Local news

Gemeenskapsleiers en polisie span kragte saam teen misdaad

Gemeenskapsleiers is onlangs in die voorafbeplanningsessie van Operasie Shanela in Villeria betrek. DA-Raadslid Adriana Randall beklemtoon sulke gemeenskapsbetrokkenheid en gereelde misdaadrapportering as noodsaaklik.

Op Saterdag, 6 September het die SAPD, in samewerking met verskeie wetstoepassingsagentskappe, ’n omvattende misdaadbekampings-inisiatief onder die vaandel van Operasie Shanela suksesvol uitgevoer in Silverton en Villieria.

Wat hierdie spesifieke operasie onderskei van vorige pogings en ander operasies, is die aktiewe deelname en teenwoordigheid van stadsraadslede tydens ’n strategiese inligtingsessie voor die operasie.

DA-raadslede Adriana Randall, Anru Meyer en Freddie Pienaar het hierdie belangrike sessie bygewoon.

“Ons het gevoel ons moet die uitnodiging opneem en het daarom tyd gemaak om die paar uur saam met die polisie se bestuurspan voor die operasie se uitvoering te spandeer. Die span het bestaan uit al die belangrikste rolspelers in die metropolisie, die polisie sowel as staatsdepartmente soos binnelandse sake en sosiale dienste,” sê Randall.

Sy glo die raadslede se teenwoordigheid dui op ’n belangrike skuif na beter samewerking tussen wetstoepassers en gemeenskapsleiers.

Operasie Shanela word landswyd beskou as ’n gestruktureerde en intensiewe poging deur die polisie om ernstige en gewelddadige misdade hok te slaan.

Volgens Marinda Austin, polisiewoordvoerder in Villieria, word hierdie Shanela-operasies en die uitvoering daarvan volgens ’n allesomvattende strategie gedoen wat padblokkades, klopjagte, soek-en-deursoek-aksies, en die opsporing van gesoekte verdagtes insluit.

Austin verduidelik: “Die operasie is ’n intensiewe polisiestrategie wat daarop gemik is om ernstige en gewelddadige misdaad te verminder. Dit verhoog sigbaarheid, skep ’n afskrik-effek, en help ons om gevaarlike kriminele van die strate te verwyder”.

In totaal is 249 persone in hegtenis geneem vir verskeie misdade, insluitend 84 vir geslagsgebaseerde geweld, agt vir moord en vier vir verkragting.

Daarbenewens is 44 ongedokumenteerde buitelanders aangehou, 21 mense is vasgetrek vir bestuur onder die invloed van alkohol, en daar is ingrypende ondersoeke by drankwinkels en tweedehandse goederehandelaars uitgevoer.

Austin meen die omvang van hierdie optrede toon duidelik die vasberadenheid van die polisie om met daadkrag teen misdaad op te tree.

Volgens Austin speel die verhoogde teenwoordigheid van die polisie ’n sleutelrol in die sukses van Operasie Shanela: “Dit help ons om gemeenskappe te beveilig, vertroue te bou en orde te herstel in areas wat swaar deur geweldmisdaad geraak is. Dit wys aan die publiek dat die polisie aktief is, en dat daar opgetree word.”

Die uitvoering van die Villeria en Silverton-operasie in die groter Operasie Shanela het nie net oor inhegtenisnames gegaan nie, maar ook oor samewerking, insig en betrokkenheid.

Volgens Randall is daar groot waarde in sulke vooraf-sessies waar gemeenskapsleiers eerstehands inligting ontvang en direk met sleutelrolspelers kan kommunikeer.

Sy beklemtoon: “Alle rolspelers moet betrokke raak. Die polisie kan nie alleen hierdie oorweldigende golf van misdaad in ons areas hanteer nie”.

Sy verwys na die toenemende apatie in gemeenskappe waar mense nie meer misdade aanmeld nie omdat hulle voel dit help nie.

“Maar tog, daardie saak wat oopgemaak word, al is dit net vir die saaknommer, wys vir die polisie tendense. Dit wys patrone. Dit wys waar diefstalle plaasvind. Dit kan dalk dwelmverwant wees of dalk kleiner goedjies wat gesteel word om ’n gewoonte te voed, maar deur die statistiek daarrondom kan navorsing gedoen word.”

Randall se perspektief werp lig op ’n kernprobleem: gemeenskappe wat hul geloof in die stelsel en dalk ook polisiëring verloor het.

Haar boodskap aan die publiek is duidelik: “Ken jou polisiestasie se nommer. Hou jou sekuriteitsmaatskappy op hoogte. Moenie waardevolle goed in jou motor los nie. En belangrikste van alles, rapporteer misdaad. Selfs al voel dit onbeduidend, dit help die polisie om patrone te identifiseer, en dit kan die verskil maak tussen ’n oplossing en ’n tragedie.”

Sy moedig mense aan om nie moed op te gee nie, en eerder die krag van inligting te benut.

“Die polisie het ook weer gesê informante is goud werd. Ons moet hul name en nommers opvolg as inligting ons ore bereik en aangee aan die polisie. Jy sal uiteindelik nie weet wat geloofwaardig is en wat nie, maar laat die polisie besluit.”

Verder beklemtoon sy die belangrikheid van gemeenskapsbetrokkenheid en paraatheid: “As jy verby ’n situasie ry en dit voel nie reg nie, bel jou gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) en jou sektorvoorsitter. Lig jouself in. Weet in watter sektor van jou polisiestasie jy val. Doen moeite en raak deel.”

Majoor-Generaal Samuel Thine, die distriks-kommissaris van Tshwane, het sy dankbaarheid na die sessie uitgespreek teenoor alle rolspelers. Hy benadruk dat die sukses van die operasie slegs moontlik was danksy die samewerking tussen die SAPD, ander regeringsdepartemente en die gemeenskap self.

“Operasie Shanela dien dus as ’n kragtige herinnering dat effektiewe misdaadbekamping nie slegs by die polisie lê nie, maar by ’n geïntegreerde benadering waarin elke burger, raadslid, en gemeenskapsorganisasie ’n aktiewe rol speel,” sê Thine.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button