Volop aksie by derde “Moer ‘n Boer” gevegskuns toernooi
Die derde seisoen van die baie gewilde ‘Moer ’n Boer’ TV-reeks is die afgelope naweek op 'n hoogtepunt afgesluit met die finale gemengde gevegskuns toernooi, wat by die die Heartfelt Arena oorkant die Voortrekkermonument in Centurion aangebied is.
Liefhebbers van gemengde gevegskuns kon die afgelope naweek weer hoë oktaan aksie by die Heartfelt Arena oorkant die Voortrekkermonument in Centurion beleef, toe die derde “Moer ’n Boer” televisiereeks se finale toernooi daar aangebied is.
Altesaam 13 hokgevegte, waarvan 10 deel was van die “Moer ’n Boer” reeks en nog drie verbonde was aan die organiseerders se ewe gewilde Versus MMA Promosie, is Saterdag afgehandel.
Soos met die meeste werklikheidstelevisie programme word kykers oor ’n tyd meegesleur met die doen en late van al die boere wat inskryf, maar die uiteindelike fokus is op die manne se voorbereiding om aan die finale gemengde gevegskuns toernooi deel te neem.
In aanloop tot die finale toernooi word die boere onderwerp aan intense opleiding in gemengde gevegskuns, terwyl hulle ’n strawwe kondisioneringsproses deurgaan. Hierdie fase word ook onder die wakende oog van ’n mediese praktisyn gedoen en die deelnemers se gesondheid en fiksheid word gemonitor.

Foto: Charmaine Visser

Foto: Charmaine Visser

Foto: Charmaine Visser

Foto: Charmaine Visser
’n Verdere uitdunproses, waarby ook ander sportsoorte én plaasaktiwiteite in spanverband betrokke is, lewer dan uiteindelik die boere wat aan die finale toernooi deelneem.
Die boere wat aan Saterdagaand se aksie deelgeneem het, is weer in twee spanne – die Rooispan teen die Blouspan – opgedeel. Nog een van die reeks se unieke kenmerke is die feit dat almal in Khaki-uitrustings veg. Die deelnemers kry volgens gevegskuns tradisie ook almal byname en vanjaar is ondersteuners blootgestel aan innoverende name soos Rob “Broodboom” Robberts, Hannes “Tarrentaal” Bornman, JW “Ouer Skouer” Dercksen, Franco “Roes” Venter en Jannes “Kool Inspekteur” Snyman.
Die gevegte vind plaas oor drie rondtes. Daar word vuisgeslaan, geskop en gestoei en geen genade word gevra of gegee nie.
Eregaste soos die wêreldbekende gemengde gevegskuns ghoeroe, Morné Visser, afrigter van UFC kampioen Dricus du Plessis, asook die wenner van die sterkman-wêreldkampioen, Rayno Nel, was langs die gevegshok om die vegtende boere te ondersteun.
Voordat die boere mekaar in die gevegshok kon aandurf is die toernooi afgeskop met drie gevegte in Versus Promosies se liga. Hierdie aksie het die groot skare in die Heartfelt Arena voorberei vir die opwinding wat sou volg.

Foto: Verskaf

Foto: Charmaine Visser

Foto: Charmaine Visser
Die meeste gevegte is in die die swaargwig kategorie beslis, maar daar was ook lig-swaargewig, middelgewig en weltergewig gevegte. Die enigste geveg wat met ’n uitklophou beëindig is, was die swaargewig tweestryd tussen Corné van der Merwe en Ryno de Jager. Van der Merwe was op ’n stadium in die moeilikheid, maar met twee desperate agtereenvolgende regter-haak houe het hy De Jager verras en hom planke toe gestuur om die oorwinning te beklink.
Drie gevegte is deur tegniese uitklophoue beëindig, drie wenners het hul teenstanders met die smoorgreep metode oorrompel en drie gevegte is deur die beoordelaars se telkaarte met punte beslis.
Hoewel die kompetisie in spanverband aangebied word, word ’n algehele kampioen van die reeks ook aangewys. Faktore soos algemene prestasie tydens die reeks, asook ’n stemming deur kykers en ondersteuners, bepaal uiteindelik die algehele kampioen.
Die oud provinsiale rugbyspeler, Henko Marais, wat sy swaargewig geveg ten spyte van ’n beseerde voet teen Hannes Malan met punte gewen het, is as algehele kampioen van Moer ’n Boer se derde seisoen aangewys.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
