Local news

Turksvyfees bly tops

Turksvye het al tot die redding van menige boer en entrepreneur gekom.

Honderde feesgangers het Saterdag na die Voortrekkermonument gestroom om weg te lê aan bakke koue, sappige, wit, geel of bloedrooi turksvye.

Die veelsydigheid van die vrug het die besoekers gou opgeval en menige turksvy-liefhebber het opgemerk hulle het nie geweet jy kan soveel eetgoed van die vrug maak nie.

Die kuns is natuurlik om die vrug met sy lastige dorings so te benader dat jy nie met doringstof op jou vingers ná die lekker-eet sit nie.

Ruan Linde, ’n vervaardiger van turksvysap, het ’n demonstrasie gegee oor hoe om ’n turksvy te skil. Hy het ’n paar wenke gegee oor hoe om te werk te gaan om nie die dorings aan jou hande te kry nie.

“Hanteer die vrug met rubberhandskoene. Vryf met ’n growwe doek om fyndorings af te kry en spoel in water af. Druk stewig vas met ’n vurk op ’n houtbord en sny die twee eindpunte met ’n skerp mes af. Sny oorlangs sodat daar ’n snit in die skil is. Rol vanaf die snit die vrug versigtig uit met die vurk en ’n mes.”

Nog ’n wenk van ’n turksvyliefhebber is om jou turksvy op koerantpapier te skil. “Dit werk net makliker om die blaaie van die koerant toe te vou oor die skil met jou vurk en die koerantpapier dan weg te gooi,” sê Chrissie Pretorius.

Turksvye het al tot die redding van menige boer en entrepreneur gekom.

Coert Hobbs van Meyerspark gebruik turksvye van Cullinan om verskeie produkte soos veral turksvyjellie en -blatjang te maak. Hy was 30 jaar in die polisie, maar het nou ’n nuwe beroepslewe as ’n kos-entrepreneur.

“Ons het in die pandemie met grendeltyd begin om ernstig al meer eksperimente met konfyte en ingelegde produkte te maak nadat ons eerste produk, beetkonfyt, ’n sukses was. Turksvyprodukte was gou gewild,” vertel Hobbs wat nou reeds 46 verskillende produkte op markte verkoop.

Hy doen aan die hand dat turksvyjellie veral oor roomys bedien word. “En as jy dit self wil kook, help so bietjie ekstra pektien om die regte tekstuur te kry.”

Vir Kobus van Zyl van turksvy- en granaatplaas Ubali aan die oostekant van Pretoria in die Seringveld-reservaat, was turksvyboerdery ’n moontlike goeie alternatief vir ingeval sy granaatboerdery as gevolg van ’n gebrek aan water sou swaarkry.

Vandag staan daar 6 000 turksvybome op sy plaas. Hy bedryf die boerdery saam met Louis Swanepoel. Hulle spesialiseer ook om jong turksvybome van hoë standaard aan ander turksvyboere te lewer.

Hul vrugte word aan verskeie afsetpunte vanaf begin-Desember tot einde-April gelewer.

“Turksvye is lekker maar ook gesond en ’n goeie bron van kalsium en potassium,” verduidelik Van Zyl.

Van die gewildste stalletjies was dié van Petro Boshoff van die Moot. Sy kry turksvye van ’n boer in Thabazimbi en verkoop die vrug self maar ook produkte waarvan sy self die resepte uitgedink het.

Boere en besoekers kon ook lesings bywoon wat aangebied was deur dr. Gesine Coetzer, prof. Maryna de Wit en dr. Herman Fouché.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button