Van hondeliefhebber tot gidshond-spesialis
Alida Pansegrouw, 'n toegewyde gidshond-opleier, lei jong honde soos die lewenslustige Labrador Larry op om eendag mense met gestremdhede by te staan. Haar passie, kennis en liefde vir diere maak 'n tasbare verskil in hul lewens.
Wanneer jy met die vriendelike en bedagsame Alida Pansegrouw gesels, tref haar warmte en liefde vir diere jou dadelik.
Sy is nie net die opsigter van ’n span wat gidshonde onder twee jaar by die South African Guide-Dogs Association oplei nie, maar ook iemand wat die pad self gestap het met honde-opleiding. Van haar eerste liefde vir honde as kind tot die spesialis wat sy vandag is.
Dié talentvolle hokkiespeler is ’n ware leier in die wêreld van gidshonde, en haar geesdrif maak ’n opsigtelike verskil in die lewens van mense én diere.
Alida se ma, Risa, vertel met trots hoe haar dogter van jongs af al ’n spesiale band met honde gehad het. Risa ondersteun Alida met die honde-opleiding.
Risa vertel staaltjies oor hoe Alida saam met hul gesinshonde Caesar, Oortjies en Troepie grootgeword het. Dié honde was nie net troeteldiere vir die gesin en Alida nie, maar maats en leermeesters.
Dis dus geen verrassing dat Alida haar roeping in dieregedrag en -opleiding gevind het nie.
Na ’n loopbaan in die kunsbedryf, het Alida sowat nege jaar gelede besluit om haar passie te volg en ’n rigtingsverandering in haar lewe en beroep te maak.
Sy het begin met kursusse in honde-opleiding by ThinkingPets en daarna haar diploma in dieregedrag voltooi, ’n belangrike stap om gidshonde op te lei en gedragsprobleme te verstaan.
Sedertdien het sy in die opleiding van gids- en ondersteuningshonde gespesialiseer.
Tans lei sy hondjies op en sien toe dat hul voogouers die regte opleiding toepas sodat dié honde eendag iemand met ’n gestremdheid soos ’n gesiggestremdheid, of iemand in ’n rolstoel of op die outisme-spektrum kan bystaan.
Die pad van ’n ondersteuningshondjie na ’n opgeleide en bruikbare gidshond, begin lank voor hulle ’n harnas dra.
“Hondjies word nie gebore met die vaardighede om mense te help nie. Alles wat hulle moet weet, moet hulle aanleer,” verduidelik Alida.
Daarom dra hulle ’n spesiale harnasbaadjie met ’n logo daarop, wat wys dat hulle in opleiding is.
Die baadjie help die publiek om te verstaan dat hierdie hondjies nie gewone troeteldiere is nie, maar besig is om ’n belangrike rol aan te leer.
Sy hou self toesig oor die opleiding van die hondjies van die aanleer van basiese gedrag tot sosialisering en klasbywoning om aan mense asook ander honde en honderasse gewoond te word.
Haar werk behels ook dat sy gidshondvoogde ondersteun en opleiding bied, sowel as om seker te maak dat die hondjies veilig en liefdevol in hul tydelike huise kan ontwikkel.
“Dit is belangrik dat die perseel waar die hond gaan woon veilig is, sonder giftige plante, want jong hondjies is baie nuuskierig en proe graag aan alles,” sê sy.
Die regte karaktereienskappe in die hondjie, soos rustigheid, kalmte en ’n gebrek aan ’n onnodige geblaffery, word ook noukeurig gemonitor.
Sy werk hoofsaaklik met rasse soos Labradors en Golden Retrievers, wat bekend is vir hul kalm temperament en leerbaarheid.
Een van die hondjies tans onder haar toesig is Larry, ’n 10-maande-oue Labrador wat graag sy opinie lug en nogal ‘mondgedrewe’ is.
Hy is duidelik ’n goeie voorbeeld van sy ras met sy vriendelike, energieke en veral lojale geaardheid.
Alhoewel hy nog in die leerfase is, is daar hoop dat hy eendag ’n dienshond sal word wat iemand se lewe betekenisvol kan verander.
Die formele opleiding van gidshonde begin gewoonlik tussen 12 en 16 maande, en teen daardie tyd moet hulle al ’n goeie gedragsgrondslag hê.
Sy help ook voogouers van hondjies om mense met gestremdhede se lewensomstandighede te verstaan en verseker dat hondjies in die regte huishoudings geplaas word.
Haar taak strek selfs tot in die publieke domein. Sy help honde en hul voogde om gemaklik te wees in winkelsentrums en ander openbare ruimtes en reël vir toegang na sulke terreine.

Op 11 Oktober sal daar weer ’n gradeplegtigheid plaasvind waar ses gidshonde, agt outistiese ondersteuningshonde en vier teelhonde hul opleiding suksesvol voltooi.
Alida speel ook ’n belangrike rol in die hantering van die organisasie se teelmammas, die tefies wat spesiaal gekies word vir teeldoeleindes. Hierdie proses word fyn beplan in samewerking met internasionale organisasies; semen word byvoorbeeld na Onderstepoort gestuur waar kunsmatige inseminasie plaasvind om die bloedlyne skoon te hou.
Vir mense wat belangstel om ’n klein hondjie-voog te word, is daar verskeie vereistes. Jy moet bereid wees om aan sosialiseringklasse deel te neem, die nodige hanteringstegnieke aan te leer, en natuurlik jou huis hondjie-vriendelik te maak.
“Ons soek voogouers met liefde, geduld en respek vir ’n veilige omgewing,” sê sy.
En met Larry wat sy poot op haar been laat rus, weet mens talle ondersteuningshonde het al presies hierdie kwaliteite en meer in hierdie liefdevolle hondeliefhebber gevind.
– Dra jou sonbril en maak ’n verskil: Die South African Guide-Dogs Association het ook onlangs die derde jaarlikse Wear Your Shades Day aangekondig, wat op 18 Oktober plaasvind. Hierdie landswye veldtog vier World Sight Month deur bewustheid oor ooggesondheid te bevorder en steun te werf vir mense met gesiggestremdhede. Jy kan jou R20-plakker aanlyn aankoop via die organisasie se webtuiste www.guidedog.org.za en daarmee ’n verskil maak.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
