Local newsNews

Kleinfontein-skikking plaas dorpstigting onder vergrootglas

Die ooreenkoms is volgens die gemeenskap se bestuur nie ’n oorwinning nie, maar ’n raamwerk vir verdere formalisering. Intussen plaas die metro se hantering van Kleinfontein die metro se breër benadering tot dorpstigting onder die vergrootglas.

Die kultuurgemeenskap Kleinfontein in Pretoria-oos se onlangse hofskikking met die metro lei ’n nuwe fase in vir ’n jare lange konflik oor grondgebruik en dorpstigting.

Die ooreenkoms is volgens die gemeenskap se bestuur nie ’n oorwinning nie, maar ’n raamwerk vir verdere formalisering.

Intussen plaas die metro se hantering van Kleinfontein, die metro se breër benadering tot dorpstigting onder die vergrootglas.

Die hofgoedgekeurde skikking beklemtoon ’n breër munisipale uitdaging rondom nedersettings en ontwikkelings wat gevestig is sonder om die konvensionele dorpsontwikkelingsproses te voltooi.

Kragtens ’n bevel wat die Gautengse Hooggeregshof in Pretoria op 4 Augustus toegestaan het, moet Kleinfontein Aandeleblok teen 31 Augustus ’n omvattende grondontwikkelingsaansoek indien vir die voorgestelde dorp Kleinfontein Uitbreiding 1.

Dit sal as ’n nuwe aansoek hanteer word en ’n volledige openbare deelnameproses insluit.

Die skikking volg ná jare se gesprekke tussen Kleinfontein en die metro.

Dannie de Beer, ondervoorsitter van Kleinfontein, het bewerings verwerp dat die ooreenkoms op voorkeurbehandeling neerkom.

“Verteenwoordigers van die gemeenskap het sedert 2024 herhaaldelik met munisipale amptenare vergader en aan rondetafelgesprekke deelgeneem,” het De Beer uitgewys.

In 2025 het die metro 17 ontwikkelings geïdentifiseer wat hy as onwettig beskou en ’n burgemeesters-subkomitee ingestel om moontlike maniere te ondersoek om dit aan te spreek.

Die lys het Kleinfontein, Leeuwfontein en Mooikloof, ook bekend as Tweefontein/Wallmannsthal, ingesluit.

Die jongste raadsbesluit oor die 17 ontwikkelings dateer uit Mei 2025, toe ’n beleidsraamwerk vir die hantering en toekomstige voorkoming van onwettige dorpsvestigings as opdrag van die stadsraad ontwikkel moes word.

Daar is egter geen aanduiding in die jongste gepubliseerde raadsvergaderingrekords dat ’n finale, omvattende beleid sedertdien deur die raad aanvaar is nie.

Leeuwfontein is ’n nedersetting wat tot ’n aansienlike woongebied ontwikkel het, met inwoners wat formele erkenning en munisipale dienste verlang. Die metro handhaaf dat formalisering van die ontwikkeling die nodige beplannings- en ontwikkelingsgoedkeurings vereis.

Mooikloof is eweneens deur die metro ingesluit by ontwikkelings waarop die metro se fokus moet val ingevolge sy breër benadering tot onwettige dorpsvestigings.

Die metro het met die totstandkoming van die subkomitee aangedui dat geen van hierdie 17 ontwikkelings identies is nie en dat elkeen volgens sy eie omstandighede oorweeg moet word.

Dié onderskeid sal belangrik wees namate Kleinfontein sy formaliseringproses betree.

De Beer het beklemtoon dat die hofbevel nie die praktiese en finansiële uitdagings wat voorlê vir Kleinfontein verwyder nie.

Volgens hom sal bestaande geboue, infrastruktuur en verbeterings deur die metro in ag geneem word as deel van die ontwikkeling.

Kleinfontein moet egter steeds aan formele beplanningsprosesse voldoen en die tegniese werk voltooi wat nodig is om sy aansoek te ondersteun.

Grond-, verkeers-, elektriese en siviele ingenieurstudies is volgens De Beer reeds aan die gang.

Hy het gesê die vereistes kan aansienlike finansiële druk op die gemeenskap plaas, met miljoene rande wat moontlik nodig sal wees om bestaande ontwikkeling aan die toepaslike standaarde te laat voldoen.

Die bevel verbied ook verdere konstruksie of ontwikkeling van geboue, wonings of verbeterings terwyl die aansoeke oorweeg word, behalwe infrastruktuur wat deur die munisipaliteit vereis word.

Hy het verduidelik dat geen nuwe aandeleblokke mag gedurende dié tydperk deur die aandeleblokmaatskappy uitgereik word nie.

Die metro se besluit om vanaf September 2024 tariewe vir ontoelaatbare gebruik op die eiendomme te hef, is ook hersien en tersyde gestel.

Munisipale rekeninge aan eienaars en die aandeleblokmaatskapy sal voortaan die werklike huidige gebruik weerspieël, terwyl uitstaande bedrae binne 60 dae ná die bevel vereffen moet word.

Vir Kleinfontein is die onmiddellike prioriteit dus nie meer bloot die geskil met die metro nie, maar die veeleisende formaliseringproses wat deur die skikking geskep is.

De Beer het die uitkoms beskryf as ’n skikking eerder as ’n oorwinning.

Volgens hom is dié onderskeid is belangrik.

“Die hofbevel gee nie aan Kleinfontein onbeperkte erkenning nie. Dit skep eerder ’n regsroete waardeur die voorgestelde dorp nou oorweeg kan word, onderhewig aan beplanningsvereistes, openbare deelname en verdere tegniese ondersoeke.”

Die belangrike vraag vir die metro is hoe dié proses sal vergelyk met die oplossings wat uiteindelik vir die ander ontwikkelings op sy lys gevolg sal word.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button