Local news

Pretoria-kunstenaars vat hande om pasiëntjies te laat glimlag

Pasiëntjies van Pretoria soos Zaylen Huysamen is een van die talle kinders wat rekonstruktiewe chirurgie nodig het, wat sal baat deur die fondse wat deur die Glimlagfees ingesamel is.

Verskeie kunstenaars van Pretoria het bygedra om van die Glimlagfees ’n reusesukses te maak.

Die fees is aangebied om fondse in te samel vir die Smile Foundation, ’n stigting wat rekonstruktiewe gesigschirurgie borg vir kinders wat daarby kan baat.

Fees-ambassadeurs, Qman en Borrie van Pretoria Noord, het tydens die geleentheid vir die skare van meer as 12 000 benadruk dat hulle bydra om weer ’n glimlag op ’n kindergesiggie te kry.

Stigter en hooforganiseerder, Danie van Deventer, voel die fees het nie net goed verloop nie, maar is vir ’n goeie doel aangebied.

“Saam kan ons beter wees. Ons waardeer die publiek, media en borge se ondersteuning so baie. Ons hoop om vanjaar met die fondse wat ingesamel is nog ’n groter verskil te kan maak aan kinders wat sulke chirurgie nodig het,” bevestig Van Deventer.

Michelle Giammartimi, geleentheidsbestuurder van Smile Foundation, is dankbaar oor die geldelike bydrae van die Glimlagfees aan die stigting.

Sy is ook dankbaar vir bewusmaking via die fees van die stigting se werksaamhede.

“Die Smile Foundation kan ’n kind se lewe verander deur aan hulle ’n glimlag te gee. Dit kan nie sonder skenkings, soos dié van die Glimlagfees, gebeur nie,” glo sy.

Henry Bruinette, Borrie en QMan.

Een van die Pretoria-pasiënte wat vanjaar te danke aan ’n borgskap van die Smile Foundation ’n rekonstruktiewe operasie kon ondergaan, is Zaylen Huysamen (7).

Hy is gebore met microtia, ’n kongenitale abnormaliteit van die buite-oor wat een uit elke 8 000 tot 10 000 nuutgebore babas beïnvloed.

Giammartimi verduidelik sulke abnormaliteite kan in ’n erge graad soos in Zaylen se geval, of in ’n minder intense graad, voorkom.

Marizaan, Zaylen se ma, vertel dat haar grootste wens is om haar seun ’n normale lewe te sien leef.

“Ek wil nie hê hy moet seerkry of daar moet met hom die spot gedryf word omdat hy anders as ander kinders lyk nie,” sê sy.

Sy is dankbaar vir borge soos die Glimlagfees en die Smile Foundation, sowel as medici wat sulke operasies moontlik maak.

Zaylen het reeds een operasie ondergaan en daar lê nog twee vir hom voor.

CheraLee Lubbe, Elme Churr en Carma.

Van die Pretoria-kunstenaars wat saamgewerk het om die fees moontlik te maak, is bekende radio-aanbieder Martin Bester, Janie Bay, Kurt Darren en Samantha Leonard sowel as die driestuks, Cheralee Lubbe, Elme Churr en Carma.

Lubbe sê sy voel geëerd om deel van die fees te kon wees.

“Die visie van die organiseerders en die Smile Foundation kom so mooi ooreen met ons groep se harte. Wat is nou beter as om glimlagte op mense se gesigte te sien?”

Geliefde veearts se collie-hond nou weer uit en tuisa

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button