EntertainmentLocal news

Omstrede Afrikaanse film gaan temperature laat styg

’n Gewaagde Afrikaanse komedie is eersdaags beskikbaar op ’n TV-stroomdiens. Pretoria sanger en akteur Abel Knobel vereenselwig hom met die sensitiewe karakter. Die film kombineer humor, romanse en uitdagende temas, en bied ’n vars, opregte kyk na identiteit en menslike verhoudings.

Khaki Fever is nie sommer net nog ’n Afrikaanse filmkomedie nie.

Dit is ’n gewaagde satire wat met die eerste kyk jou óf ongemaklik gaan laat voel óf hardop laat lag.

Al het die film ’n Engelse titel, is dit beslis ’n film in pittige en spitsvondige Afrikaans.

Vanaf 5 September is dié komedie beskikbaar op die TV-stroomdiens Showmax, en dit gaan beslis nie ongesiens verbygaan nie.

Die storie draai om ’n groep veldwagters op ’n privaat wildreservaat wat eerder hul sjarmante aandag op die vroulike gaste en personeel van ’n lodge vestig as op die Groot Vyf en volhoubare bewaring.

 

Die film maak opslae met sy benadering tot komedie, liefde en identiteit, alles met ’n flinke skeut romanse en smeulende tonele.

Een van die bekendste gesigte in die rolverdeling is die talentvolle Pretoria-sanger en akteur Abel Knobel, wat al bekendheid verwerf het met sy rolle in onder andere Ompad, Spoorloos, Binnelanders en die verhoogstuk Die Kaplyn.

In Khaki Fever vertolk hy die rol van Marco, ’n sensitiewe, romantiese veldwagter wat in die hart van die bos sowel as in dié van ’n vroulike gas sy grootste avonture beleef.

Wat hierdie rol besonders maak, is hoe Knobel homself met Marco kon vereenselwig.

Volgens hom was dit nie ’n ligte besluit om aan die omstrede film deel te neem nie.

Hy verduidelik: “Dit was nie ’n besluit wat ek oornag geneem het nie, maar dit was vir my duidelik dat ek die rol moet aanvaar. As akteur het ek geweet dit sal my uitdaag en ’n mens groei altyd wanneer jy jou eie grense verskuif.”

Hy het die karakter van Marco goed bestudeer en sê hy kon heelwat van homself raaksien. “Die situasie waarin hy homself bevind, is eintlik so buite sy menswees en waardes, maar die hart agter sy besluite en hoe ver hy bereid was om te gaan vir ware liefde… [Dit het] die besluit om die rol te aanvaar eintlik baie maklik gemaak.”

Die tema rondom seksualiteit en intieme tonele was vir hom ’n uitdaging, veral omdat dit vir sommige kykers omstrede kan wees.

Wat die atmosfeer op die stel betref (die film is onder 20 dae geskiet), was dit allesbehalwe ernstig.

Volgens hom het die humor so aansteeklik geword dat selfs die tegnici agter die kamera moes probeer om nie te lag nie.

Hy sê: “Die dialoog is nie net skerp en tong-in-die-kies nie. Die ruimte om te improviseer het ook gelei tot van die snaakste oomblikke wat kykers vir ewig gaan onthou.”

Hierdie vryheid en kreatiwiteit maak die film anders as konvensionele lekkerlag Afrikaanse films, meen Knobel.

“Dis juis daardie element van vryheid, kreatiwiteit en opregte spel wat die film onderskei.”

Die première by die Kyknet Silwerskermfees in Augustus in Kaapstad was ’n aanduiding van die impak wat die film gaan hê.

Knobel vertel dat die gehoor nege keer spontaan tydens die verloop van die film hande geklap het.

Op die vraag of hy homself as ’n romantiese held sien, antwoord hy met ’n volmondige ‘ja’.

Vir hom is dit Marco se opregtheid en kwesbaarheid wat hom aantreklik maak.

“Marco is ’n tipiese en hopelose romantikus in sy hart. Hy is verlief op die bos, maar hy is nog meer verlief op Embeth. Dit is juis sy eerlikheid en sensitiwiteit wat maak dat hy snaaks en aantreklik is.”

Knobel, wat self ’n digter en liedjieskrywer is, sê hy kon maklik met die karakter identifiseer.

Hy het al ’n album, Refleksies die lig laat sien en is bekend vir sy liedjie, “Meisie op die strand”.

“Ek is ook ’n sensitiewe siel met ’n passie vir die natuur en ’n geloof in ware liefde. Daardie stereotipiese hopelose romantikus resoneer met my op baie vlakke.”

Vir kritici van die film het Knobel ’n eenvoudige boodskap.

“Mense moet dit eers kyk voordat hulle ’n opinie vorm. Daar is baie erger inhoud daar buite waaroor niemand praat nie. Khaki Fever is net die eerste Afrikaanse film wat hierdie soort storie met styl, humor en hart vertel. Wat ook al jou verwagting is, wees bereid om verras te word.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button