Local news

Moordklag teen regse Kommandokorps se Jooste

Kolonel Franz Jooste, voormalige weermagkolonel en Kommandokorps-leier, het op 12 September in Pretoria Noord op 'n moordklag verskyn. Hy word daarvan beskuldig dat hy George Edward Turner by 'n Vissershoek-plot doodgeskiet het. Die ondersoek duur voort.

Die voormalige weermagkolonel en bekende figuur en leier in die regse Kommandokorps-beweging, kolonel Franz Jooste, het op 12 September in die Pretoria Noord-magistraathof op ’n klag van moord verskyn.

Die saak is vir verdere ondersoek uitgestel en Jooste sal later weer in September in die hof verskyn.

Die klag spruit, volgens polisiewoordvoerder kaptein Johan van Dyk, uit ’n voorval op Saterdag, 7 September by ’n plot in Vissershoek, noord van Pretoria, waar George Edward Turner na bewering deur Jooste doodgeskiet is.

Volgens Van Dyk het die polisie net ná 13:55 daardie dag ’n noodoproep ontvang oor ’n beweerde moord op Plot 90 in die Vissershoek-omgewing.

“Toe die beamptes op die toneel aankom, het hulle ’n man aangetref wat op sy rug gelê het met ’n skietwond in die maag. Nooddienste is ontbied, en hulle het sy dood op die toneel bevestig,” het Van Dyk aan Rekord gesê.

Volgens Van Dyk, het die polisie die oorledene se eggenoot ondervra, wat beweer het dat sy en haar man die vorige nag ’n huishoudelike rusie gehad het.

Jooste beskuldig van moord. Kolonel Franz Jooste, Leier van die Kommandokorps Foto: www.kommando-korps.co.za

Sy het, volgens Van Dyk, aan die polisie gesê dat haar man haar aangerand het en daarna die huis verlaat het.

“Hulle het ’n kamer gehuur op die plot, en volgens haar het haar man later teruggekom en op gewelddadige wyse probeer om die hek wat gesluit was, oop te maak. Die eienaar van die eiendom en verhuurder, Franz Jooste, het glo die situasie probeer hanteer en daarna een skoot op die man afgevuur,” verduidelik Van Dyk.

Jooste het homself na die voorval in ’n huis op die perseel toegesluit en aanvanklik geweier om met die polisie saam te werk.

“Gyselaar-onderhandelaars is ontbied en het uiteindelik daarin geslaag om Jooste te oorreed om homself oor te gee. Hy is op die toneel in hegtenis geneem,” sê Van Dyk.

’n Soektog deur sy huis het verdere wapens aan die lig gebring, maar volgens Van Dyk is dit nog te vroeg om te sê of al die wapens wettig deur hom besit word.

Die Kommandokorps, waarvan Jooste ’n leier is, is al verskeie kere in die nuus oor hul paramilitêre kampe vir seuns tussen 13 en 19 jaar oud. Die ondersoek duur voort. Jooste is tans in aanhouding.

Kommentaar is van die Kommandokorps aangevra en sal bygewerk word sodra dit ontvang is.

LEES: Riglyne om oorstromings in stede te beheer word vrygestel

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button