Local news

Staptog word aangepak om lewens teen hondsdolheid te red

Die Pelgrim van Hoop-staptog en die Carlie Rooivlag Hondsdolheid Bewusmakingprojek herinner almal aan die belangrikheid om nie net jou eie diere teen die siekte te ent nie, maar ook om ander te help, veral diegene wat nie die hulp kan bekostig nie.

Vier vriendinne van die Moot, Belinda Viljoen, Welna Dreyer, Charmaigne Cillie en Werna Venter, het ’n moedige besluit geneem om in September ’n 141km-lange staptog, die Pelgrim van Hoop, aan te pak.

Die doel is om fondse in te samel om entstof teen hondsdolheid te betaal en bewusmaking oor hierdie dodelike virus te verhoog rondom die Internasionale Hondsdolheiddag wat jaarliks op 28 September herdenk word.

Die staptog vind van 24 tot 30 September plaas, onder die aanvoer van Werna Venter, stigter van die Carlie-Rooivlag Hondsdolheid Bewusmakingprojek.

Werna Venter en Charmaigne Cillie is twee van die stappers wat die staptog vir fondsinsameling gaan aanpak. Venter en Cillie werk gereeld saam rondom projekte soos by die Bieliemieliefees om ook inligting rondom die bekamping van hondsdolheid te versprei. Foto: Carlie Rooivlag Hondsdolheid Bewusmakingsprojek

Die inspirasie vir hierdie veldtog kom uit Venter se hartseer persoonlike verhaal.

Nege jaar gelede het ’n familielifd van Venter, die sesjarige Carlie du Plessis van Clocolan op tragiese wyse aan hondsdolheid gesterf. Carlie was ’n lewenslustige plaaskind. Op ’n Sondag in Julie 2016 is sy met simptome wat soos griep gelyk het, in ’n hospitaal in Bloemfontein opgeneem maar sy is nog op dieselfde dag oorlede.

Aanvanklik was daar geen duidelike diagnose nie. Drie dae later het breintoetse die hondsdolheidvirus bevestig, ’n siekte wat reeds ’n tyd lank in haar liggaam was maar eers veel later haar brein bereik het.

Venter is diep geraak deur die verlies en het besluit om die emosionele pyn rondom die verlies in hoop en aksie om te sit.

Die Carlie Rooivlag Hondsdolheid Bewusmakingsprojek deel inligtingsmateriaal uit met meer inligting oor hoe om die siekte te voorkom en te bekamp. Foto: Facebook/Carlie Rooivlag Hondsdolheid Bewusmakingsprojek

Saam met Carlie se gesin het sy die Rooivlag Hondsdolheid Bewusmakingprojek gestig.

Die veldtog het ten doel om mense bewus te maak van die gevare van hondsdolheid, die noodsaaklikheid van inentings vir troeteldiere te beklemtoon en entstof vir kwesbare gemeenskappe te verskaf.

“Haar dood mag nie verniet wees nie,” sê Venter. “Ons wil die gemeenskap leer om verantwoordelik te wees, hul diere in te ent en sodoende lewens te red.”

Die bewusmakingsprojek het oor die jare al groot impak gemaak: meer as 1 400 inentings is reeds versprei, veral in informele nedersettings, op plase en by mense wat nie die koste van veeartse kan bekostig nie.

Venter noem dat elke inenting sowat R20 kos, maar dat selfs die kleinste donasie ’n verskil kan maak.

“Elke hond en kat wat ons kan beskerm teen hierdie virus, is ’n oorwinning,” sê sy.

Die vier vriendinne van die Moot het die oproep van Venter ernstig opgeneem en besef dat hulle met hul staptog nie net fondse kan insamel nie, maar ook ’n sterk boodskap aan die gemeenskap kan stuur.

Hondsdolheid is ’n virus wat hoofsaaklik deur die byt van ’n besmette hond of ander diere versprei word. Dit kan ook deur die speeksel van ’n besmette dier oorgedra word as dit in in ’n oop wond kom.

Dit raak die senuweestelsel en is by die eerste simptome, soos koors en hoofpyn, moeilik om te herken. Sonder vinnige en korrekte behandeling is die siekte noodlottig.

Carlie Rooivlag Hondsdolheid Bewusmakingprojek bandjies word verkoop om fondse in te samel. Foto: Facebook/ Carlie Rooivlag Projek

Volgens die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (NICD) bly hondsdolheid ’n ernstige gesondheidsbedreiging in Suid-Afrika, veral in die provinsies Limpopo, Oos-Kaap en KwaZulu-Natal.

’n Studie oor die epidemiologiese tendense van dierbyte en menslike hondsdolheidgevalle in Limpopo tussen 2011 en 2023 het getoon dat daar 98 743 dierbyte was met ’n gemiddelde geval van 131 per 100 000 mense. Tydens die studie is 32 menslike hondsdolheidgevalle bevestig, hoofsaaklik by kinders tussen 0 en 9 jaar. Hondsdolheid is meestal deur honde oorgedra, en al die bevestigde gevalle was noodlottig omdat die pasiënte nie die volle post-eksposisieprofylakse (PEP) ontvang het nie.

Hierdie data glo die navorsers beklemtoon die dringende behoefte aan beter openbare gesondheidsprogramme. Dit sluit in effektiewe opleiding oor PEP, beter bestuur van entstofvoorrade en ’n geïntegreerde “One Health”-benadering wat data van dierbyte en menslike gevalle kombineer om beter beheermaatreëls toe te pas.

Vier vriendinne van die Moot stap 141km in September om fondse in te samel om inentings aan te koop vir diere-eienaars wat nie inentings teen hondsdolheid kan bekostig nie. Foto: Facebook:

Venter se projek fokus op bewusmaking, inentings en die bevordering van verantwoordelikheid onder hond- en kat-eienaars.

“Dit is nie net ’n verantwoordelikheid volgens wet vir kat- en honde-eienaars nie, maar ’n lewensbelangrike verantwoordelikheid,” sê Venter. “Ent jou diere. Dit is ’n eenvoudige daad wat lewens kan red.”

Die vriendinne se staptog van Uniondale tot Heimersrivier van 24 tot 30 September is ’n baken van hoop en ’n oproep tot aksie.

Die geld wat ingesamel word, sal gebruik word om inentings te koop en aan behoeftiges te versprei. Hierdie entings gaan nie net diere beskerm nie, maar ook mense, veral kinders in kwesbare gemeenskappe.

Venter sê: “Hoop beteken vir my dat ek die beste doen wat ek kan, selfs al lyk dit soms of niemand luister nie. Elke hond en kat wat beskerm word, is ’n oorwinning. Ons kan nie moed verloor nie.”

Die projek het reeds ’n impak gemaak met verskeie bewusmakingsdae by sportbyeenkomste waar meer as 300 kinders betrokke was. Daar word veterinêre praatjies gehou, pamflette versprei en waar moontlik gratis entings gegee.

Venter glo dit is ’n gesamentlike verantwoordelikheid om Suid-Afrika ‘hondsdolvry’ te maak teen 2030.

“Kom help ons om ’n verskil te maak,” sê die vriendinne. “Elke rand kan ’n lewe red.”

Vir meer inligting oor hoe stappers per kilometer geborg kan word, WhatsApp Werna by 072 105 2924. Inbetalingsbesonderhede is op die Facebookblad, Carlie Rooivlag Hondsdolheid Bewusmaking, beskikbaar.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button