Local news

Selfdoen-inisiatief onderweg in Doornpoort na Tshwane voete sleep

Inwoners van Doornpoort het 'n groep gestig om met selfdoen-inisiatiewe buurtprobleme soos besoedelde spruite en slaggate te takel.

’n Groep inwoners wat op moedverloor se vlakte was, het hul eie aksiegroep, Ons sal self – Doornpoort, gestig.

Hulle het verniet gewag op reaksie van die Tshwane metro, na burgemeester Cilliers Brink in Julie vanjaar hulle besoek het om na hul griewe te luister.

Die groep het in die laaste twee weke van Oktober ingespring om die probleme, wat aan die burgemeester uitgewys is, op eie houtjie aan te pak.

Hierdie uitdagings vir die buurt en inwoners sluit in toenemende misdaad rondom die Mimosa-spruit en -vleiland in Amandelboomstraat as gevolg van vullisstorting en verwaarlosing van die omgewing.

 

Yolande Henning van Ons sal self – Doornspruit by Mimosa-spruit in Amandelboomstraat, Doornpoort.

“Die eende swem weer!” het een van die lede van die groep, Yolande Henning, vertel nadat ’n skoonmaakgroep twee ure lank die vleiland met grassnyers en skoonmaakspanne getakel het.

Die self-inisiatief het leiding ontvang van AfriForum se Quentin Meyer en sy Noord van die Berg-tak van hoe om te werk te gaan om sulke self-aksies te loods.

AfriForum het toestemming van die Tshwane metro om sulke aksies in sekere areas vir skoonmaakprojekte te loods.

Slaggate in Doornpoort se strate is ook reeds getakel en herstel. Hiervoor het Ons sal self – Doornpoort hande geneem met kontrakteurs wat AfriForum gebruik.

Slaggate in Dr. Swanepoel- en Airportstrate was eerste aan die beurt.

Die skoonmaak-aksie rondom Mimosa-spruit in Doornpoort het die verwydering van geroeste draad en riete ingesluit.

Henning sê sy is oorstelp deur die geesdrif waarmee sakelui gehelp het deur water en sonroom vir die skoonmakers te skenk.

“Die op-en-wakker gemeenskap het ook van hul tuinwerkers gebring en ons kon wa-vragte riete en bosse wegry by die spruit,” sê Henning.

Vullis wat in die water ronddryf, is afgeskep en ook weggery na stortingsterreine.

Sy glo die groep se positiewe ingesteldheid van “Kyk iemand moet begin en dit kan netsowel ons wees” sal hulle dra.

Henning benadruk egter dat die stryd om die stadsraad betrokke en aanspreeklik te hou vir die uitgee vir erfbelastingbetalers se geld sal ten spyte van die selfdoen-aksies voortduur.

“Dis drie maande reeds wat ons geen reaksie op beloftes van Tshwane metro, soos ’n formele afspraak tussen die burgemeester en gemeenskapsverteenwoordigers gekry het nie. Ons gaan voort om hulle te kontak vir die afspraak.

“Ons het nou ook volgens ons reg as belastingbetalers gevra om die stadsbegroting vir Doornpoort te sien om seker te maak ons hou hul verantwoordbaar vir uitgawes.”

Die kantoor van die Tshwane-burgemeester is om kommentaar gevra maar teen druktyd is geen kommentaar nog ontvang nie.

Lees: Dieretuin se oudste dier word 50

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button