Tygerpoort-tjokkers straal op nasionale teaterverhoog
’n Laerskool in Pretoria-oos se toneelgroep is as finalis vir die ATKV-Tjokkertoneel gekies met hul produksie “Romeo en Juliet met tamatiesous”. Ná groot sukses by die Gauteng-streeksfees, waar hulle beste akteur, aktrise én regisseur gewen het, wag die spelers nou in spanning op die nasionale finaal.
Laerskool Tygerpoort in Pretoria-oos se tjokkertoneelgroep is gekies as een van die ses finaliste wat vanjaar na die nasionale finaal van die ATKV-Tjokkertoneel genooi is.
Die leerders se produksie, Romeo en Juliet met tamatiesous, het nie net gehore by die Gauteng-streeksfees vermaak nie, maar ook die beoordelaars se harte gewen.
Die ATKV-Tjokkertoneel is ’n unieke platform waar laerskoolkinders hul eerste treë in die wêreld van verhoogkuns gee.
Dit bied aan jongmense die kans om stories deur spel en beweging lewendig te maak en terselfdertyd selfvertroue en kreatiwiteit te ontwikkel.
“Dit is vir my ongelooflik en ek is baie trots en dankbaar dat ons toneelgroep as finalis gekies is,” sê Nico Coetzee, skoolhoof van Laerskool Tygerpoort.
“Dit is ’n groot eer om ons skool en kinders se talente op só ’n groot platform te kan wys. Die kinders het hul harte uitgewerk en al hul kreatiwiteit in die produksie gesit, en dit is vir ons ’n bewys dat deur deursettingsvermoë en samewerking groot dinge moontlik is. Ons sien uit daarna om die finaal vol ywer en trots aan te pak.”

Vanjaar word die nasionale finaal van 6 tot 11 Oktober by die Pam Golding Baxter-teater in Kaapstad aangebied.
Daar sal gehore vermaak word met ’n kunsaanbieding van drie van die ATKV se geliefde projekte, ATKV-Sêr, ATKV-Tienertoneel en ATKV-Tjokkertoneel.
Volgens Mercia Eksteen, woordvoerder van die ATKV, lê daar iets besonders in die groei van die tjokkertoneelafdeling.
“ATKV-Tjokkertoneel is die vinnigste groeiende deel van die ATKV se toneelaanbod en bring slim, opwindende mini-tonele van 25 minute wat laerskoolkinders die mag van storie, taal en visuele uitbeelding laat ontdek. Hier word selfvertroue, kommunikasievaardighede en verbeeldingsvermoë speels en magneties ontwikkel,” verduidelik sy.
Die pad na die finale rondte was nie maklik nie. Na vier streeksfeeste regoor Suid-Afrika in Durban, Pretoria, Bloemfontein en Kaapstad is die ses beste produksies uit ’n totaal van 67 gekies.
Met meer as 1 200 jong deelnemers, het die kompetisie getuig van die enorme talent in die ouderdomsgroep.

Vir Laerskool Tygerpoort was die prestasie ekstra besonders.
By die Gauteng-streeksfees op 25 Julie het die skool reeds indrukwekkende erkenning ontvang.
Daar was 21 skole wat deelgeneem het, en beide die prys vir beste akteur én beste aktrise is deur Tygerpoort se leerders gewen.
Minke-Miné Neethling het gehore en beoordelaars bekoor met haar rol in Romeo en Juliet met tamatiesous en is as beste tjokker-aktrise aangewys.
William Smith, wat in die produksie Njannies Kapêla opgetree het, het die titel van beste tjokker-akteur verower.
Ook agter die skerms is Tygerpoort se talent erken: Anel Wood is bekroon as beste regisseur.
Hierdie drie toekennings is op sigself al ’n prestasie wat die skool se toewyding tot drama en kreatiwiteit beklemtoon.
Die ander finaliste vanjaar sluit in:
– Laerskool Durbanville met Die dag toe Willie Wepener skoolhoof geword het en Potloodsakkie – agter die zip,
– Laerskool Roodekrans met Kassandra en die Bendehuis
– Laerskool Gene Louw met Op die spel
– Laerskool De Hoop met Sjuut!
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.