Local newsLocal sport

Pretoria-paartjie vier Bokke se oorwinning dubbel en dwars

Vir die Holliday-paartjie van Pretoria het die Springbokke se oorwinning Saterdag op 'n heuglike en bykans soortgelyke manier die oorwinning in 2007 herhaal.

Vir die Holliday-paartjie van Pretoria-Noord was die oorwinning van die Springbokke oor die All Blacks op 28 Oktober ’n spesiale dag vir ’n rede van hul eie.

Andri (35) stel dit so: “Watter getroude paartjie kan sê hulle nasionale span het op hulle onderskeie verjaarsdae ’n rugbywêreldbeker-finaal gewen?”

Jandré Holliday se 36ste verjaarsdagkoek wat op die dag wat die Bokke die Wêreldbeker verower het, gesny is.

Sy het 19 jaar oud geword toe die Springbokke die Wêreldbeker-toernooi in 2007 gewen het.

In haar verjaarsdagmaand op 20 Oktober 2007 het John Smit die Webb Ellis-beker opgelig ná ’n oorwinning van 15-6 oor Engeland in die eindstryd.

Dit is al 16 jaar gelede. Die geskiedenis het homself in hul gesin die pasafgelope naweek op ’n soortgelyke manier herhaal.

Haar eggenoot, Jandré, het vanjaar op 28 Oktober 36 jaar oud geword toe die Springbokke die All Blacks in Parys, Frankryk, met 12-11 verslaan het.

Beide wedstryde is in die Stade de France-stadium gespeel.

Vir Andri is die soete toeval van die datums en geleenthede ook ’n nostalgiese blik op die 16 jaar tussenin.

Nou – 2023: Agter: Andri en Jandré Holliday. Voor: Adrian en Janco.

Die Hollidays ken mekaar van skooldae af, het in 2004 begin uitgaan en is in 2011 getroud.

“In 2007 met my verjaarsdag het ons ook op die Groot Dag soos enige trotse Suid-Afrikaanse gesin gebraai en gedans tot die son opkom! Die oorwinning was ook vir my simbolies van ’n nuwe begin,” verduidelik sy.

In dié jaar het sy begin studeer en was reeds ’n groot rugbyondersteuner.

“Die verskil tussen 2007 en 2016 was my partytjie was by sy ouerhuis en ons was sowat 50 mense, maar daar was nog geen kinders nie.”

Vanjaar met haar eggenoot se verjaarsdag is die geleentheid op Pebble Rock Golf Estate naby die Roodeplaat-dam gevier saam met meer as 40 vriende en geliefdes.

“En 36 kinders waarvan twee ons eie is. So het die tye van ons lewe verander,” lag Andri.

By beide geleenthede was daar ’n spogkoek en heerlike Springbok-verwante snoeperye en peuselkos in die landsvlag se kleure.

Vir beide was die wen van die trofee deur die Bokke ’n groot verjaarsdaggeskenk.

“Ons sal hierdie geleentheid onthou want met sulke geleenthede waar ons kan saamkom, besef ons daar is rêrig hoop vir ons kindertjies wat so kaalvoet tydens die geleentheid rondgehardloop het,” sê Andri.

Die Springbokke se amptelike foto van die 2023-span.

Lees: Flooding warning puts Tshwane, Eskom on high alert

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button