Reets se stemnotas word kwashale van klank
’n Sanger van Centurion skep musiek tussen skottelgoed en stiltes. Van haar verhoogvrees tot verhoogvreugde bring sy ’n unieke folk-blues klank, met lirieke in Afrikaans en Engels wat innige verbintenisse skep.
Die eerste ding wat jy oor Reets (verhoognaam) moet weet, is dat sy nie wag vir ’n swierige klavier of op toestemming van die samelewing om liedjies te kan skryf nie
Hierdie inwoner van Centurion se liedjies word dikwels gebore tussen skottelgoedskuim.
Dink so daaraan: Sy is halfpad deur ’n opwasbak vol seepwater, en ’n melodie vorm dan in haar kop.
Uit kom die selfoon, die rooi opnameknoppie word gedruk, en nog ’n stemnota beland in haar digitale kluis van lirieke, melodieë, refreine en half-voltooide idees.
Dit klink nou nie juis soos die glanswêreld van rockmusiek nie, maar dit is onpretensieuse Reets.

Haar liedjies het al sedert 2019 met haar debuutliedjie, “Tea, Wine and Time” bekoor.
Ander liedjies soos “Spieël” sowel as “Cocoon” en “Disbelief”, is bekend onder haar aanhangers op veral optredes tydens die toere wat sy al na KwaZulu-Natal en Mpumalanga onderneem het. Sy speel ook gereeld op kunstefeeste soos Splashy Fen of Innibos.
“Ek het ’n hele biblioteek vol idees,” lag sy. “Hulle kom wanneer ek dit die minste verwag.”
Uit daardie verbeeldingryke chaos borrel musiek wat weier om gemiddeld te wees.
Reets se moedertaal is Afrikaans, maar sy skakel gemaklik heen en weer tussen Engels en Afrikaans, afhangend van die liedjie, die emosie of die gehoor.
“Elke taal het sy eie kenmerkende smaak,” sê sy. “Soms is daar net daardie een woord in Afrikaans wat my gedagtes aan die gang sit. Ander kere dra ’n Engelse woord weer presies die gevoel wat ek wil uitdruk.”
En wanneer sy ’n liedjie vir iemand spesifiek skryf?
“Dan kies ek die taal wat hulle die beste my diepste gevoelens sal laat verstaan.”
Haar wortels lê in die genres van blues en rock, meesal te danke aan haar tienerjare, toe sy kitaar leer speel het.
Soos wat sy meer blootstelling gekry het, het folk-musiek en alternatiewe rock haar musiek en kunstenaarskap ingekleur.
Reets se musiek is soos ’n palet: Elke lied ’n nuwe kleur en elke vertoning ’n ander kwashaal.
Daar loop ’n goue draad deur haar kunstenaarskap: sy wil nooit net gewoon te wees nie.
Sy was in ’n stadium doodbang vir die verhoog. Tot in 2020 het sy haar verhoogvrees telkemale moes beveg.
“Elke keer as ek op ’n verhoog opklim, het dit gevoel of ’n leeu my aan flarde wil skeur,” erken sy.

Daardie leeu en eertydse verhoogvrees is nou ’n bondgenoot. “Vandag is die verhoog my gunstelingplek op aarde,” glimlag sy.
Die gehoor se energie is vir haar belangrik. “Mense besef nie hoe groot ’n invloed hulle op ’n kunstenaar het nie. Party aande voel dit nie asof ek vir hulle speel nie, maar saam mét hulle.”
Om liedjies te skryf is nie vir haar ’n oefening in teorie nie.
“Ek dink nie aan musiekteorie en akkoorde nie. Dis intuïtief. Ek hoor die melodie in my kop, en probeer dit dan op die kitaar uitwerk.”
Soms wens sy sy het musiek studeer.
“Ek hoor ’n klank in my kop, maar weet nie altyd hoe om dit raak weer te gee nie. Kennis sou dit makliker gemaak het.”
Reets is dankbaar dat haar musiek gestroom kan word, al is daar min finansiële belonings daarvoor.
“Die feit dat my musiek mense regoor die wêreld bereik het, is vir my ongelooflik. Die emosionele beloning is baie groter as die finansiële een.”
Die eintlike beloning?

Toe die gehoor onverwags saam met haar die lirieke van “Spieël” gesing het tydens ’n optrede.
“Ek was eers skaam om die liedjie te deel, maar ná die vertoning het mense kom sê dit het hulle minder alleen laat voel. En dit, vir my, maak alles die moeite werd.”
Haar nuwe mini-album met die titel, Gestroop, wat op 22 September verskyn met vier snitte daarop, is vol emosionele eerlikheid.
Die liedjies bestaan slegs uit kitaar en sang, en is gestroop van ander instrumente of geproduseerde klanke.
Die vier liedjies is oor ’n ruim tydperk geskryf en het elk sy eie hartklop. “Dis nie radiotreffers nie. Dis storie-liedjies.”
Van die liedjies daarop is “Hekse Vrou”, “Bok”, “Stomme See” en “Hoekom”.
Sy glo in samewerking. “Om saam te werk met iemand wat jou visie verstaan en wat jou help om jou beste optrede te lewer, is kosbaar.”
Haar droom? Om Joni Mitchell se skryfproses dop te hou. “Sy is so uniek. Ek sou net daar wou sit en kyk hoe sy ’n liedjie bou.”
Luister jy na haar tydens ’n optrede weet jy gou Reets wil met haar musiek op ’n dieper vlak met mense ’n verbintenis vorm.
Haar liedjies en vertolkings is briewe uit haar binnekamer: soms in Engels, soms in Afrikaans.
Miskien is dit hoekom sy haar stemnotas oor haar liedjies so versigtig bêre.
Want sy weet: kuns vat tyd en soms, word die mooiste melodieë juis gebore wanneer jy nie eers daarna soek nie.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
