe als verby is. Stel jou voor! ’n Afterpaartie in die Eiffeltoring sommer net om te meng en gesien te word!”

Hennops warriors back on Centurion streets

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button