Stemme in Harmonie bring hoop en hulp
Die Noot vir Nood-Koorfees op 20 September in Pretoria bring kore saam om fondse vir rolstoele in te samel. Musiek en gebaretaal verenig gemeenskappe en gee hoop, waardigheid en onafhanklikheid aan persone met gestremdhede. Kaartjies kos R100.
“Ons sien ongelooflik uit om deel te wees van die Stemme in Harmonie-konsert.”
Só sê Carmen Bredenkamp, koorleier van Hands of Harmony, die koor van die Transoranje-skool vir Dowes.
“Ons is veral dankbaar dat dit ’n geleentheid is wat persone met gestremdhede vier, en dat ons leerders die kans kry om ander in hierdie gemeenskap te kan ondersteun. Vir ons is dit ’n geleentheid om te wys dat musiek en kuns nie grense het nie. Selfs al ervaar ons musiek op ’n ander manier, kan ons dit deur Suid-Afrikaanse Gebaretaal ten toon stel,” sê sy verder.
Die besonderse koor is deel van ’n Moot-koorfees op 20 September in die NG Kerk Rietfontein-Suid in Pretoria.
Die Noot vir Nood-Koorfees, wat ook bekend staan as Stemme in Harmonie, is nie bloot nog ’n musiekaand nie. Dit is ’n projek om fondse in te samel vir rolstoele wat spesiaal aangepas word vir individue met gestremdhede.

Vir Hands of Harmony het deelname aan hierdie fees ’n besondere betekenis.
Bredenkamp verduidelik hul program vir die aand bestaan uit drie liedere: twee gewilde, inspirerende liedere wat die gehoor beslis sal geniet, en een Christelike lied wat hul geloof en hoop weerspieël.
“Ons gebruik musiek wat mense ken en liefhet, maar gee dit ’n nuwe lewe deur dit in gebaretaal uit te druk sodat die gehoor kan ‘sien’ hoe ons die musiek ervaar. Ons gaan ook saam met die ander kore in die massakoor-item deelneem, waar ons deur gebaretaal optree terwyl die ander kore saamsing. Dit is vir ons ’n groot voorreg om hande te vat met horende skole se kore om saam ’n boodskap van eenheid oor te dra,” vertel sy.
Hierdie optrede verg egter toewyding en ekstra inspanning.
“Die grootste uitdaging is dat ons leerders self nie die musiek kan hoor nie,” verduidelik sy. “Hulle beleef dit visueel en emosioneel. Ons as begeleiers hoor die musiek en lei hulle deur Suid-Afrikaanse Gebaretaal, ritme en bewegings.”
Sy wys daarop dat ’n verdere uitdaging is dat die hele program van die aand vir hul leerders toeganklik moet wees.
“Dit beteken dat ons personeel ook verantwoordelik is om die res van die musiek-items, sowel as enige aanbiedings of praatjies, vir die leerders te tolk. Gelukkig het ons ’n wonderlike span wat beurte maak om dit te doen tydens lang programme.”
Sy verduidelik dat hulle op hierdie manier kan verseker dat hul dowe leerders die aand ten volle kan ervaar en deel daarvan kan wees.
“Dit is juis hierdie tipe uitdagings wat ons optredes só uniek en spesiaal maak, omdat dit wys dat musiek nie net gehoor kan word nie; dit kan ook gesien, gevoel en gedeel word.”
Bredenkamp gee ruim erkenning aan haar mede-dirigent, Megan Bester. “Ek en Megan stap so ‘n spesiale pad met die koor en het so ‘n besonderse mooi reis saam met die kinders in die koor gehad die laaste twee jaar.”
Die kaartjies kos R100 per persoon, maar die ware waarde van hierdie belegging in ’n kaartjie lê in wat die ingangsgeld moontlik maak.
“’n Rolstoel is nooit ‘een-grootte-pas-almal’ nie,” verduidelik Helene van Wyk, woordvoerder van die National Council of and for Persons with Disabilities.
“Elke rolstoel is ’n lewensveranderende hulpmiddel wat mense nie net mobiliteit gee nie, maar ook waardigheid en onafhanklikheid. Wanneer die publiek ’n kaartjie koop, koop hulle eintlik ’n kans vir iemand om ’n nuwe lewe te begin.”
Die koorfees bring ’n uiteenlopende groep stemme en gehore saam, met die doel om hoop en solidariteit te vier. Onder die deelnemers is ook die junior en senior kore van Laerskool Voorpos, die junior koor van Laerskool Constantiapark, die Magaliesberg Kinderkoor, asook die bekende SingFonix Manne-ensemble.
“Saam gaan hulle wys dat musiek en sang veel meer as klanke kan wees: dit is ’n universele taal wat harte aanraak en gemeenskappe nader aan mekaar bring,” sê Van Wyk.
Sy beklemtoon die groter visie: “Ons wil hê mense moet verstaan dat hulle kaartjie nie net toegang tot ’n aand van uitstekende musiek koop nie. Hulle koop hoop. Hulle koop mobiliteit. Hulle koop waardigheid vir iemand wat dalk al lank wag op ’n rolstoel wat regtig pas. Dit gaan oor die geskenk van onafhanklikheid.”
Op die aand van die fees, wat om 19:00 begin, sal die gehoor ’n program beleef wat van ligte, inspirasievolle liedere tot diep geestelike klanke strek. Vir navrae of kaartjieaankope kan belangstellendes Helene van Wyk per WhatsApp by 083 554 4941 kontak.
– Kliek hier om ‘n video te sien van ‘n uitvoering van die Transoranje Skool vir Dowes.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
