Local sportSport

Blou Bulle Rugbytrust se rugbyfees bring hordes legendes bymekaar

Die Blou Bulle Rugbytrust (BBRT) se jaarlikse rugbyfees, het weer gewemel van sport legendes uit verskillende sportkodes, terwyl die oud Bulls losvoorspeler en Ierse toetsspeler, CJ Stander, ’n verfrissende perspektief op die skolerugby stelsel in Suid-Afrika gegee het in sy rede as gasspreker.

Suid-Afrika se grooste lewende rugbylegende en speler van die 20st eeu, nóg Springbokrugby legendes uit verskeie eras, Bloubul ikone, superster atlete, vier Comrades marathon wenners, krieket pesoonlikhede en ‘n Suid-Afrikaanse bokslegende almal onder een dak.

Om die kersie op die koek te plaas, tree ’n Ierse rugbylegende wat ook vir die Britse Leeus uitgedraf het op as gasspreker vir al hierdie sportsterre en ander gaste.

Die legendarise sportfotograaf, Wessel Oosthuizen (middel) het sy jongste boek met rugbyfoto’s bekengestel tydens verlede week se rugbyfees van die Blou Bulle Rugbytrust. Hier is hy saam met Frik du Preez (links) en Willem Strauss, president van die Bloubul Rugby-unie.
Foto: Koos Venter

Dít is die voorreg wat gaste gehad het om te beleef tydens die Blou Bulle Rugbytrust (BBRT) se jaarlikse rugbyfees, wat verlede week in Centurion aangebied is. Dié fees is een van die trust se fondsinsamelingsprojekte, waarmee geld ingesamel word om oud Bloubul rugbyspelers in nood met mediese uitgawes by te staan.

Om vir ’n middag lank in die geselskap van sportlegendes soos Frik du Preez, Thys Lourens, Danie Gerber, Carel du Plessis, Rob Louw, Adri Geldenhuys, Adolf Malan, Wynand Claassen, Gert Potgieter, Myrtle Bothma, Nick Bester, Charné Bosman, George Kusche, Frances van Blerk, Kallie Knoetze, Alan Jordaan en verskeie ander te kan kuier, moet ’n voorreg wees vir enige sportliefhebber.

Nie baie rugby-ondersteuners weet dat die beroemde Springbok atleet en voormalige wêreldrekord houer in die 400m hekkies, Gert Potgieter (links) ook vir twee seisoen in 1956/57 vir die Noord-Transvaalse rugbyspan op senter uitgedraf het nie. Hier teken hy ‘n geblokte foto van een van sy drieë in die ligbou trui, wat deel is van Wessel Oosthuizen se versameling in sy nuwe boek.
Foto: Koos Venter

Die meeste oorlewende lede van die Noord-Transvaalse rugbyspan van 1976, wat die All Black toerspan van Andy Leslie daardie jaar geklop het, was ook teenwoordig by die fees. Dié manne het die funksie deel gemaak van hul 40ste reünie-naweek, wat saamgeval het die Bulls se wedstryd teen vanjaar se All Black toerspan.

Geen wonder dus dat dié rugbymakietie jaarliks ernstige versamelaars en handtekeningjagters lok nie. Gaste het die geleentheid gehad om al hierdie helde van die verlede – en die hede – te ontmoet, hul handtekeninge te vra en ‘selfies’ saam met hulle te neem.

In hul jonger dae was hierdie twee Springbok slotte die hart van die Bloubul enjinkamer, wat tussen 1987 en 1989 drie agtereenvolgende Curriebeker titels gewen het, toe dié beker nog Suid-Afrika se mees gesogte rugbytrofee was. Die “combo” van Adolf Malan (links) en Adri Geldenhuys (regs) is een van die beroemdstes uit die Ligbloues se veelbesproke “slotfabriek”, met Malan as lynstaankoning en Geldenhuys die “enforcer” wat oraloor gevrees is toe dié titel nog meer beteken het as handsak-swaai en gesigte trek vir die teenstanders…    
Foto: Koos Venter

Tussendeur is daar geluister na die grappe van die seremoniemeester, die bekende skrywer Blouwillem Theron, terwyl daar ook gesmul kon word aan heerlike kos wat deur professionele spyseniers voorberei is.

Die gasspreker by vanjaar se rugbyfees was die voormalige Junior Springbok kaptein, Bulls losvoorspeler en Ierse rugbylegende, CJ Stander.

Hierdie gewilde rugbypersoonlikheid het ’n oorsig gegee oor sy loopbaan en hoe hy in Ierland beland het, nadat hy destyds die geleentheid gekry het toe die Bulls bestuur hom wou laat instem om as losvoorspeler na haker te skuif terwyl hy vir ’n nuwe kontrak by Loftus Versfeld moes onderhandel.

Joos le Roux, (regs) Noord-Transvaal se losskakel tydens hul beroemde oorwining oor die All Blacks van 1976, en sy vrou, Elsabé, by verlede week se Blou Bulle Rugbytrust (BBRT) rugbyfees.
Foto: Koos Venter

Hy het ook skreeusnaakse staaljies vertel van sy eerste weke in Ierland en hoe sy gebrekkige Engels as Boerseun uit die Suid-Kaap van hom die slagoffer van ’n paar misverstande gemaak het.

Stander, wat deesdae by die Hoër Jongenskool Paarl, beter bekend as Paarl Boys’ High School, met afrigting help, het ook oor Suid-Afrikaanse skolerugby gesels. Volgens hom is dit ’n feit dat geen ander land die enorme rugby voedingsbron van Suid-Afrikaanse skole kan oortref nie, maar hy het ook gewaarsku dat daar gewaak moet word om nie talent verlore te laat gaan weens te veel druk nie.

Voormalige Junior Springbok kaptein en Ierse losvoorspeler, CJ Stander, (links) en Springbok kaptein, Wynand Claassen.
Foto: Koos Venter

Volgens Stander is behoorlike mentorskap in die Suid-Afirkaanse skolerugby sisteem van groot belang om wanpersepsies te verhoed en om seuns te oortuig om hulself ook vir ’n lewe weg van rugby voor te berei.

Stander het afgesluit deur te voorspel dat Suid-Afrika moeilik gestuit gaan word op pad na ’n derde agtereenvolgende wêreldbeker titel. Volgens hom kan geen ander land behalwe Nieu-Seeland met Suid-Afrika meeding wat spelers-diepte betref nie.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button