Local news

Afrikaans 100: Skatkis van Rina se liedjies oopgemaak

As veelsydige sangeres het Rina Hugo oor verskeie genres vreugde met haar liedjies gebring.

Twee musikante van Pretoria-Noord van die klavierduo, Elzanté, span saam met verskeie ander musikante van regoor Suid-Afrika om skuins na Valentynsdag eer aan ikoon Rina Hugo in hul Ons Liedjieskatkis-reeks te bring met ’n vertoning, Die liedjies van Rina Hugo.

Hugo tree nie meer self op nie sedert sy haar uittrede in 2022 aangekondig het, maar het haar volle ondersteuning daarvoor aangebied.

Sy reik haar eerste album uit in 1983 en word een van Suid-Afrika se gunsteling- Afrikaanse kunstenaars met die liedjie “Ek sien vandag die son weer skyn”.

Vir meer as vier dekades vermaak Hugo gehore met van die mooiste liedjies, en word ’n legende. Sy het in 2018 die FAK se Prestige-toekenning vir die bevordering van Afrikaanse musiek verwerf.

Johan van Rensburg en Rina Hugo.

Sy is nederig oor haar bydrae tot die die Afrikaanse musiekskatkis. Sy het aan Rekord gesê haar bydrae sal deur ander bepaal moet word.

Vir haar is dit nodig om te weet of die liedjies wat sy gesing het, iets sinvol vir iemand in ’n sekere tyd van hul lewens beteken het.

“Al wat ek weet, is dat ek probeer het om musiek te sing vir die mense wat betekenis in liedjies soek. Ek het probeer boodskappe bring wat mense sal verstaan,” sê die sanger wat uitgeblink het in feitlik alle genres wat deur ’n solis beoefen kan word naamlik: Opera, oratorium, operette, musiekblyspele, die kunslied en ligte musiek.

“Indien my musiek iemand aangeraak, bly gemaak of hartseer gemaak het of ’n gevoel in hul wakker gemaak het, het ek gereken dis ‘n suksesvolle lied,” glo Hugo.

Sy het nooit self liedjies geskryf nie, maar altyd ander mense se komposisies gesing.

“Daar is so baie talenvolle liedjieskrywers in ons land,” glo sy.

Haar opnamewerk saam met haar musikant-eggenoot, Johan van Rensburg, staan vir haar uit.

“Johan het min saam met my opnames gemaak, maar so nou en dan het ons saam liedjies opgeneem veral met meer ernstige musiek of musiekblyspele. Ek het hom altyd gevra om die verwerkings te doen want hy was goed daarmee,” vertel sy.

Sy herinner haar ook hoe haar geestelike liedjies ’n rol in haar eie en haar bewonderaars se lewens gespeel het.

Hugo is bekend vir haar vertolking van veral “Die nuwe Jerusalem” en “Jerusalem”. Beide sal in die vertoning in die Liedjieskatkis-reeks in Februarie deur al die kunstenaars gesamentelik aangebied word.

“Elke keer wat iemand na my gekom het, en vertel ’n sekere lied het veel vir hulle beteken op ’n sekere oomblik was dit spesiaal vir my as uitvoerende kunstenaar. My groot doel was om met my liedjies ’n bydrae tot mense se lewens te maak en en ek hoop ek het dit wel reggekry,” sê Hugo.

Anthony en Elzabe Tosen

Anthony Tosen van Elzanté vertel, behalwe dat hy grootgeword het met Hugo se musiek, het hy die voorreg gehad om Bles Bridges se Superbowl-konsert te sien in 1987 waar Hugo die voorprogram gedoen het.

“Ek was toe maar nege jaar oud en sy was op haar gewildste. Daardie jaar was “’n Tikkie Vryheid” die land se nommer een treffer. Jare later, in 2008, kry ons die geleentheid om saam met haar op te tree by ’n huldeblyk aan Anneli van Rooyen, en ’n jaar later weer by ’n groot Afrikaanse musiekfees. Ons word ook gevra om die voorprogram te doen vir die bekendstelling van haar en Manuel Escorcio se duetalbum. Nooit kon ek op negejarige ouderdom dink dit sou kon gebeur nie!” vertel Tosen.

Vele ander konserte het hierop gevolg: “Ons was ook bevoorreg om goeie vriende te word.”

Sy wederhelfte, Elzabé Tosen, is al vir 25 jaar ’n geliefde en gewilde musiekjuffrou in Pretoria-Noord. Sedert 2005 het hulle klaviervertonings begin aanbied. Elzanté is ’n samestelling van hulle voorname, Elzabé en Anthony.

Vir beide hierdie pianiste, is Hugo se musiek ’n uitstekende keuse om verhoog toe te bring veral in die jaar wat Afrikaans sy honderjarige bestaan as ’n amptelike taal van Suid-Afrika vier.

“Min het ons geweet hoe moeilik is haar liedjies om te speel en te sing. Haar stemregister is fenomenaal. Maar, na ’n goeie paar oefensessies, is dit van die lekkerste liedjies om te vertolk,” glo hy.

Die paartjie het groot name uit die musiekbedryf nadergetrek om juis aan hierdie sonderlinge talent van Hugo, sowel as die liedjies wat sy gesing het, eer te bring.

PietFrik Liebenberg
Rouchelle Liedemann

Saam met Elzanté kan vier ander kunstenaars gesien word, naamlik Andriëtte Norman, Louis Loock, Rouchelle Liedemann en PietFrik Liebenberg. Hulle word vergesel van ’n ses-stuk orkes met van die land se voorste musikante soos Hansie Roodt (kitaar), Alouise (baskitaar), Lizelle le Roux (viool), Danie Coetzee (digitaal) en Vinnie Henrico (tromme).

Loock, voormalig van Pretoria-oos en Centurion en nou tuis in die Wes-Kaap, gaan “Hoor jy my stem oor die see” sing asook ’n duet saam met Andriëtte Norman (“Time to say Goodbye”) sowel as ’n duet saam met PietFrik Liebenberg (“Verlore is ons nie”.)

Andriette Norman.
Louis Loock

Loock, ’n voormalige Romanz-sanger, is ook bekend vir sy onlangse optrede oor musiekblyspele by die Pierneefteater in die Moot.

“Rina se liedjies het so ’n groot deel van ons lewens geword,” voel die sanger wat vanjaar benoem is vir ’n Fiesta-toekenning vir ‘n beste prestasie in klassieke musiek.

“Die liedjies wat sy bekend gemaak het, vergeet mens nie. As jy net die name noem, kom die herinneringe vir baie van ons terug,” vertel Loock.

Hy glo die liedjies wat sy bekend gemaak het, het nou blootsteling onder ’n nuwe geslag musiekliefhebbers nodig.

“Sy is een van ons land se beste soprane. Ek kan so met haar musiek vereenselwig, maar ook met haar loopbaan en die keuses wat sy moes maak om wel ook ’n klassieke loopbaan te volg, maar steeds ook populêre liedjies te sing,” vertel Loock.

Die vertoning is veral lekker vir hom omdat dit ook in Afrikaans se 100-jarige bestaansjaar plaasvind.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button