Eeufeesvieringe vol prettige oomblikke
Die Laerskool Anton van Wouw in Brooklyn se eeufeesvieringe was ’n vrolike viering van jare se toewyding aan leerders, opvoeding en voortreflikheid.
Met ’n piekniek rondom die land se grootste speelkasteel, ’n spesiale liedjie gekomponeer deur oud-leerlinge Barto Swiegers en Retief Burger met die titel “Leef op ’n honderd” en staaltjies deur talle oud-skoolhoofde, het die leerders van die Laerskool Anton van Wouw in Brooklyn op 27 Januarie gemoedelik en ontspanne hul eeufees op die skoolterrein gevier.
Carel van Rooyen, waarnemende skoolhoof, sê die eeufees is egter meer as net ‘n fees.
“Dit is ’n viering van ’n ryk geskiedenis en nalatenskap. Die skool is ’n baken van uitnemendheid vir tien dekades al met stil helde wat agter die skerms werk om groei, inspirasie en samehorigheid te bevorder,” benadruk Van Rooyen.

Die skool is op 27 Januarie 1925 gestig as Nu-Muckleneuk Skool en is in 1958 na die beeldhouer Anton van Wouw herbenoem.
Op 27 Januarie 1925 was die hoof, WJ van der Heever en twee onderwysers, E Grobbelaar en JJ van Vooren, aan diens vir die eerste 61 leerlinge. Die skool het een stoel en een tafel besit. Vir die eerste rukkie was daar geen skoolmateriaal en leerboeke nie.
In Nieuw-Muckleneuk was daar toe 37 huise, Waterkloof was dun bevolk en in Groenkloof was daar een huis. Die hoof het dadelik dadelik baie bome op die terrein aangeplant. ’n Eerste fondsinsamelingsprojek het R8 vir ’n biblioteekfonds opgelewer.
Na ’n kort geestelike openingsrede deur ds. André van Niekerk en die sing van die skool se gunsteling lied, “My emmertjie loop oor”, het oud-skoolhoofde en onderwysers hul herinneringe gedeel.
Dit was veral die legendariese oud-onderwyser met die bynaam “Die Groot Goue Leeu”, oftewel Johan de Wet, wat groot applous ontlok het met sy verhale rondom die dae toe hy die rol van Willem Tandmuis ingeneem het tydens skoolure en menige leerder met ’n wisseltand gehelp het om die tand te trek en vertel het hoe om die Tandmuis te verwittig daar is ’n tand te koop.
De Wet was ook bekend vir sy strategie dat ’n suigstokkie ver kan gaan om ’n traan of twee te keer.
Voormalige departementshoofde soos Hanlie Geertsema en die stigter van die skool se groot fondsinsamelingsprojek, die Verefees, Alto de Vos, het ook die eeufeesvieringe bygewoon.

Die gospelsanger, Retief Burger, het per video laat weet hy is as oud-leerling opgewonde oor die skool se mylpaal.
“Daar is sulke goeie onderwysers by die skool en ons kon sommer ook kaalvoet gegaan het,” sê Burger.
Oud-skoolhoof Chris Henning het vertel hoe verbaas hy was in sy eerste maand by die skool oor hoe stil dit op die stoepe en in die klasse was met net ’n enkele kind wat hom iewers heen haas met ’n rooi lêer ter hand. Mettertyd het hy uitgevind dit was die inisiatief van ’n juffrou wat ander leerkragte wou waarsku die skoolhoof is op pad. Dit was eintlik die “Tjips!Hier kom Meneer!”-lêer.
Kobie van Rooyen, oud-leerling en onderwyser, het die leerders vermaak met sy staaltjies oor die dae toe daar nog skoolpatrollies en ’n fietsloods was, en die Wynland-sporttoere Kaap toe begin het.
“En daar was iets wat julle nie ken nie! Fietslisensies! En as jy nie een gehad het nie moes jy R5 boete betaal!” vertel Van Rooyen.
Na die saalbyeenkoms het die leerders elk met ’n roomys en piekniekmandjies op die reuse opblaaskasteel op die rugbyveld baljaar geniet en balspeletjies gespeel.
Marica Botha, bemarkingsbestuurder by die skool, verduidelik die eeufeesvieringe was die begin van ander vieringe soos ’n skoolrevue, straatmark en straatdans.
“Ons wil ook in die derde kwartaal ’n sanger saam met die Wouwtjie-koor laat optree.”
Kliek hier vir ’n blik op die eeufeesvieringe.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.


