Stortingsterrein-skande: Slegs 2 private terreine in Pretoria slaag oudit
Pretoria sukkel met toenemende verstedeliking, met die mislukking tot verantwoordelike afvalbestuur wat nie net ’n tegniese probleem is nie. Dit is ’n weerspieëling van die ineenstorting van plaaslike regering. Dit is die gevolgtrekking van navorsers van die onlangse oudit.
Die burgerregte-organisasie AfriForum het weereens die soeklig op Suid-Afrika se afvalbestuurskrisis geskyn in ’n landswye stortingsterreinoudit wat vroeg in September vrygestel is.
Hierdie keer met ’n sterk fokus op Pretoria.
Ondanks die hoofstad se strategiese -belangrikheid en -hulpbronne, het slegs twee stortingsterreine in die Tshwane metro die oudit geslaag, waarvan beide privaat bestuur word.
In sterk kontras, het elke terrein wat deur die metro besit word gefaal om aan die basiese standaarde vir verantwoordelike stortingsbestuur te voldoen.
Volgens Marais de Vaal, AfriForum-woordvoerder, bevestig hierdie resultaat ’n patroon in die organisasie se oudits oor die afgelope paar jaar.
“Privaat stortingsterreine presteer konsekwent beter as munisipale terreine, omdat hulle strenger gemonitor word en direkte gevolge in die gesig staar indien hulle sou faal om aan die vereistes te voldoen.
“Hul besigheids-oorlewing hang van nakoming af. In kontras, word munisipaliteite selde aanspreeklik gehou, selfs wanneer hulle blatant faal om aan wettige en omgewingsvereistes te voldoen,” sê De Vaal.
Van die ses stortingsterreine wat in die Pretoria-omgewing geoudit is, voldoen slegs The Waste Group se Mooiplaats- en Bon Accord-terreine aan die minimum nakomingsdrempel van 80%.
Mooiplaats veral het volpunte verdien en voldoen aan elke oudit-kriteria, soos daaglikse samepersing en afvalbedekking tot ordentlike tekens, toegangsbeheer en operasionele deursigtigheid.
Dit is in skerp kontras met die vier metro-terreine:
– Bronkhorstspruit – 66% (Faal)
– Hatherley – 68% (Faal)
– Ga-Rankuwa – 60% (Faal)
– Soshanguve – 72% (Faal)
Hierdie resultate onderstreep wat AfriForum beskryf as die ‘institusionele verrotting’ binne die plaaslike regering, waar basiese instandhouding en wettige vereistes verwaarloos word.
Terwyl vele terreine stilstaan in middelmatigheid, het Bronkhorstspruit ’n merkbare stap agteruit geneem.
Verlede jaar het hierdie stortingsterrein byna nie geslaag nie, met ’n telling van 74%. Vanjaar het dit tot 66% geval.
De Vaal skryf die afname toe aan mislukkings in sleutel operasionele gebiede.
Die oudit het ook ontbloot dat Bronkhorstspruit nie langer oor ’n funksionele afvalmonitorkomitee beskik nie, wat gemeenskapsverteenwoordiging en deursigtigheid ondermyn en openbare betrokkenheid insluit.
Nie alle nuus is egter negatief nie. Die Soshanguve-stortingsterrein, ondanks die onvermoe om die 80%-slaagsyfer te haal, het aansienlike vordering jaar-op-jaar getoon.
Volgens verlede jaar se oudit, het dit in verskeie kritieke aanwysers misluk, insluitend inspeksies van inkomende afval, samepersing, brandbestuur, herwinningsfasiliteite en die hantering van motorbande. Hierdie jaar is al hierdie kategorieë as ‘ten volle voldoen’ gemerk.
“Soshanguve het duidelik stappe geneem om sy bedrywighede te verbeter en ons vind dit prysenswaardig. Dit wys dat verbetering moontlik is binne dieselfde munisipale struktuur. Maar hulle kon steeds nie slaag nie. Toenemende vordering is geen plaasvervanger vir volle voldoening nie,” sê De Vaal.
Een area waar Soshanguve voortdurend agter is, is infrastruktuur, veral stormwaterbestuur, wat van kardinale belang is om deurlopende besoedeling (vloeistof wat besmettingstowwe geabsorbeer het nadat dit deur ’n stortingsterrein gevloei het) te keer en operasionele ontwrigtings gedurende reën.
Ten spyte van die erns van die bevindinge, het AfriForum nog nie met die metro in verbinding getree na die vrystelling van vanjaar se resultate in die eerste week van September nie.
“Ons het ’n versoek gerig om met die Departement van Bosbou, Visserye en die omgewing te vergader om ons bevindinge te bespreek en ook hoe hierdie oudits beter samewerking met munisipaliteite kan ondersteun,” sê hy.
“Ons doel is om te help om kapasiteit en aanspreeklikheid op te bou, en nie net om te kritiseer nie.”
AfriForum bly egter versigtig om hoop op die regering se reaksie te plaas.
Vorige vergaderings met munisipaliteite het min optrede ontlok, en die organisasie belê toenemend in alternatiewe, gemeenskapsgedrwe afvaloplossings.
Landswyd skets die oudit ’n donker prentjie: Slegs 22% van Suid-Afrika se stortingsterreine het die oudit geslaag, met 131 van die 169 terreine wat steeds faal om aan selfs die mees basiese standaarde te voldoen.
Terwyl Gauteng as ’n provinsie die toon aangee met ’n gemiddeld van 84%, word hierdie hoë gemiddeld verdeel deur private en beter-presterende munisipale terreine buite Tshwane.
“Munisipaliteite is veronderstel om gemeenskappe teen besoedeling te beskerm, maar meeste stortingsterreine word buite die wet bedryf en is gevaarlik. Die feit dat ongeveer 80% van terreine aan die basiese vereistes misluk is nie net ’n regeringsmislukking nie. Dit is ’n omgewings- en openbare gesondheidsrisiko,” sê hy.
Met min geloof in moontlike munisipale omkeerstrategieë, dring AfriForum aan op groter gemeenskapsbetrokkenheid en onafhanklikheid.
Die organisasie bestuur reeds gemeenskaps-afvalverwyderingsprojekte in plekke soos Bloemfontein en Centurion, en het verskeie plaaslike herwinningsinisiatiewe geloods wat aan hierdie projekte lewer, soos hul herwinningsprojek in die Moot.
Die projek se aantal kliënte het onlangs gestyg, en in Augustus verdubbel.
“Die enigste volhoubare manier vorentoe is nouer samewerking tussen gemeenskappe en munisipaliteite. Maar totdat munisipaliteite ’n bereidwilligheid om verantwoordelik op te tree demonstreer, sal gemeenskappe self leiding moet neem om hul eie omgewing te beskerm,” sluit hy af.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
