Local news

Eersterust-vroue vier Vrouemaand met swierige teefunksie

Meer as 80 dames het ’n feestelike Vrouemaand-funksie in Eersterust geniet met kleurvolle tafels, musiek, sang, dans en inspirerende boodskappe.

’n Swierige en feestelike Vrouemaand-funksie is op 16 Augustus deur die Christelike Vrouebediening van die Verenigende Gereformeerde Kerk in Eersterust aangebied.

Met keurige breekgoed, spoggerige messegoed, verskillende geurige koppies tee en kleurvolle tafels het meer as 80 dames ’n middag vol inspirasie, musiek en vreugdevolle geselskap geniet.

Audrey Coetzee en Travella Cupido

Volgens die president, Audrey Coetzee, was die dames ‘al te pragtig uitgedos’ en is ’n verskeidenheid van sang, dans en motiverende boodskappe gedeel.

Die gewilde sangeres Ricky Tuckeldoe het die gehoor beïndruk met haar stem en ’n persoonlike getuienis gedeel oor hoe sy ná ’n besering weer op haar voete kon kom.

Radiokansel-aanbieder Sheryl Mudly het die gehoor herinner aan die krag van vroue wat mekaar ondersteun.

Sy het gesê: “’n Vrou word nie gedefinieer deur haar klere, haar titel, haar voorkoms nie, maar deur die manier waarop sy omgee, die vriendelikheid wat sy deel, die deernis wat sy vir mense het”.

Rechelle Leyds was een van die gasvroue by die Vrouemaand-funksie van die VGK-gemeente in Eersterust.

Sy glo vroue kan veel oorlewe. “Dit verg moed, veerkragtigheid, dapperheid en vasberadenheid om ’n reis in ’n vrou se skoene te stap.”

Ds. Angelique Ghall, predikant van die Verenigende Gereformeerde Kerk, het verduidelik dat die funksie nie net Vrouemaand vier nie, maar ook fondse insamel vir ’n komende vrouekonferensie.

Sanger Ricky Tuckeldoe en Veronica Stuurman

Sy het beklemtoon: “Dit was ’n besonderse byeenkoms van vroue. Ons raak so vasgevang in huishouding, ma-wees, vrou-wees en tannie-wees. Die funksie het die geleentheid gebied om mooi aan te trek, as vriendinne saam te wees en net te kan ontspan in mekaar se teenwoordigheid. Dit gee ons weer moed om aan te gaan met dit wat voorlê”.

Brenda Hofsta (voor) en Veronica Mouers

Die funksie is afgerond met geskenke, pryse en ’n gevoel van samesyn.

“Dit was ’n dag van vreugde en inspirasie wat lank onthou gaan word in die gemeenskap,” glo een van die gasvroue, Rechelle Leyds.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button